
Baie mense het deesdae die Wet en die Evangelie verkeerdom. Hulle dink dit is noodsaaklik om die Wet te gehoorsaam om Christene te word. As gevolg hiervan is hulle gefrustreerd deur mislukking, skande en skuld. Hulle verstaan nie waarom die Evangelie nie vir hulle werk nie. Hulle probleem is dat hulle die spreekwoordelike kar voor die perde inspan. Redding kom deur die Genade van God alleen en word slegs deur geloof ontvang. Ons onderhou nie die Wet om gered te word nie. Ons onderhou die Wet juis omdat ons gered is.
Wat is die verskil?
• Die Wet veroordeel, maar die Evangelie van Christus red
• Die Wet openbaar jou sonde, maar die Evangelie openbaar die Redder
• Die Wet maak ons skuldig, maar die Evangelie van Jesus Christus bied vergifnis
• Die Wet eis betaling, maar die Evangelie van Jesus Christus betaal ons skuld aan God
• Die Wet kan ons nie regverdig nie, die Wet kan nie red nie, die Wet kan nie heilig maak nie. Die Wet openbaar ons sonde, maar dit is slegs Jesus Christus wat ons van ons sonde vrykoop
• “As jy jou egter verdiep in God se volmaakte Wet – die wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die Wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen.” (Jak 1:25)
• Die Wet van die Here oortuig van sonde (Rom 7:7-11)
• Die Wet veroordeel oortredinge (Rom 4:15; Jak 2:10)
• Die Wet beperk die bose (1 Tim 1:8-11;
Ps 119:11)
• Die Wet dryf mense na Christus (Gal 3:24)
• Die Wet van God is die gids tot heiligma-king (Rom 8:4)
• Die Wet van God is die wese van die Nuwe Verbond. “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe Verbond met Israel en Juda sal sluit. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het My Verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet…Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (Jer 31:31-33)
• Die Tien Gebooie weerspieël die karakter van God. “Ek, die Here julle God, is heilig.” (Lev 19:2)
Diens en vreugde
Die mens is nie outonoom geskape nie – vry om te doen wat ons dink reg en goed is nie – maar teonoom, onderworpe aan die Wet van God. Dit is beslis nie moeilik nie juis omdat God ons só geskape het dat dankbare gehoorsaamheid ons die grootste vreugde sal bring. Diens en vreugde loop dus hand aan hand.
Koning Dawid het in die Psalms geskryf: “Laat my wandel volgens U gebooie, want dis waarin ek my vreugde vind.” (Ps 119:35). “Hoe lief het ek U gebooie! Ek oordink dit die hele dag…Ek haat besluitelose mense, maar U gebooie het ek lief.” (Ps 119:97, 113).
Liefde en die Wet
Die Apostel Paulus het geskryf: “Nietemin, die Wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed.” (Rom 7:12) en in Romeine 7:22 die volgende: “Ek verheug my immers in my diepste wese in die Wet van God.”
Die Apostel Johannes het geskryf: “Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en Sy opdragte uitvoer.” (1 Joh 5:2-4).
Die gevalle mens haat God se Wet in sy hart – omdat dit die Wet is, maar ook omdat dit van God kom. Diegene wat Christus egter ken en liefhet, het Sy Wet lief en wíl dit graag onderhou: uit dankbaarheid vir God se Genade en ook om God te behaag. God se kinders word ook in grade van gehoorsaamheid deur die Heilige Gees tot onderhouding van Sy Wet gelei soos nog nooit voorheen vir hulle moontlik was nie.
Genade en vergifnis
Niemand sal in die Hemel kom bloot deur die Wet te onderhou nie. ’n Ernstige ondersoek van die Wet van God sal elke eerlike persoon na God vir genade en vergifnis laat uitroep. Daar kan nie genade wees indien daar nie skuld is nie en daar kan geen vergifnis wees, indien daar nie sonde is nie. Indien jy nie ’n sondaar is nie, kan God jou nie genadig wees nie. Indien jy nie ellendig voel nie, sal genade nie waardeer word nie. Niemand sal om genade roep tensy hy sy skuld besef en bely nie.
Die Tien Gebooie reinig ons nie – dit wys ons bloot dat ons gereinig moet word en dat ons God en Jesus Christus nodig het om gered te word. As ons die Tien Gebooie goed bestudeer, sal ons agterkom dat ons nié die Gebooie kan onderhou nie – en dan is ons skuldig. Ons is skuldige wetsverbrekers en ons het geen hoop op redding deur God se Tien Gebooie te gehoorsaam nie.
Goeie nuus
Die Evangelie is Goeie Nuus aan diegene wat besef dat hulle die Wet van ons lewende God oortree het. God stort Sy Genade uit op hulle wat erken dat hulle wetsverbrekers is en wat skuldig voor die Heilige God staan. God verwelkom ons wat voorheen teen Hom gerebelleer het en neem ons in Sy familie as seuns en dogters aan.
Dan stuur Hy ons met die opdrag as dienaars en soldate om in Sy koninkryk diensbaar te wees en in die geloof sterk te staan. Indien ons in skuldbelydenis voor Hom neerbuig, gee Hy ons die Ewige Lewe.
