
Nog nooit in die ganse geskiedenis was só baie mense só besig nie. Geen ander generasie het oor so baie arbeids- en tydsbesparende uitvindsels beskik nie, en tog wil dit voorkom of ons geslag die mees gejaagde en dol geslag van alle tye is.
’n Mens sou dink dat ons minder gejaagd sou wees en meer vrye tyd op hande sou hê – met al ons gerieflike winkels, elektriese apparate, inry-karwasserye, rekenaars en selfone – maar dit is toe nie die geval nie!
Gespanne en uitgeput?
Die hedendaagse mens is tog so geneig om elke minuut met oordrewe aktiwiteit te wil vol pak. Navorsing toon dat Westerlinge elke jaar minder en minder tyd met wederhelftes, kinders, bure, en met God deurbring. In ons materialistiese gejaag na wind is daar ’n onversadigbare drang na méér: meer besittings, mooier huise, beter karre, gewaarborgde vakansies en meer luukses.
Daar is ’n desperate sug om ons leë lewens met geraas en stimulasie te vul: rolprente, DVD’s, musiek, tydskrifte, die internet, ‘Play Station’, iPod’s, Twitter en Facebook. Ons lewens word oorspoel met ’n tsoenami van stimuli, lawaai en versoe-kings!
Keer op keer hoor ’n mens die gekla: “Ek is so moeg!” Mense kla voortdurend dat hulle emosioneel uitgeput, fisiek afgetakel, en geestelik leeg is. Uitgebrand! Mense is gespanne, moeg en rusteloos.
Lees die handboek
Wanneer ’n elektriese toestel, ’n kar, of ’n rekenaar nie reg werk nie, neem ons gewoonlik ons toevlug tot die vervaardiger se handboek en lees die instruksies. Ons sal wys wees om die Skepper se Handboek weer te lees. Die antwoord vir die meeste van ons probleme is in Sy Tien Gebooie te vinde – en as ons maar net sal doen wat Hy beveel, sal ons onsself ’n klomp leed spaar.
“As jy nie op die Sabbat oortree nie, op My heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die Sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie…sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob.” Jes. 58:13-14.
Ons het almal 52 weke in ’n jaar, 7 dae in ’n week, en 24 uur in ’n dag. Die vraag is: wat maak jy met die tyd wat God jou gegee het? Gebruik jy dit soos Hy wil hê jy moet? Enigiemand wat die Vierde Gebod oortree, verbeur die oorvloedige seën en verkwikking in die Here. Groot vreugde volg as ons elke week tyd maak om die Skrif te ondersoek en in gebed op God te fokus, en te aanbid in samehorigheid met ander Christene. “Onderhou my Sabbatte. Dit is van geslag tot geslag ‘n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het.” Eks. 31:13.
Noem die Sabbat ’n vreugde
Wettelose mense haat dalk die Vierde Gebod, wettiese mense mag dit onaangenaam maak, maar ’n toegewyde Christen behoort hom oor die Here se dag te verheug. Die Vierde Gebod is herderlik en beskermend. Dit is ’n ewige morele wet. Dit is ’n skeppingsgawe van God, wat later ook ’n Wet van God geword het. Hierdie dag van rus en vernuwing was tot voordeel van diensknegte, besoekers, en selfs jou diere. (Eks 20:8-11). Hierdie rusdag is die manier waarop God mense daaraan herinner dat Hy die Skepper en Verlosser is. Om hierdie eerste dag van die week as iets besonders te onderhou, is goed vir liggaam, siel en gees.
Ons het tyd nodig vir ontspanning, nadenke en vernuwing. Dit is ’n saak van ritme en roetine, maar ook van openbaring en huldiging van God se wonderlike skeppingswerk (Eks 20:8-11) en verlossing (Deut 5:12-15). “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eer-der aanmoedig om daarheen te gaan…” Heb 10:24-25. Wanneer ons die Here se Dag inrig as ’n besondere dag vir die gesin om te rus en God te aanbid, verkondig ons daarmee aan die wêreld dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy die Here van ons lewens is.
