Corne & Justine Krige: ‘n Gesin Toegewy Aan Christus

Noem die naam ‘Captain Courageous’ aan enige rugbyspeler en hulle sal onmiddellik weet van wie jy praat. Is dit dan nie die flank wat elke rugbywedstryd van voor af gelei het en feitlik altyd bebloed en beseerd van die veld af gestap het nie? Cornelius Petrus Johannes Krige, beter bekend as Corné, het altesaam 39 toetse vir die Springbokke uitgedraf en was ook gedurende 2002 en 2003 die kaptein van die Springbokspan. Corné is baie beslis ook nie skaam om as leier vir Christus op te tree nie en JUIG! het by hom en sy gesin in Melkbosstrand aan die Kaapse Weskus gaan kuier.

Jy het as jong seun uit Zambië ‘n groot deel van jou grootwordjare in die Paarl in ‘n skoolkoshuis deurgebring. Mense sê jy is as leier gebore. Het die feit dat jou pa minder teenwoordig was in hierdie vormings¬jare, jou leierskap en karak¬ter beïnvloed?
Ek dink ‘n mens word met of sonder sekere leierseienskappe gebore en dit is reeds van jongs af sigbaar. Ek was op ‘n jong ouderdom baie stout. Ek is seker hulle wou kyk of ‘n leiersposisie my nie ietwat kan kalmeer nie. Ek dink dit het tog ‘n bietjie gehelp.

In 2002 het jy die ideaal van seker elke jong Suid-Afrikaanse seun bereik – jy is vir die Springbokspan gekies. Net voor die wedstryd het jy egter al die ligamente in jou knie geskeur. Hoe het jy dit verwerk?
Dit was vir my verskriklik moeilik om te verwerk en ek het baie met God daar¬oor ba-klei. Ek het eers baie later besef hoekom dit met my gebeur het en dat God altyd ‘n plan met jou het. Ek kon later vir jong manne soos Jean de Villiers help om soortgelyke beserings te verwerk.

Wat was die hoogtepunt in jou rugbyloopbaan van 12 jaar?
Ek was bevoorreg om in vier Curriebeker-eindstryde te speel waarvan ons drie gewen het. Die twee waarin ek in 2000 en 2001 kaptein was, was abso¬luut ‘great’. Die Wêreldbeker-toernooi van 2003 was vir my ook ‘n hoogtepunt; al het ons redelik vroeg uitgeval.

Daar is deesdae heelwat boeke van sportsterre op die winkelrakke te koop – Hershelle Gibbs s’n is die nuutste. Jy het in 2005 jou outobiografie ‘The Right Place at the Wrong Time’ gepu¬bliseer. Wat het jou gemotiveer om die boek te skryf?
Ek dink dis regtig iets groots om iets na te laat en om jou gevoelens oor sekere gebeure in jou loopbaan op skrif te sit. Terwyl ek Bok-kap¬tein was, kon ek nie my hart oor enigiets uitpraat nie – die boek was dus vir my ‘n manier om van die frustrasies wat ek gehad het, aan die publiek te verduidelik.

Wanneer het Jesus ‘n werklikheid in jou lewe geword en hoe kon jy dit in spanverband uitleef?
In 2002 het ek ‘n ongelooflike ervaring in die kerk gehad en God het my aan die keel gegryp. Ek het besef dat my lewe moes ver¬ander en dat ek ‘n persoonlike verhouding met Hom moes bou. In spankonteks het ek die meer stresvolle dinge aan Hom oorgegee en minder dinge self uit my eie krag probeer doen.

Julle familie is ‘n rukkie gelede deur die tragiese dood van jou swaer en skoonsuster se twee kindertjies geruk. Wat het jy en Justine uit hierdie hartseer insident geleer?
Ons het in die heel eerste plek geleer dat ons ten volle van God afhanklik is, maar dat ons nie noodwendig, net omdat ons Sy kinders is en vir Hom lief is en Hy vir ons, van enige tragedies of slegte dinge sal ontkom nie. In die moeilikste tye kan ‘n mens net aan één ding vashou: God sal jou dra en krag gee vir elke liewe dag. Ons weet dat Sy hart net so seer soos ons s’n is; al verstaan ons nie noodwendig hoekom so-iets moes gebeur het nie. Wat ons tog wel weet, is dat ons Kir¬sten en Phillip weer sal sien as ons Hom lief het en volgens Sy Wil lewe. En ons missie in die lewe is om hulle weer eendag te sien! Jou oë gaan absoluut oop as jy sien hoe baie mense rondom jou swaar kry of met wie iets soortgelyks gebeur het. Ons het ‘n wonderlike, en amper ongelooflike, ondersteuningsnetwerk. Ons familie is verskriklik naby aan mekaar en ons is altyd dáár vir mekaar. Ons ‘sweat’ nie meer die ‘small stuff’ in die lewe nie. Ons waardeer mekaar en is baie lief vir mekaar. Ons kan nooit genoeg vir mekaar bid en dankbaar wees vir ons kinders se liefde, gesondheid en beskerming nie. Ons kinders is net aan ons geleen en ons moet hulle na God se wense grootmaak.

Meer sportsterre bely deesdae hulle Christenskap openlik in die openbaar. Hoe voel jy daar¬oor?
Ek dink dis wonderlik, maar die dade moet op die woorde volg. Dit beteken niks as dit net woorde bly nie.

Justine, jy is nou al 10 jaar met Corné getroud. Wie is Corné weg van die veld en die ka¬me¬ras af?
Hy is ‘n wonderlike man vir my en ‘n wonderlike pa vir sy drie spruite. Hy is op sy gelukkigste by ons huis. Hy hou daarvan om na werk tyd met sy gesin te spandeer en hy en die kinders ‘surf’ gereeld in die middae na werk.

Soms lyk dit asof die vroue en meisies van sportsterre sulke glansryke lewens het; tog kan dit dikwels baie eensaam en stresvol wees. Daar is soveel kompetisie van die skoner geslag, ongeag ‘n speler se huwelikstatus. Justine, hoe het jy dit hanteer terwyl Corné WP- en Springbokkaptein was?
Sjoe, dit voel behoorlik soos ‘n leeftyd te¬rug. Dit was nooit lekker as hulle weg van die huis af was nie, maar vir my persoonlik was daar altyd net verlange. Ek en Corné het ‘n ongelooflike vertrouensverhouding – ook toe hy nog gespeel het. Ek is glad nie ‘n jaloerse mens nie – dit irriteer Corné soms, want hy wil hê ek moet darem bietjie jaloers wees.

Ek vertrou hom só volkome, want hy is ‘n verskriklike eerlike mens en God lewe in sy hart. Ek is nie naïef om te dink dat daar nie versoekings oor sy pad gekom het en nog sal kom nie, maar ek vertrou hom en bid dat hy altyd die regte ding sou en ook nog sal doen.

Wat, as Christen-vrou, is jou raad van¬dag aan die vrouens en meisies van professionele sportsterre?
Ek glo dat jy as vrou, seker moet wees van jouself. God het ons mos uniek geskape. Maak dit vir jou man lekker om huis toe te kom. Jou man wil beslis nie na ‘n ou kerm¬kous terugkom nie. Hy wil voel dat sy huis sy veilige oord is – vol liefde en weg van mense en die media af.

Wat is die belangrikste karaktereien¬skap¬pe wat julle, as ouers, in jul kinders se lewens wil vaslê?
‘n Liefde vir God, vir mekaar en ook vir hulle medemens; hulle moet andere respekteer en hulle moet goeie manie¬re hê – en dit is natuurlik harder werk as wat ons ooit gedink het.