Die Nuwe Stand Van Sake

In 2013 is bykans 18 000 mense in terreuraanvalle dood, ’n toename van 61% sedert 2012. Verlede jaar het die wêreld met afgryse ISIS se opgang en barbaarse taktiek aanskou; wêreldwyd het 17 891 mense aan die hand van lafhartige terroriste omgekom.
Vier terroristegroepe: die Islamitiese Staat, Al-Kaïda, die Taliban en Boko Haram was wêreldwyd verantwoordelik vir twee derdes van sulke sterftes. Die Australiese navorsingsgroep, Institute for Economics and Peace, berig in sy Global Terrorism Index (GTI) wat in Londen bekendgestel is, dat 80% sterftes as gevolg van terreuraanvalle in slegs vyf lande plaasgevind het: Afganistan, Irak, Nigerië, Pakistan en Sirië.

Toenemende geweld
Sedert die wisseling van die millennium het die aantal sterftes as gevolg van terreurdade vyfvoudig toegeneem; baie van die aanvalle gemotiveer deur politieke en djihadistiese agendas (hoewel die liberale media altyd traag is om te erken dat die meeste van hierdie dade deur Moslems gepleeg is).
Wêreldwyd, selfs in die Weste, was daar ’n skerp toename in die aantal terreuraanvalle, maar amper 50% van die aanvalle het geen lewens geëis nie, omdat dit deur die polisie gefnuik, of deur militêre personeel gestuit is. Sedert 2000 is die Taliban verantwoordelik vir die meeste terreursterftes, nl. 8 763, en kort op hulle hakke volg Al-Kaïda met 8 585 sterftes.

Godsdiensagenda
Die Islamitiese Staat (IS, voorheen bekend as ISIS/ISIL) en Boko Haram het al twee in 2009 meer aktief begin word en dit was die eerste jaar dat die groepe meer as 300 mense elk vermoor het. Gebaseer op data tot aan die einde van 2014, het hierdie twee ryk terreurgroepe binne vier jaar meer as 30 000 mense vermoor!
Terwyl die wêreld se aandag deur ISIS en hulle brutale en aanstootlike onthoofdings gekaap is, het Boko Haram ongehinderd in Nigerië onskuldiges vermoor, jong meisies ontvoer en Christene in Islamitiese slawerny en mensehandel gedwing.
“Daar is ongetwyfeld ’n toenemende probleem. Die oorsake is kompleks, maar die vier groepe wat verantwoordelik is vir die meeste van die sterftes, het almal hulle ontstaan in fundamentalistiese Islam,” merk die stigter van die Institue for Economic an Peace, Steve Killelea op. “ Hulle is veral ontstoke oor die uitbreiding van Westerse invloed. Dit bemoeilik veral po-
gings vir die mobilisasie van die samelewing, wat benodig word om hulle te stuit – dit kan hulle meer die harnas injaag,” het hy verduidelik.
Die verslag berig dat “die toename in terreurdade saamgeval het met die Amerikaanse besetting van Irak. Dit het ’n groot magsleemte in die land geskep wat verskillende faksies die geleentheid gegee het om hulle te vestig en gewelddadig te word.

Taktiek van die aanvallers
In Irak word bomaanvalle by voorkeur deur terroristegroepe gebruik. Hierdie taktiek is vir 87% van die sterftes, en 97% van die beserings verantwoordelik. Selfmoordaanvalle word ook steeds gebruik, met ’n baie groot verlies aan menselewens – ’n gemiddeld van sewe sterftes per selfmoordaanval. Sedert 2000 het selfmoordaanvalle tot 5% van terreursterf-tes gelei, en hierdie modus operandi is die gekose aanvalsmetode van die militante groep Hamas. Hierdie Palestynse terroriste-organisasie het 195 aanvalle geloods waarvan 24% selfmoordsendings was.
Volgens gegewens het 60% aanvalle plofstof behels, 20% vuurwapens en 10% ander dade soos brandstigting of aanvalle met motorvoertuie.
Nogtans gaan die Amerikaanse regering, en baie van die Verenigde Nasies se lede, voort om die feite te ignoreer en Hamas en die Palestynse owerheid te steun in hulle bod om as ’n staat erken te word (en sodoende, die Palestynse owerheid se uitdruklike doelwit om ‘Israel van die aarde te vee’). Soos die spreekwoord sê, niemand is so blind as wie nie wil sien nie.
grotte tot internetkafees
Sedert die burgeroorlog in 2011 in Sirië uitgebreek het, is daar ’n geweldige toename in terreurdade. Hoewel politieke konflik ’n groot katalisator vir die snelle toename in terreur in hierdie oorloggeteisterde lande is, het beide Sirië en Irak ’n godsdiensstryd tussen die Soenni- en Sjiïet- Moslems beleef, wat tot uitgebreide geweld aanleiding gegee het. Godsdiens as ideologiese dryfveer vir terrorisme het sedert 2000 dramaties toegeneem; voor 2000 was nasionale separatistiese agendas die grootste dryfveer van terroriste-organisasies.
Meer as 24 nasies is deur wydverspreide terreurdade geskud, insluitend Israel, Irak, Sirië, Jemen, Egipte, Turkye, Amerika, Frankryk, Libië, Spanje, Nigerië, Kenia, Oekraïne en Engeland. Niemand is immuun daarteen nie – terrorisme is nie meer ’n Midde-Oosterse probleem nie en het nou versprei vanuit die grotte van Afganistan na die internetkafees van Parys.

