Die bose gees-wêreld is ‘n werklikheid of ons dit nou wil weet of nie. C. S Lewis het eenkeer geskryf: “Daar is twee gelyke, maar opponerende fla¬ters wat ons geslag aangaande die bestaan van demone kan begaan. Die eerste is om ongelowig te wees rondom hul bestaan. Die ander flater is om ‘n oordrewe en ongesonde belangstelling in hul te hê”. (Lewis: 1960). Ten spyte van hierdie waarskuwing vind ons heelwat mense wat juis dít doen. Wat sê die Bybel daaroor?
Bybel word dikwels gereduseer
Vir ons as Christene is die Bybel die finale woord wat dit betref – aangesien dit ons primêre bron van inligting rakende die boosheid in hierdie wêreld is. Die Bybel is die enigste geïnspireerde skrif bekend wat die oorsprong en teenwoordigheid van die bose deeglik en akkuraat verduidelik. Dit is waar die probleem lê.
Daar is sommige in Christen-kringe wat graag lae van Bybelse openbaring daar wil stel (soos ‘n kanon binne ‘n kanon) veral as dit kom by ‘n saak soos dié. Sekere gedeeltes word gereduseer tot mite of bygeloof en ander as betroubare kernwaarhede ooreenkomstig wat aanvaarbaar sal wees vir die kultuur van die tyd. Die hui¬dige kultuur sal dan bepaal wat aanvaarbare waarheid sal wees, al dan nie – sê hulle. Afhangende van die populêre mening in die veranderende kultuur, kan God aanvaarbaar wees, maar die duiwel en sy demone definitief nie. Daar blyk vir hulle geen probleem te wees met konsekwentheid in terme van hierdie benadering tot die Skrif nie. Hulle wat sê dat ons samelewing Kersvader, die tandmuis en demone ontgroei het, kan op een of ander manier saamleef met die gedagte dat God wel daar is. “Hoe so? Op grond waarvan?”, sou ons kon vra. Sekerlik sal die tyd ook aanbreek dat ons dit ook sal ontgroei, soos sommige reeds gedoen het. Dan sal daar nóg ‘n laag interpretasie-betroubaarheid tot die Bybel toegevoeg word. Die Evangeliese Christen aanvaar die Bybel as geheel as die hele waarheid, soos geopenbaar deur die Heer aan sy volk. Die gedeelte, “Die hele Skrif is deur God geïnspireer… om in die waarheid te onderrig” 2 Tim 3:16 (NAV), be¬vestig duidelik die gesag van die Skrif.
Feitelike waarhede
In hierdie lig openbaar die Bybel as feitelike waarheid geleenthede waar Jesus met die bose geeste afgereken het, as werklike en reële historiese gebeure is en nie eenvoudig net iets wat opgedis is om ‘n kultuur te akkommodeer wat nog in dié soort van ding ‘geglo’ het nie. Christene weet ook dat Bybelse waarhede nie gebaseer is op die een¬voudige lees van enkele bewystekste nie, maar gevind word in die teologie verkry uit die bedoeling van die héle Skrif. Vind ons dan ‘n plek vir demone binne die raamwerk van ‘n Byblese teologie? Bybelse teo¬logie gee duidelike verantwoording vir die bestaan van boosheid deur dit toe te skryf aan die doen en late van die duiwel en sy trawante, die demone, reeds van die begin af (Gen 3:1-3). Dit help nie om boosheid eenvoudig te herlei na ‘n blote abstrakte filoso¬fiese idee of indruk nie, omdat abstrakte konsepte nie fisiese lyding veroorsaak nie. Dit werk eenvoudig nie so nie.
Koms van die Koninkryk
Een van die sleutelsake rondom die koms van Christus na hierdie wêreld was inderdaad die koms van die Koninkryk van God. Johannes die Doper het die weg voorberei met die prediking, “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” Matt 3:1,2 (NAV). Met Jesus se koms, het die Koninkryk gekom. Hy het gesê: “Aangesien Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, het die Koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom”. Matt 12:28 NAV. Jesus het die verslaan van die demone gekoppel aan die koms van die Koninkryk.
Hy stuur die 12 dissipels uit met die opdrag: “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom’. Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit.” Matt 10:7,8 (NAV). Nouliks kan daar ‘n helderder prentjie van die heerskappy van God wees, wat deurbreek in hierdie werklikheid, as wanneer die mag van die bose oor ‘n mens gebreek word. Dit sal ‘n aanduiding wees van die heerskappy van Christus wat in heerlikheid oor die gebroke mensdom gevestig word.
