
Ons, as Kerk is gesamentlik die opdrag gegee om die armes, weduwees, wese, vaderloses, onaan¬treklikes en ongeliefdes te versorg. Ons behoort die verantwoordelikheid te aanvaar en die Heilige Gees toe te laat om ons harte te roer sodat ons hierdie as ‘n saak van erns sal beskou. Jesus het oral waar Hy gegaan het, met deernis opgetree. Elke Christen wat bid om soos Christus te word, behoort presies dieselfde te doen. Ons behoort nooit die desperates, hongeriges en armes se pleidooie op dowe ore te laat val nie.
Ons gegewe opdrag is om nie op te hou om goed te doen indien dit binne ons vermoë is nie. “Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen. Moenie vir iemand sê: ‘Gaan nou weg en kom môre weer, dan sal ek jou help,’ terwyl jy dit nou al kon gedoen het nie.” Spr 3: 27-28.
ONKUNDE DIE OORSAAK
Ek besef dat onkunde en gebrek aan leierskap dikwels bydraende faktore tot ons gebrek aan dade is. Dit is só maklik om jou hande in die lug te gooi en moedeloos te raak. As jy egter werklik oortuig en toegewy is, sal jy verantwoordelikheid aanvaar om iets aan ‘n saak te doen.
Verandering begin reeds by jou gebed, om die waarheid te sê, by die lees van hierdie artikel. Vra dat God jou die wysheid sal gee om die armoede in jou onmiddellike omgewing te hanteer en om jou spesifieke opdragte te gee om uit te voer. Ek moedig jou aan om met ‘n pen en papier gereed te wees en elke idee waaraan jy dan in dié verband dink, neer te skryf. Ek noem langs¬aan ‘n paar wat moontlik ook vir jou tot hulp sal wees, maar voeg asseblief ook die by wat God op jou hart druk.
GERIEFLIKE VERSKONING
Moet tog nie in die strik trap om jou onbetrokkenheid te probeer verdedig met: “my kerk het ‘n barmhartigheidsdiens en hulle help ‘n sekere groep” nie. Indien jy nie persoonlik betrokke is nie, behoort jy God te vra om jou te gebruik. Hy wil nie net sommiges gebruik nie – Hy wil almal gebruik. Almal kán op een of ander manier betrokke raak: sommige deur ‘te gee’ en ander deur bediening en dienslewering.
Ons moet ook nie altyd wag dat die predikante en pastore die leiding neem nie. Hulle rol is om ons aan te moedig om soos Jesus te word. Hulle is daar om die Woord van God te verkondig en om ons te leer om nou só te leef dat die ewigheid vir ons daardeur verander word; om ons te leer dat ons net aan God verantwoordelik is vir ons optrede of ons gebrek aan optrede. Natuurlik kan jou predikant of pastoor toesig hou oor dié bediening, maar hy is sekerlik nié die een wat die hele saak van die grond af moet kry en bestuur nie. Die kerklidmate behoort hier hul verantwoordelikheid te aanvaar.
ALMAL IS BRUIKBAAR
Almal het leierskapseienskappe en kan kragtig deur God gebruik word. Ons moet egter presies vasstel wat die behoeftes om ons is waar ons kan help. Nader jou predikant/pastoor met jou plan en vra hom vir voorbidding. Indien hy ernstig saam met jou bid, sal hy nie hoor dat God nie wil hê jy moet help nie. Geen kerkprogram is belangriker as desperate mense nie.
Elke bediening wat God eer, tree met deernis op en wil verlorenes red. Die ‘red’ behels nie bloot net red van hul omstandigehede, siekte, nood, fisiese dood nie, maar ook deur hulle te red van die ewige dood. Jesus het mense lief, Hy het vir mense gesterf en ons behoort daarna te streef om net soos Hy lief te hê. En dit kan ons deur diensbaarheid en toewyding doen om sodoende ‘n oplossing vir die probleem te help vind.
My hartsbegeerte is dat die Heilige Gees jou sal oortuig en motiveer om die volgende artikel van Prof. Lotter deur te lees, vas te stel hoe jy betrokke kan wees, met ‘n plan vorendag te kom, jou predikant of pastoor vir gebed te nader en dan ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Ek sien uit daarna om getuienisse in die verband te lees. Deel jou goeie idees met ons.