Christi Panagio: Geanker en Geborge in Hom

Christi Panagiotopoulos – vandag een van Suid-Afrika se gunsteling-voorbladnooi-ens asook lieflingvrou van die ewe bekende TV-aanbieder en akteur, Nico Panagiotopoulos. Christi het veral bekendheid verwerf as Karien in die SABC 2 sepie – 7de Laan, maar dit was net die begin. Met haar besondere skoonheid word sy deesdae ook gereeld gebruik as internasionale model en TV-aanbieder. Dit is veral haar ongelooflike liefde om te skep asook haar borrelende, kreatiewe sy, wat gelei het tot die totstandkoming van haar nuwe besigheid “Little Miss Decorator” waar sy troues, interessante partyjies, binnehuis-versiering, ens. reël.

Uit Christi straal daar vreugde, lewe en sonskyn – elemente wat elke mens aantrek om haar beter te leer ken. Sy is vol humor en lewenslus, soms selfs n ‘drama-queen’, maar begin jy met haar gesels, kom jy gou agter dat hierdie positiewe ‘lig’ in haar, geanker is in haar verhouding met Christus. Sy en haar man, Nico, is beide toegewyde Christene met ‘n innerlike vreugde en oortui¬ging van wie hulle in Jesus is.

Daarom het Christi na hul troue besluit dat dit nie goed vir albei sou wees om gedurig in die kalklig te wees nie – een sou bietjie moes terugstaan om balans te handhaaf. Dit was nie moeilik vir haar om daardie persoon te wees nie; sy weet waar haar sekuriteit vandaan kom! Nico en Christi het die ware sin van die lewe vroeg in hul verhouding ontdek, ongeag die glanswêreld waarin hul hulself bevind het. ‘n Glanswereld wat soms maar gebroke, vlak en materialisties kan wees. JUIG! het met Christi na haar terugkoms van ‘n modesessie in Duitsland gaan gesels.

JY EN NICO KEN MEKAAR REEDS 10 JAAR. OP WATTER STADIUM IN JULLE LEWE HET JUL JESUS AS JULLE PERSOONLIKE SALIGMAKER AANGENEEM?
Ons het albei in huise met God en Christelike waardes grootgeword, maar het ook albei as jongmense self en bewustelik die besluit gemaak om Jesus aan te neem. Dit was vir ons belangrik om as volwassenes ‘n doelbewuste besluit te maak om Jesus as Redder te aanvaar.

VANDAT JULLE AMPER 5 JAAR GELEDE GETROUD IS, HET JULLE VERHOUDING MET JESUS ENIGSINS ‘N VERDIEPING ONDERGAAN?
Absoluut! Ek dink ‘n mens se verhouding met Jesus ondergaan voortdurende verdieping – totdat jy die dag hemel toe gaan! Die lewe is n geestelike reis en mens kan nooit genoeg kennis hê en genoeg lewenslesse leer nie.

BAIE MENSE BELEEF PARTYKEER ERGE SITUASIES EN VOEL, AS DIT NIE VIR JESUS WAS NIE, SOU HUL DIT NOOIT OORLEEF HET NIE. WAS DAAR AL OOIT TYE IN JOU LEWE WAARIN JY OOK HIERDIE BELEWENIS GEHAD HET?
Die moderne lewe waarin ons ons bevind, kan soms baie uitdagend wees en daar gebeur daagliks dinge wat ’n mens kan onderkry. Die wonderlike ding van ‘n verhouding met God is dat Hy jou altyd sal laat rustig voel. Jy moet net stil raak en vra. Nadat Nico se ma oorlede is, het sommige mense vir hom gevra hoe hy steeds in God kan glo. Dis egter as gevolg van God dat hy dit daardeur kon maak…

IN WATTER MATE DINK JY, KAN JY EN NICO JULLE CHRISTENSKAP UITLEEF IN DIE GLANSWÊRELD WAARIN JULLE JULSELF BEVIND?
Mense is al so seergemaak deur godsdiens en kerke dat dit soms oorweldigend vir ‘n ongelowige kan wees as jy skielik oor God begin praat – iets wat ons nie verstaan nie, want ons ken Jesus al ons hele lewe en weet hoe liefdevol Hy is. Die beste manier in ‘n bedryf soos hierdie (waar mense baie verskillende sienswyses het), is om te probeer om mense deur jou innerlike vreugde en liefde te laat wonder wat dit is wat jou so gelukkig maak. Om ‘n goeie voorbeeld te (probeer) wees. En te bid dat hulle harte teenoor Jesus versag en as hulle jou dan begin vra, beter jy regstaan!

