
Die Opstanding van Jesus Christus is die steunpilaar van ons geloof. Dit is die grootste gebeurtenis waarvan die wêreld ooit gehoor het en dit het die gang van die geskiedenis en die toekoms van die mensdom vir altyd verander.
Geen Christen twyfel daaraan dat die Heilige Gees, Jesus, volgens God se Wil en plan, uit die dood opgewek het tot redding van alle mense nie. Dit is ’n erkende historiese feit (Rom 8:11; 1 Kor 6:14; Hand 1:2).
Christus se Opstanding is ons waarborg, ons versekering dat daar wel lewe na die dood is. Ons dien Jesus nie vergeefs nie (1 Kor 15:19). Ons leef nie nét vir hierdie lewe alleen nie, maar met die heerlike hoop van die Ewige Lewe saam met Jesus (Heb 10:35-39). Voor sy dood het Paulus gepraat van die goeie stryd wat hy gestry het, van die wedloop wat hy voltooi het, asook die kroon van geregtigheid wat vir hom opsygesit is (2 Tim 4:7-8).
Paulus sê dié beloning is ook bestem vir almal wat hul Christelike lewe soos hy leef terwyl hulle op Jesus se koms wag. Ons leef dus met die hoop op ’n Ewige Lewe saam met Christus.
Die grondslag van alles
Watter geloof sou die eerste dissipels gehuldig het indien Christus nie uit die dood opgewek is nie? Om die waarheid te sê, na Sy dood het hulle as ’n ontmoedigde groep, sonder geloof, na hulle vorige beroepe teruggekeer; hulle het nie meer in Jesus se woorde geglo dat Hy na drie dae uit die dood opgewek sou word nie.
Dit was eers toe Hy in Galilea aan hulle verskyn, dat hulle die geloof gevind het om hulle lewens volkome aan die Koninkryk te wy. Sy Opstanding was die katalisator vir die nuwe geloof wat nodig was vir diegene wat geroep is om Hom te dien en hul lewens aan Hom toe te wy (1 Kor 15:14). Ons geloof in Christus – vir ons sondevergifnis; om te glo dat Hy ons na Sy Beeld kan verander; om Hom te kan dien namate Hy dit van ons verlang – dié geloof berus op die Opstanding.
Jesus leef tot in alle ewigheid en leef in ons deur die Heilige Gees en sorg vir ons as die Goeie Herder.
Sonde is oorwin
Sonder die Opstanding sou al die lyding en sonde wat Jesus gedra het, verniet wees (1 Kor 15:17). Die Bybel noem dat die dood Hom nie in die graf kon hou nie. Dit was Jesus se volmaakte, sondelose lewe wat dit vir God moontlik gemaak het om Hom uit die dood op te wek.
Ons kan hier op aarde ook oorwinning oor die sonde beleef, omdat satan en sonde reeds aan die Kruis oorwin is en die opstanding die bewys daarvan is. Ons oorwinning oor sonde word behaal wanneer ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg.
Ons opstanding saam met Hom word dan ’n werklikheid namate ons elke dag in hierdie nuwe lewe wandel (Rom 6:4).
Sy lewe in ons
Paulus het Jesus – die gekruisigde Jesus – verkondig. Hierdie Kruisboodskap het drie elemente ingesluit: Christus se lyde, Sy dood en Sy Opstanding.
Besef ons dat die Christelike lewens-wandel niks anders is as om met Hom in Sy lyde, sterwe en Opstanding te identifiseer nie? (Rom 6:3-6). Omdat ons tot niks goed uit onsself in staat is of het om aan te bied nie, behoort ons doel te wees om Hom met Sý lewenswandel te dien.
Ons het Sy lewe en Sy salwing nodig om Hom effektief te dien. Elke Christen behoort Sy lewenswandel na te streef. Ons kan nie tevrede wees om net soos ons is voor Hom te verskyn nie! Ons behoort voortdurend na Sy beeld te wíl verander en verander te word.
In dié wêreld leef ons eers en dan sterf ons. In die geesteswêreld moet ons egter éérs sterf voordat ons ’n opstandingslewe kan leef – Christus wat in ons leef, soos Paulus in Galasiërs 2:19,20 verduidelik: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” Sy lewe het altyd van sy totale identifisering met Christus gespreek.
Paulus het gedeel in Christus se lyding (Kol 1:24) en hy het Christene aangemoedig om dieselfde te doen (Fil 1:29). Hy was ook gewillig om homself te verloën en die dood in die gesig te staar deur God altyd toe te laat om hom in vele opsigte te ver-ander sodat Christus se lewe in sy fisieke liggaam sou manifesteer (2 Kor 4:8-12).
Neem jou kruis op
Christus se boodskap aan Sy dissipels om waardig geag te word om Hom te volg, was baie eenvoudig: ons moet onsself verloën en ons kruis opneem. Indien ons Hom in Gees wil dien, is dit die enigste manier. Ek is daarvan oortuig dat die boodskap van die Kruis weer ’n sentrale plek in ons prediking moet inneem, met die Kerk wat die lewe van Christus nastreef.
Daar is slegs één manier om hierdie opstandingslewe deelagtig te word en die Here te dien…ons moet ons eie lewens verloor sodat ons Sy lewe kan verwerf! “Want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.” Matt 16:25.