
Hoewel Iran se opmars na ’n kernbom ’n hewige meningsverskil tussen die Withuis en die Amerikaanse kongres veroorsaak het, het Iran se opmars na konvensionele oorheersing van die Arabiese wêreld grootliks ongemerk geskied. Dit was die geval in Washington, maar die Arabiere het daarvan kennis geneem. Die pro-Amerikaanse Arabiere, spesifiek die Arabiere in die
Golflande, is diep bekommerd.
Waarom moet ons besorgd wees?
Vroeër vanjaar het Houthi-rebelle wat deur Iran gerugsteun word, beheer geneem van die Jemenitiese regering, wat tot dusver pro-Amerikaans was. In September verlede jaar het hulle die hoofstad, Sanaa, ingeneem. Onlangs het hulle die presidensiële paleis in besit geneem en die president later gedwing om te bedank.
Die Houthi’s het godsdienstige griewe
omdat hulle Sjiïete in ’n hoofsaaklik Soenni-land is. Hulle is egter ook agente van Sjiïtiese Iran wat die rebelle bewapen, oplei en raad gee. Hulle slagspreuk – ‘God is groot. Die dood vir Amerika. Die dood vir Israel kon maar in Persies geskryf gewees het.
Waarom moet ons besorgd wees oor die staatsgreep? Eerstens omdat ons (as gematigde Westerlinge) op Jemen se regering staatmaak om ons robotvliegtuigoorlog teen ’n ander bedreiging, al-Kaïda in die Arabiese Skiereiland (AQAP), te ondersteun. Dit is nie eers duidelik of ons ons Amerikaanse ambassade in Jemen kan behou nie, wat nog te sê maneuvers teen AQAP uitvoer. Tweedens, omdat die toenemende Iranse hegemonie ’n dodelike bedreiging vir ons bondgenote en belange in die Midde-Ooste is.
Iran se mag in Sirië
In Sirië is Iran se mag soortgelyk aan die toeneem. Die Moslemleiers het die wankelende regime van Bashar Al-Assad gered deur wa-pens, geld en Iranse rewolusionêre wagte in te stuur, asook deur hulle Libanese eweknie, Hisbolla, te beveel om by die stryd aan te sluit. Hulle het in hulle doelwit geslaag. Die gematigde rebelle is ontwrig, terwyl Assad de facto saam met die Islamitiese Staat bestaan, wat ’n groot deel van sy land beheer.
Iran skep ‘n front teen Israel
Iran se Siriese oorheersing is verder toegelig deur ’n eienaardige voorval in die Golanhoogland. ’n Israelse helikopter het ’n aanval op ’n konvooi aan die Siriese kant van die wapenstilstandslyn geloods. Diegene wat gesneuwel het, was egter nie Siriërs nie, maar vyf Hisbolla-vegters, insluitend ’n bri-gadier-generaal. Wat het hulle in die Siriese Golanhoogland gesoek? Volgens die Iranse regering wass hulle besig om “noodsaaklike raad” te gee. Waaroor? Drie dae tevore het die leier van Hisbolla gedreig om Galilea in Israel aan te val.
Dit blyk dat Tehran sy beheer oor Sirië en Hisbolla gebruik om sy eie front teen Israel te skep. Die Israeli’s kan hulle teen enige konvensionele aanval verweer. Die uiters ryk, maar militêr swak Arabiese Golflande, daarenteen, kan nie. Aan die noorde- en die westekant sien hulle hoe Iran besig is om ’n satelliet-‘Sjiïtiese sekelmaan’ te skep wat tot aan die Mediterreense See strek, bestaande uit Irak, Sirië en Libanon. Aan hulle suide- en westekant sien hulle hoe Iran volmag oor Jemen kry – en hulle word in die knyptang vasgevang.
Amerika berus by nuwe realiteit
Die Saoedi’s veg terug op die enigste manier tot hulle beskikking – met massiewe olie-produksie juis wanneer daar ’n ooraanbod en tuimelende oliepryse is, wat geweldige ekonomiese druk op Iran plaas. Die land benodig $136 (R1 500) per vat vir sy begro-ting. Die prys is ten tyde van die ter perse gaan onder $50 (R580) per vat.
Tog blyk dit asof die Obama-administrasie gereed is om te berus by die nuwe realiteit van Iran se oorheersing in Sirië. Die administrasie het die New York Times meegedeel dat dit die verklaarde doelwit om Assad te verwyder, wesenlik laat vaar.
Golflande in titaniese stryd
Vir die Saoedi’s en die ander Golfland-Arabiere is dit ’n nagmerrie. Hulle is in ’n titaniese stryd met Iran om hulle streek gewikkel. En hulle is besig om te verloor – hulle is besig om Jemen, Libanon, en Sirië te verloor en aanskou hoe Irak ná die Amerikaanse onttrekking toenemende deur Iran oorheers word.
Die nagmerrie kan vererger word deur Iran wat toegelaat word om voort te gaan met kernbewapening. Die Saoedi’s is reeds stomgeslaan dat Washington agter hulle rug geheime onderhandelinge met Tehran gevoer het. En hulle kan sien waarheen die huidige samespreking neig – die wettiging van Iran as ’n drempelkernstaat.
Dit maak dit des te meer onverstaanbaar waarom Obama sanksies, wat in werking sal tree as Iran nie instem om sy kernprogram te laat vaar nie en wat die Amerikaanse onderhandelingsposisie sal versterk, so verbete
opponeer. Per slot van sake was dit wat Obama die kongres laat verstaan het toe hy hierdie laaste poging tot onderhandeling begin het.
Wat is Amerika se rol?
[Die voor die handliggende vraag is dan – waarom praat Obama Tehran na en ignoreer hy willens en wetens Israel se dringende waarskuwings oor Iran?] Waarom steun Amerika Iran se aanspraak dat verligting van sanksies die nuwe norm is?
Obama het die Amerikaners verseker dat verligting van sanksies ’n tydelike toege-wing is om ter elfder ure onderhandelinge ’n kans te gee. Twee keer het die spertyd gekom en gegaan en geen nuwe sanksies is ingestel nie, net onvoorwaardelike verlenging van onderhandelinge.
[Westerse streeks-] bondgenote – Saoedi-Arabië, die vyf ander Golflande, Jordanië, Egipte en Israel – is diep bekommerd. Tehran is sigbaar aan die opmars in die land en openlik besig om kernkragstatus te bekom. En hulle een groot bondgenoot, hulle strategiese anker vir twee generasies lank, aanvaar beide gelate.