WAT SOU JY SÊ IS DIE GROOTSTE REDE DAT SOVEEL GLANSPAARTJIES SE HUWELIKE OP DIE ROTSE BELAND?
Ek dink soveel mense se huwelike beland op die rotse. Ons weet net van die glanspaartjies omdat hulle in die kollig leef. Mense respekteer nie meer die huwelik en waarvoor dit staan nie. Ek dink dis uiters belangrik dat paartjies voor hulle trou, seker maak dat dit die regte besluit is en seker maak dat hulle huwelik deur God geseën is. Jy kan eenvoudig nét gelukkig wees as God jou huwelik seën. Ek en Nico weet vir ‘n feit dat die grootste deel van ons wonderlike huwelik aan God se seën op ons huwelik toegeskryf kan word.

WAT, DINK JY, IS DIE GROOTSTE BYDRAENDE FAKTOR TOT JUL GELUKKIGE HUWELIK?
God se seën! En dan natuurlik die ander gedeelte wat ons verantwoordelikheid is! Dis vir ons belangrik om ‘nice’ met mekaar te wees (soos wat ‘n mens is as jy net ontmoet het), om saam te lag, om saam laf te wees, om saam te bid, om mekaar te respekteer, om onsself te respekteer, om nie vir (te) lank vas te sit nie, om nie kwaad te gaan slaap nie, om mekaar se voete te vryf, om kinderlik en onvoorwaardelik lief te hê… Weet een ding: ‘n gelukkige huwelik en ware liefde vat werk, maar dis die beste ding waarvoor ek nog ooit gewerk het!

IS JULLE UITGESPROKE T.O.V. JULLE GELOOF AS MENSE VAN JULLE VERSKIL? SAL JULLE MINDER GEWILD WEES DEUR OP TE STAAN VIR BYBELSE BEGINSELS?
Ons het dit definitief al in ons lewens ervaar. Dit is egter so belangrik (en ons probeer elke dag, dis nie maklik nie) om nie vol opinies en standpunte te wees nie. Nico sê altyd mens moet nooit self praat nie, maar net praat as Jesus iets het om te sê.

Soms help dit baie meer om te luister en iemand nie te veroordeel nie – dis nie ons plek nie. Dis wel ons ‘werk’ om met liefde vir mense van ons ervarings te vertel. En dis hoekom dit so belangrik is om seker te maak dat jy soveel moontlik kennis van die Bybel het, sodat jy jou feite agtermekaar het as die situasies opduik.

HOE SIEN JY DIE ROL VAN VANDAG SE VROU TEENOOR HAAR MAN, VERAL WANNEER DIT KOM BY DIE ONDERDA¬NIGE VROU?
Ek het geen probleem daarmee nie! Miskien is dit omdat ek reeds my ‘selfsugtige’ tyd net vir myself gehad het en dat ek myself nou volkome as vrou en ma kan gee. Ek glo absoluut dat ‘n vrou en ma die atmosfeer van die huis bepaal. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid, maar so ‘n belangrike een!

Ek glo ook dat die man die hoof van die huis is – dis seker dan net belangrik dat jy self van jou hoof hou sodat jy na hom wil luis¬ter! My man maak gelukkig (meestal) sin; dus het ek glad nie ‘n probleem om na hom te luister nie! (En nou is ek weer terug by my punt dat jy en God saam moet seker maak dis die man vir jou – dit skakel later soveel probleme uit!)

IS DIT VIR JULLE BELANGRIK DAT JUL DIREKTE VRIENDEKRING OOK TOEGE¬WYDE CHRISTENE MOET WEES?
Dit is vir ons uiters belangrik om vriende te hê met wie ons diep, spirituele, inspi-rerende gesprekke kan hê. Dis belangrik omdat ‘n mens voortdurend by ander kan leer. En ons is baie bevoorreg om baie sulke mense in ons lewens te hê. Maar ons het ook vriende wat nie noodwendig dieselfde geloof as ons het nie. ‘n Mens kan altyd net probeer om uit liefde op te tree. Vir elke liewe mens wat oor jou pad kom, is daar vir ‘n rede.

BY WATTER GEMEENTE IS JULLE BETROKKE EN WAT BETEKEN SEL- OF OMGEEGROEPIES VIR JULLE?
In Johannesburg was ons by Rivers Kerk in Sandton. Ons was baie erg oor die kerk en pastoor. Hier in die Kaap besoek ons graag Common Ground kerk in Rondebosch met sy heerlike, humoristiese atmosfeer. Maar dis ons stiltetyd saam soggens, en ons albei se weeklikse omgeegroepies wat geestelik vir ons die meeste beteken.

