Padoorstekers en verskilmakers

Wie word nie geruk deur brandende universiteitskampusse en betogende studente nie. Woede, sinnelose geweld, bevreesde ouers wat hulle kinders uit koshuise kom haal…
Hoe diep is die Evangelie ingemessel in my?
Op sosiale media soos Facebook en Twitter loop gemoedere hoog. “Veg terug!” skree baie. “Vlug!” sê ander. “Bid!” roep die meeste gelowiges uit. Terwyl ek op televisie gesien het hoe twee kampusse waar ek klasgee aan flarde geruk word, het ek opnuut gewonder wat staan ’n gelowige in ’n tye soos hierdie te doen? En terwyl ek my eie emosies hieroor ondersoek, wonder ek hoe diep die Evangelie van Christus regtig in my eie hart ingemessel is.
Wat het Christus gedoen, en wat doen ek?
Wat nou gemaak, noudat ons teruggedruk word tot by ons heel basiese behoefte aan oorlewing en veiligheid? Ons hou daarvan om armbandjies te dra wat vra: “What would Jesus do?” Maar ons ken tog die antwoord hierop, want ons weet vanuit die Bybel “What Jesus did!” Miskien is ons net te bang om dit te erken, want dan moet ons dit ook doen.
Dalk is ons nie veel anders nie as diegene oor wie die bekende Deense Christen-filosoof, Søren Kierkegaard, (1813-1855) geskryf het: “The matter is quite simple. The Bible is very easy to understand. But we Christians are a bunch of scheming swindlers. We pretend to be unable to understand it because we know very well that the minute we understand, we are obliged to act accordingly.”
Ons is die biddende weermag van die Hemel
Die Bybel is glashelder daaroor dat navolgers van Jesus Sy voltydse getuies, Sy sout en lig in die wêreld is. Ons is die reukweerders, die vredemakers, die biddende weermag van die Hemel wie se “wapens” bekers koue water en genesende woorde en dade is.
Ons is geroep om lig en hoop te weerkaats, ook nou dat die land plek-plek brand. Ons het nie die “luukse” om vanuit ’n “veilige afstand” alles te aanskou en soos die priester en die Leviet in die gelykenis van die jammerhartige Samaritaan kopskuddend oorkant die pad verby te stap nie. Ons is pad-oorstekers en verskilmakers.
“Moenie bang wees nie, dit is Ek!”
Ons mag eerstens nie toelaat dat oorlewings-emosies, soos vrees en woede ons lewens nou oorheers nie. Dit pas nie by navolgers van Jesus nie. Telkens, soos nou weer, roep Christus ons toe: “Moenie bang wees nie; dit is Ek!” Jesus is in ons midde. Hy loop steeds bo-op die stormwaters. Daarom is dit ons roeping om ons harte te bewaar sodat ons nie, soos baie ander rondom ons, deur rou emosies aangedryf word nie. Anders gaan ons hoop en geloof soos mis voor die son verdwyn.
Medewerkers van God
Tweedens moet ons pro-aktiewe vredepraters wees. Waar gemoedere hoog loop, moet ons mense kalmeer met die liefde van Christus. Reik uit na ander. Praat sommer ook met die mense daar by die kasregister in die winkels, of met die petroljoggies, maar praat hooptaal. Wees ’n medewerker van God om sy vrederyk hier op aarde te laat wen.
Vredemakers en brugbouers
Derdens moet ons vredemakers wees soos Jesus van ons verwag in Matteus 5. Steek die pad oor na mense van ander tale en kulture. Wees aktiewe brugbouers op die pad na versoening. Kyk woedendes, wat net wil brand en seermaak, ’n slag in die oë, maar doen dit met ’n beker koue water in die hand. Doen goed in Jesus se Naam. Onthou die kragtige woord van die Here in 1 Petrus 2:15 dat dit die wil van God is, dat ons deur goed te doen, ’n einde bring aan die kwaad wat gepleeg word deur mense sonder insig.
Om te ly wanneer ons goed doen…
Om te ly terwyl ons goed doen, is genade van God (1 Pet 2:20-21). Juis hiervoor is ons geroep, volgens Petrus. Jesus het vir ons gely en vir ons hierin die voorbeeld gestel. Petrus gaan trouens so ver om lyding ter wille van die Evangelie, direk aan die wil van God te verbind. In
1 Petrus 3:14-18 hoor ons dat dit beter is om te ly wanneer ons goed doen en binne God se wil is, as wanneer ons oortree.