Goeie werke was nog nooit genoeg om die bose en rebellie van die sondige mens te oordek nie. Slegs die bloedoffer van Jesus Christus is genoeg om vir ons verlossing te betaal. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die orde van dinge reg verstaan. Dit is eers nadat ons Christus vir ons redding vertrou het dat ons in God se familie aangeneem word. Dit is eers dán vir ons moontlik om die Gebooie te onderhou. Nie om gered te word nie, maar juis omdat ons gered ís.
Gehoorsaam op ’n sinvolle manier
In ander gelowe word goeie werke gedoen ‘ten einde te…’. Die mens probeer dus om na God te reik. In die Christendom is goeie werke egter ’n ‘omdat’.
Godsdiens is ons wat na God uitreik. Christendom is God wat na ons toe neerbuig deur Jesus Christus. Redding gaan daarom die gehoorsaamheid aan die Wet vooraf. Dit is slegs as ons God se reddende verlossing ervaar het dat ons Sy Gebooie op ’n sinvolle manier kan gehoorsaam. Sodra ons ons lewens heelhartig aan Christus gewy het en Sy reiniging en verande-rende krag beleef het, is ons in staat om God se Wet in ons harte te skryf, ons siel te inspireer, ons krag te rig en ons denke op die pad van heiliging te stuur.
Met die Heilige Gees in ons, en deur Sy leiding, word God se morele Wet ons standaard, gids en beskerming. As ons poog om God met ons hele hart, siel, verstand en krag te soek en slegs Sy mag te vertrou, sal ons die waarheid in Jesus se woorde vind: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” (Joh 14:15).
Woorde, werke en aanbidding
In die Tien Gebooie vind ons al die morele deugde, die volledige kompas vir ons toerekeningsvatbaarheid teenoor God en verantwoordelikheid teenoor ons bure. Die wesenlike kern van ál God se regverdige verordeninge word in die Tien Gebooie opgesom. God vereis totale gehoorsaamheid aan al die impli-kasies van Sy Wet van elke mens.
Verwerp wettiesisme
Dit is ook noodsaaklik dat ons die hele kwessie van wettiesisme oordink wanneer ons die Tien Gebooie bestudeer. Wettiesisme is ’n verwringing van gehoorsaamheid, wat die motiewe en doel verdraai en goeie dade verhef as dié manier om God se guns te verdien. Wettiesisme kan arrogante en minagtende aanhangers voortbring; trots verskuil en nederigheid, goedheid en meelewing uit die lewe verdryf.
Verstaan die Wet
Die Fariseërs wat die Wet aangehang het, het gedink dat, omdat hulle afstammelinge van Abraham was, hulle outomaties goedkeuring van God sou ontvang. Die daaglikse onderhouding van die Wet is tot in die fynste besonderhede geformaliseer en tog het hulle die hart van die Wet vermy.
Jesus het die skynheiligheid van die Fariseërs, wie se uiterlike voorkoms hulle innerlike korrupsie verbloem het, veroordeel. Die Fariseërs het hulle voorgedoen as getroue onderhouers van die Wet van Moses en tog, deur die detail wat van minder belang is te beklemtoon, het hulle dit wat die meeste saakmaak, verontagsaam.
Hulle uitgebreide en misleidende interpretasie van die Wet het die ware gees en aard daarvan ontken. God se Wet is deur menslike tradisie, wat hulle gewete in gebondenheid vasgevang gehou het, vervang. God het hulle egter vryheid geskenk. Hulle was skynheilig, het ander veroordeel en het menslike goedkeuring hoog geag. (Matt 23:23-24; 15:3-9; 23:16-24; Mark 2:16; 3:6; 7:1-8 en Luk 20:45-47). Wettiesisme poog om die mens se pogings op dieselfde vlak as God se Wet te plaas.
Ons is deur genade gered
Die Judaïste, wat Paulus teengestaan het, was wettiste wat geleer het dat ’n mens slegs deur die Wet te onderhou, gered kon word. Hulle het Christengelowiges geleer dat hulle eers Jode moes word voordat hulle Christene kon word. Besnyding was vir hulle noodsaaklik ten einde gered te word. Hulle het die toereikendheid van die werk van Christus ontken en vereis dat die Joodse seremoniële wette nagekom moes word om gered te word. Paulus het egter teen hierdie valse vereistes in Galasië en Kolosse geskryf en gewaarsku dat hulle wettiesisme die reddingspad korrup gemaak het en ’n ondraaglike las op God se kinders plaas.
Ons Here Jesus Christus het geleer: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem My juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want My juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra.” (Matt 11:28-30).
Kom na die Kruis van Christus
Die Wet sê ‘doen’; die Evangelie sê ‘gedoen’! Die Wet sê ‘gaan’; die Evangelie sê ‘Kom!’ Niks sal ons van God en Sy liefde kan skei nie (Rom 8:35).
Jy het die Wet van God gehoor. Jy het die Evangelie van ons Here Jesus Christus gehoor. Het jy jou sonde en rebellie teenoor Hom bely? Kom tot inkeer en word verander.
“Vra na die Here terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte ge-dagte. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe.” (Jes 55:6-7)
Dr Peter Hammond is die skrywer van ‘The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty’. Hierdie reeks is ook beskikbaar as ’n audio CD pakket en MP3. Tel: 021 689 4480, E-pos: mission@frontline.org.za Webtuiste: www.frontline.org.za