Nico is by die ‘Firestarters’- ‘n groep mans wat bymekaar kom (en daar is nogal n hele klomp Grieke, opa!), en ons ‘girls’ het elke Dinsdag aand n ‘AA’ ontmoeting. Moenie bekommerd wees nie – ons ‘AA’ staan vir ‘Almighty Addicts’! Ons doen tans die ‘Vintage Jesus’-reeks en dis ongelooflik insiggewend. Dis so ‘n wonderlike ervaring om saam te gesels en saam te bid. Ons ken mekaar en mekaar se gebedslysies en wanneer God een van ons gebede beantwoord, kan ons almal saam daaroor bly wees!

JULLE HET ALBEI ONLANGS DIE DOOP VAN DIE GELOWIGE AFGELÊ. WAT BETEKEN DIT VIR JULLE EN WAT HET JUL¬LE OORTUIG OM DIT TE DOEN?
Ons wou dit al so lankal doen, maar dit was vir my belangrik om dit in ‘n omgewing te doen waar dit net oor ons en Jesus gaan. Ons het dus gewag vir die regte omstandighede. Die ‘Firestarters’ het ‘n doop vir ‘n paar van hulle lede gereël en dit was die perfekte geleent¬heid: baie spesiaal en baie intiem. En dis net nóg ‘n stap nader aan God in die soektog na ‘n beter, dieper verhouding met Hom.

WAT IS JOU GUNSTELING-CHRISTEN-BOEK/E?
Ek is mal oor Francine Rivers se boeke. Redeeming Love is my gusteling. Ek en Nico lees op die oomblik ‘Unlocking the Bible’ deur David Pawson, wat die Bybel so mooi verduidelik en baie vrae wat ons het, beantwoord. Dan geniet ek ook enige Angus Buchan & Joyce Meyer dagstukke en ek luis¬ter graag na haar en ‘Journey Franklin’ se cd’s wanneer ek in die motor ry…

WAT WAS JOU GROOTSTE GEESTELIKE ONDERVINDING TOT OP HEDE?
Ek ervaar ons huwelik as my grootste geestelike ondervinding. Ek wens ek kan vir mense verduidelik hoe ongelooflik spesiaal God se seën op jou huwelik kán wees. Ek en Nico kan nie ons liefde verduidelik nie, dis totaal en al bonatuurlik en ons ervaar dit soos die Bybel daarvan praat. Dis nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat ons Hom gevra het om ons te seën met ‘n onver¬klaarbare liefde. En Hy het ons letterlik één gemaak voor Hom.

WAT DINK JY IS DIE GROOTSTE LEUEN WAT MENSE IN DIE VERMAAKLIKHEIDSWÊRELD UITLEEF EN GLO?
Ons almal in die vermaaklikheidswêreld loop die risiko om tydelik te vergeet waar¬oor die lewe eintlik gaan en in ons eie wêrelde vasgevang te word. Dis so ‘n moeilike bedryf: hoe jy lyk en watter handsak jy het, speel so ‘n groot rol. ‘n Mens kan baie vinnig ingesluk word en self daarmee behep raak. Ons maak ook die fout om onsself te definieer deur ander mense se opinies van ons (en glo my, almal het ‘n opinie oor jou as jy in die openbare oog is). Ons is almal net mense en kan so vinnig sekuriteit verloor, omdat dit soms so ‘n ondankbare beroep kan wees. Hulle bou jou op om jou af te breek. ‘n Mens moet baie hard daaraan werk om jou voete vas op die grond en jou oë op God (en die werklike belangrike dinge in die ou lewe) te hou.

NOEM EEN DING WAT MIN MENSE VAN JOU WEET!
Ek kan lekker (vr)eet! Ek en Nico kan vreeslik lekker smul aan pizza en sjokolade en tjips en moet onsself lettelik soms forseer om gesonder te eet!

WAT IS JULLE KERSWENSE VIR ‘N HONGER EN GEBROKE WÊRELD DAARBUITE?
Ons bid dat mense die waarheid sal glo en beleef. My siel kry soms so seer as ek sien hoe lelik mense kan raak. Ons bid dat mense die liefde van Jesus ervaar en dat dit hulle so sal ruk dat hulle net vir mekaar sal wil glimlag en liefde en eerlikheid en opregt¬heid en integriteit teenoor mekaar sal toon! Geseënde Kersfees en ‘God bless’!