Is ons bereid om te ly?
Dalk is dit nou die tyd vir lydingsklere. Dalk is die groot toets vir ons geloof in hierdie dae of ons bereid sal wees om, binne die gevaarsones van die lewe as deel van God se wil, vanaf veiligheid na diensbaarheid te verskuif. Is ons regtig bereid om saam met Jesus lyding te verduur sodat ander gered kan word en die vrede van Christus kan seëvier?
________________________________________
PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org


Laat jy toe dat vrees nesmaak

Die algemeenste vraag op almal se lippe is deesdae sekerlik: “Is daar ’n toekoms in Suid-Afrika?” Elke Suid-Afrikaner, ongeag ras of geloof, voel dieselfde. Gaan dinge ooit weer herstel in hierdie land van “melk en heuning”?
Wat is jou toekomsverwagting?
In hierdie onseker tye waar ons meer as ooit bewus is van die daaglikse bombardering met negatiewe media-inligting, wat stadig maar seker beslis ’n uitwerking op die pu-bliek se denkwyse en toekomsverwagting het, ervaar ons dat die opsies vir ons kinders stadig maar seker al hoe minder word.
Suid-Afrika, die land waarop elke jong mens trots was, die land waar ons ons kinders ’n erfenis en nalatenskap wil agterlaat, word meteens ’n vaal woestyn, waar elke inwoner deesdae op oorlewing fokus en daar eerder na oorsese lande gekyk word om jou kleinkinders ’n “veilige” toekoms te waarborg.
Is daar ’n toekoms in die land?
My antwoord: Ja! Die rede daarvoor, omdat niks vir God onmoontlik is nie. Ek glo in die land se mense, en baie persepsies en negatiewe gesprekke is besig om die beloofde land in ’n woestyn te verander.
Op hulle knieë voor God
Ek het op die platteland grootgeword waar my ouers sendelinge was. Daar het ek te doen gekry met ander kultuurgroepe, met hulle eie wêreldbeskouings en gewoontes. Daar het ek ook die mees opregte, toegewyde kinders van God aangetref – arm mense wat met dankbaarheid daagliks vir skoene en brood gebid het. Mense wat op hulle knieë God ge-smeek het vir geregtigheid en regverdigheid in die land. God het hulle gebede gehoor en aan hulle vryheid en vrede gegee.
Waar het die droom skeefgeloop?
Ons land is daarna deur die wêreld geloof en geprys as die toonbeeld van sukses en dat God met Suid-Afrika se wonderwerk die “onmoontlike” kan doen; skielik het die kinders in ons land weer gedroom van ’n toekoms in die reënboognasie! Waar het die reënboog-droom dan skeefgeloop?
My ouers het my geleer dat alles geestelik is en dat God ’n plan met Sy kinders het, maar dat die mens se keuses sy eie ondergang kan wees. As jy God langs die pad vergeet, gaan jou pad sonder God steil en klipperig word. Jy gee satan dan die wettige reg om jou van al God se beloftes oor jou te beroof; die uiteinde van jou keuses sal jou lewe droewig maak.
God kan nie lieg nie; Hy verbind tot Sy Woord. Hy het nét goeie planne vir al Sy kinders wat Hom met oorgawe en in waarheid dien (Jer 29:11). Telkemale sien ons in Sy Woord dat wanneer Sy kinders ongehoorsaam is, dit ly tot die mens se eie ondergang. Ons is dus die produk van ons eie keuses.
Waar begin jou keuses?
Dit begin by jou gedagtes, dit wat jy dink. Jou gedagtes is jou eie vleeswêreld wat om jou sweef en soos ’n mot om ’n kers heeltyd om jou draai. My ma het altyd gesê: “Jy kan nie help dat ’n voël oor jou kop verbyvlieg nie, maar jy kan verseker keer dat hy nie op jou kop nesmaak nie!”
Wat het in ons koppe kom nesmaak?