Waarom so gewild?
Daar is talle faktore wat die toenemende gewildheid van terroristegroeperings beïnvloed; daarom is dit moeilik om presies net een of twee aan te stip. As Christene weet ons dat daar bose magte aan die werk is en dat wetteloosheid en sonde in die eindtye hoogty sal vier.
Die botsing tussen Islamitiese ideologie en die beginsels van demokrasie, vrye spraak, godsdiensvryheid en vreedsame naasbestaan het die middelpunt van belangstelling geword. Selfs binne Islam woed daar ’n stryd tussen ‘gematigdes’ en ekstremiste’. Die godsdiens beleef sy eie interne krisis terwyl die wêreld toekyk…maar, jy kan nie help om te vra waarom die ‘gematigdes’ nie ’n besliste standpunt teen die terreurdade ingeneem het nie. Hoekom het imams geswyg? Wanneer ’n sekulêre Arabiese staat soos Turkye, wat deur ’n Islamitiese leier regeer word, pogings om terrorisme hok te slaan aktief teenstaan, kan jy nie help om te wonder wat die onderliggende grondslag van ‘gematigde’ oortuiging werklik is nie…

Wat is ’n terroris?
Hoe verklaar ons egter die talle Westerse tieners wat aan djihadistiese aanvalle deelneem? Verveelde, gemarginaliseerde jeug-diges met beperkte werksgeleenthede, wat uit gebroke gesinne kom, blyk wêreldwyd die teiken van terroriste te wees. Baie van diegene in die Weste wat terroriste simpatiek gesind is, gee voor dat hulle teen politieke hegemonie gekant is, maar dit is dikwels net ’n rookskerm – omdat geen terreurdaad ooit die geloofwaardigheid van ’n veldtog kan bekragtig of die geldigheid van ’n saak kan staaf nie.
As Christene erken ons die rol van die kerngesin waar die vader ’n teenwoordige en liefdevolle leier is – ’n teenwoordigheid wat dikwels in die gesinne van potensiële terro-riste ontbreek. Begrip van die morele konsepte van reg en verkeerd, is dikwels verwronge of afwesig by djihadiste en natuurlik hou die opwinding van mag, onoorwinlikheid en wetteloosheid deur dekades heen ’n universele aantrekkingskrag vir die jeug in.

Hoe reageer die wêreld?
Ten spyte van Amerika en die Weste wat biljoene dollars aan kontraterrorisme-operasies bestee, dui statistiek daarop dat militêre optrede slegs 7% terroristegroepe in bedwang gebring het. Die meerderheid terroristegroepe het ontbind deur by die politieke proses aan te sluit, of is onskadelik gestel deur aktiewe polisiëring en inligtingsagentskappe wat sleutellede in hegtenis geneem, of tereggestel het. Volgens ’n verslag van die GTI is slegs militêre mag selde verantwoordelik vir die beëindiging van ’n terroristegroep se bestaan.
Terroristegroepe neem toe met behulp van tegnologie en dit is interessant om te merk dat die taktiek vir kontraterrorisme kuberaanvalle insluit wat die sluit van terroriste se twitter- en facebook-rekeninge en die infiltrasie van djihad-sosiale netwerke met swendelskemas behels. Hoewel hierdie strategie sekerlik ’n rol kan speel in die afname van terrorisme, is die enigste blywende manier vir die beëindiging van die geweld ’n geestelike aanvalsplan.

Hoe moet ons reageer?
Verloste harte en gesuiwerde motiewe is die enigste onfeilbare manier om die toename in potensiële terroriste te stuit. Jy het ’n rol om te vervul in hierdie ‘oorlog teen terreur’. Jou oorlogswapens is geestelik: taktiese voortgesette gebed vir nasies en leiers is van kardinale be-lang. Herlewing onder die jeug en die gemarginaliseerdes is uiters noodsaaklik.
Ondersteun sendelinge en evangeliste wat in hierdie lande werksaam is; dra by tot hulle bediening sodat die Evangelie verkondig kan word en elke grot, kafee en rusbank kan bereik.
Die skepping wag vir die openbaarmaking van die kinders van God (Rom 8:19) – as gelowiges moet ons beheer neem! God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie (2 Tim 1:7); wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik (Lukas 18:27); Hy wat in ons is, is groter as hy wat in die wêreld is (1 Johannes 4:4). Praat hieroor met jou gemeente en maak gereelde gebed vir terroriste ’n prioriteit!
Saamgestel deur Jackie Georgiou