Ryk word vernietig
Egte Bybelse teologie vereis dat ons verstaan dat die Here Jesus gekom het om die Koningkryk van God op aarde te vestig. Verlossing uit die greep van die bose. Die uitdryf van demone vorm deel van die verskynsel van tekens wat aandui dat daardie Koninkryk opgerig is. Weinig kan groter heerlikheid aan God gee as wanneer die Koninkryk deurbreek in hierdie werklikheid deurdat iemand bevry is van demoniese gebondenheid.
Daar staan in 1 Joh 5:19: “…dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.” (NAV) maar as die een wat sterker is, kom, sal hy die sterk man aanval en hom oorwin. (Luk 11:22). Jesus is die een na wie hier verwys word as die ‘een wat sterker is’ wat die sterk man (die duiwel) sal ver¬slaan. Siekte, leiding, pyn en demoniese gebondenheid is alles tekens van die ryk van die sterk man, die bose. Daardie ryk word vernietig wanneer iemand genees of bevry word. In so ‘n geval het die Koninkryk sigbaar gekom.
Kernelement van Christelike geloof
Die koms van die Koninkryk is waaroor alles gaan. Deur die ontkenning van die bestaan van demone, word ‘n kernelement in die breëre teologiese raamwerk van die Christelike geloof verwyder, wat so helder en duidelik volle betekenis gee aan die koms van Jesus na hierdie wêreld. “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” 1 Joh 3:8 (NAV).
Demoniese gebondenheid is, volgens die Skrif, bewys van die bose se heerskappy oor die mens. Die breek van daardie gebondenheid demonstreer op ‘n werklike wyse die vestiging van God se ryk oor elke ding, soos wat verwag was: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan die Here en Sy Gesalfde, en Hy sal as Konning heers…” Openb 11:15 (NAV).
Met hul poging om ‘n wêreldbeskouing daar te stel wat weier om die realiteit van die demoniese werklikheid daarby in te sluit, het sekere geleerdes in werklikheid fundamentele aspekte van kern Christelike waarhede verander – iets wat eenvoudig net nie eerlik of aanvaarbaar is nie.
Die waarheid is dat alle Christene in hul verlede geestelik dood was toe hul “gelewe het soos hierdie sondige wereld en (hul) laat lei deur die vors van die onsigbare bose magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.” Ef 2:1,2 (NAV). Dis waarom die Here Jesus sy dissipels geleer het om te bid: “…verlos ons van die Bose.” Matt 6:13 (OAV). As die demone dan nie ‘n werklikheid is nie, maak dit hier¬die gebed sinneloos, nie waar nie? Sou dit dan nie die Here Jesus bestempel as ‘n bedrieër nie? Hoe verstaan ons dan 1 Pet 5:8 wat sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (OAV). Soek wie hy kan verslind?
Werklike bedreiging
Oor die algemeen is die meeste Christene bewus van die baie werklike bedreiging wat die demone vir hul inhou, ook in 2011. So werklik soos afgodery en afgeleide praktyke soos spiritisme, fortuinvertellery, astrologie en divinasie (waarsêery), so gevaarlik werklik is die risiko rondom demoniese beïn¬vloe¬ding as gevolg van blootstelling daaraan, volgens Paulus se waarskuwing: “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens… Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.” 1 Kor 10:14-20 (OAV). Die Here het die dien van ander gode verbied om ons te beskerm.
Welbekend is die gedeelte: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Ef 6:12 (OAV). Selfs in die boek Handelinge vind ons ‘n insident waar Paulus ‘n waarsêende gees uit ‘n meisie moes dryf wat deur haar hanteerders vir geldelike gewin misbruik is. (Hand 16:16). Die terrein waarop hulle beweeg, is wyd verspreid. Selfs die voor¬werpe wat gebruik word in die afgodsdiens, sal probleme veroorsaak. Dit is waarom God se woord verklaar: “Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die Here jou God ‘n gruwel. En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.” Deut 7:25,26 (OAV).
Oorwinning oor die bose
Die gebruik van die woord ‘φαρμακεια’ pharmakeia (Grieks: vertaal as “towery” in Gal 5:20 en Openb 9:21) impliseer dat kruiebehandeling vir medisinale doeleindes die mens ook blootstel aan demoniese beïnvloeding en gevolglik gebondenheid, aangesien dit voormalig deur die tradi¬sionele geneesheer en animistiese priesters binne die wêreld van die demoniese geeste beoefen is.
Die Bybel leer ons duidelik, nie net by wyse van enkele tekste hier en daar nie, maar deur die geheel van sy teologie: die werklikheid van die demone staan sentraal in die boodskap van Christus se oorwinning oor die magte van die duisternis en die oprigting van Sy koninkryk hier en nou.