Rassisme? Haatspraak? ’n Oog vir ’n oog? Ongeregtigheid? Moord? Dit begin altyd by ’n voël wat wil kom nesmaak…ons laat toe dat hierdie gedagtes deur sosiale gesprekke, vrees en ongeloof in ons denke bring, wat dan ons vrede en blydskap steel!
Die Woord leer ons dat vrees nie ’n “gawe” van die Vader is nie, trouens, 2 Timoteus 1:7 leer ons dat “God ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing”.
Krag, liefde en selfbeheersing
Ons is dus in die Gees voorsien van hierdie gawes: krag, liefde en selfbeheersing. Met ander woorde, ons het krág; ons het liéfde; ons is voorsien van sélfbeheersing!
As ons dan hierdie eienskappe besit, waarom laat ons toe dat braaivleisgesprekke en Facebook-uitlatings op ons koppe nesmaak? ’n Voël wat nesmaak, wil eiers uitbroei en kleintjies grootmaak!
Wat bepaal ons toekoms?
Ons toekoms word nie in parlementsgeboue en deur politici bepaal nie, ons toekoms word deur ons binnekamergebede bepaal. Dit is daar waar God ons in ons opregtheid raaksien en ons gebede verhoor.
Afhanklikheid van God
God het Dawid gesien, waar hy as kind die skape opgepas het en dikwels sy afhanklikheid daar aan God verklaar het. God het Dawid se opregtheid raakgesien en sy profeet Samuel na Dawid se ouerhuis gestuur om hom te beloon en te bevorder vir die afhanklikheid wat hy op sy eie voor God geopenbaar het!
Dawid het die man na God se hart geword, omdat hy nie toegelaat het dat voëls in sy hare nesmaak nie. Hy het as skaapwagter in sy totale afhanklikheid God se vermoëns en krag leer ken. Daarom kon God hom gebruik om Israel van ’n Goliat te verlos wat Sy volk wou vernietig, nadat die Israeliese weermag lam van vrees was omdat hulle toegelaat het dat voëls van ongeloof in hulle koppe kom nesmaak het. Vrees lei tot gedagtes dat God nie oor die vermoë beskik om in te gryp in ’n situasie nie.
Geloof in aksie
Ek glo dat dit God groot plesier verskaf wanneer ons soos sy geliefde Dawid outoriteit neem, en in die naam van die Here die magtige Goliat verslaan! God wag dat ons beweeg. Om te beweeg in Sy naam, is geloof in aksie. Dit gaan dan oor Hom, dit is Hy wat die oorwinning en eer sal kry, want Hy is teen ongeregtigheid.
Ek glo dat God besig is om vir ons ’n tafel voor ons teenstanders voor te berei. Hy wag net om te sien wie die moed en durf sal hê om hierdie geveg in Sy naam te verklaar, en die res gaan geskiedenis wees. Is daar ’n toekoms in Suid-Afrika?
Ja, verseker! Want Jesus het klaar die oorwinning op die Kruis behaal. Dit is volbring… vir jou en vir my.
Viva Suid-Afrika, Viva Jesus Christus!
________________________________________
DAWIE SPIES Stigter van Manne van die Woord, spreker en mentor. Vir meer inligting kontak Dawie by dawie.spies@gmail.com of besoek www.mannevandiewoord.com


Christenskap in die werksplek

Steve Rautenbach, vir baie jare lank een van Suid-Afrika se beste atletiek-afrigters, is onlangs oorlede. Een van sy bekendste atlete, voormalige Springbok-middelafstandatleet, Johan Fourie, skryf in ’n huldeblyk op sy Facebook-blad dat die belangrikste les wat hy by “oom Steve” geleer het, is dat daar meer in die lewe is as net atletiek.
Dieselfde geld vir ‘n mens se be-roep. Die balans tussen ons lewe en werk trek dikwels erg skeef na die werk se kant toe.
Oorvol lewens
Bryan Dyson, voormalige HUB van Coca Cola, het eenmaal gesê: “Imagine life is a game in which you are juggling some five balls in the air. They are work, family, health, friends and Spirit and you’re keeping all of these in the air. You will soon understand that work is a rubber ball. If you drop it, it will bounce back. But the other four balls – family, health, friends and Spirit – are made of glass. If you drop one of these; they will be irrevocably scuffed, marked, nicked, damaged or even shattered. It will never be the same. You must understand that and strive for it.”
Ons lei dikwels oorvol lewens. Wanneer ons jonk is en ons loopbaankeuse uitoefen, is geld dikwels die vernaamste oorweging. In die hedendaagse samelewing word sukses gemeet in terme van die finansiële: volgens die “regte” adres, voertuig en ander materiële maatstawwe.
Wat is werklik belangrik?
Steven Covey beskryf ’n tipiese situasie in sy boek First Things First, “My lewe is so gejaagd! Ek hardloop heeldag – vergaderings, telefoonoproepe, papierwerk, afsprake. Ek druk myself tot die uiterste toe, val dood-moeg in die bed, net om môreoggend op te staan vir ’n soortgelyke dag. My uitset is hoog, ek kry baie gedoen, maar soms kry ek hier diep binne ’n gevoel van “Hoekom?” Wat doen ek wat regtig saak maak? Ek moet erken, ek weet nie.”
In die gejaagdheid na méér word ’n mens soms tot stilstand geruk deur die een of
ander traumatiese gebeurtenis. Dalk verloor iemand sy of haar werk, dalk beland jou huwelik op die rotse, dalk word jy met ’n ernstige siekte gediagnoseer, dalk moet jy ’n groot operasie ondergaan, dalk het jy ’n kind of ’n lewensmaat aan die dood afgestaan en ewe skielik lyk dit wat jy jou lewe lank nagejaag het, so onbelangrik.
Verander jou uitkyk
In ons beroep is ons gewoonlik so gefokus op die detail van die werk (linkerbrein) wat gedoen moet word, dat ons die groter prentjie van ons lewens (regterbrein) miskyk. ’n Traumatiese gebeurtenis ruk ’n mens as’t ware uit jou linkerbreindenke (werk, werk, werk) na ’n regterbreinprentjie waar jy jou lewe as ’n groter geheel in oënskou neem en dan beskou jy jou beroep vanuit ’n heeltemal ander perspektief.
Ek praat onlangs met ’n sakeman wat sy kinders in ’n ongeluk verloor het. Hy sê sy hele uitkyk op die lewe, besigheid en geld het ná die ongeluk heeltemal verander. So ’n verskuiwing in jou lewensuitkyk is gewoonlik ’n keerpunt (‘tipping point’) in jou lewe. Jy besef skielik dat verhoudings meer saak maak as enigiets anders.
‘n Rustiger dag kom nooit
Die een ding waaroor die meeste mense later jare spyt is, is dat hulle te besig was toe hul kinders klein was. Ons almal glo dat daar ’n dag sal kom wanneer dinge by die werk rustiger sal raak. Rob Parsons stel dit in The Heart of Success onomwonde dat ’n rustiger dag nie kom nie.
Steven Covey vra dan tereg die vraag: “Hoeveel mense sê op hul sterfbed hulle wens hulle het meer tyd by die werk deurgebring?” Hoekom is dit nodig dat ons dikwels eers deur ’n keerpunt wakker geskud moet word om te besef wat werklik belangrik is in die lewe?
Wat sê die Woord?
God se siening van ons gejaagde en oorvol lewe lyk radikaal anders.
• Jesus sê in Matteus 6:33: “…beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
• Dawid, die man na God se hart, sê in Psalm 37:3-5: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
• Ook Paulus skryf in 1Tessalonisense 4:11-12: “Laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het.”
Die sakeman wat sy kinders in ’n ongeluk verloor het, vertel dat hy opnuut moes besin oor sy bestaansdoel en of hy nog met sy besigheid moes voortgaan. Hy het ervaar dat die Here wou hê hy moet voortgaan en Sy koninkryk dien. Hy sê hy het toe die onderneming aan die Here toegewy en daarna het dit begin groei tot ’n besigheid wat tans landwyd takke het. Deesdae ruim hy en sy vrou tyd in vir sendinguitreike, geestelike kampe en is op vele terreine by die Here se werk betrokke. Dieselfde mens, maar ’n ander visie, ’n Koninkryksvisie.
________________________________________
David Malherbe Besigheids- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Kontak hom by info@jedidiah.org.za of besoek www.jedidiah.org.za