Om elke sewende dag te rus, is gesond – geestelik, fisiek en ekonomies. Dit is goed vir besigheid, families, en die hele land. God het hierdie gebod tot ons voordeel vir ons gegee, net soos al Sy ander Gebooie – nie net vir Christene nie, maar vir die ganse samelewing. D.L. Moody het gesê: “Geen nasie wat die Sabbat vertrap het, was al ooit voorspoedig nie. Wys my die nasie wat dit doen, en ek wys jou ’n nasie waarin ondergang en verval reeds aanwesig is…”
’n Heenwysing na die Skepper
Ons, as Christene, behoort berou te hê omdat ons toegelaat het dat die Here se Dag so ontheilig word deur inkopies doen, sport en wêreldse vermaak. Voltaire, die Franse rewolusionêr, het gesê: “As jy die Christendom tot niet wil maak, skaf die Sondag af.”
Die sewe-dag week is ’n Ou-Testamentiese instelling, wat deur Christelike invloed uitgebrei het. Dit is ’n kragtige getuienis van die feit dat God die wêreld in ses skeppingsdae geskep, en op die sewende dag gerus het. Die feit dat die eerste dag van die week, Sondag, ons rusdag is – in plaas van die Joodse Saterdag – is ’n weeklikse herinnering dat Jesus op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan het.
Die Dag van die Here
Die Here se Dag, as instelling, is na die eerste dag van die week verander deur niemand minder nie as Jesus en die Apostels. Jesus Christus het op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is op Pinksterdag, die eerste dag van die week, uitgestort. Ons lees ook dat die dissipels op die Sondag bymekaar gekom het om die Nagmaal te vier (Hand 20:7).
Die Apostel Paulus het die Christene aangesê om hulle offergawes op die eerste dag van die week opsy te sit (1 Kor 16:2). Die Apostel Johannes het die Openbaring van Christus op die eerste dag van die week ontvang – waarna hy verwys as “die dag van die Here”. Op 1:10.
Om op die Here te fokus
Die vroeë kerkvaders – nog lank voor Konstantyn – het Christene geleer om die eerste dag van die week as die Dag van die Here onderhou. Dit sluit in Polikarpos en Barnabas. Justinus die Martelaar het in 150 n.C. geskryf: ‘Sondag is die dag waarop ons vergader, want Jesus Christus, ons Verlosser het op dié dag uit die dode opgestaan.’
Die Dag van die Here is vir ons ’n geleentheid om tot stilstand te kom, van wêreldse dinge weg te draai, en ons geestelike perspektief te herwin deur op God, Sy Woord en Sy wil te fokus. “Ons het op die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd…” Hand 20:7.
Op die Here se Dag is rus van kritieke belang vir ons geestelike welsyn, en dit is ’n belangrike deel van ons Christelike getuienis. Ons het die opdrag om die Sabbat te onthou en te onderhou. Die Hebreeuse woord vir ‘onthou’ beteken méér as om dit bloot in stand te hou; dis ook om ’n afspraak na te kom.
Ons afspraak met God
Van James Garfield, wat later president van die VSA geword het, word die volgende vertel: In ’n stadium nadat hy aangewys is as die president van ’n groot korporasie, is hy ingelig oor ’n belangrike vergadering op die volgende dag. Sy reaksie was: “Ek is jammer, ek kan nie daar wees nie.” Sy ondersteuners het benadruk dat dit ’n baie belangrike saak is, maar Garfield het net sy kop geskud en gesê: “Ek is jammer, maar ek het reeds ’n afspraak. Ek sal dit nie maak nie.” Op hulle aandrang dat geen afspraak belangriker as hierdie een kon wees nie, het hy verduidelik: “Ek het om 10:30 ’n afspraak met die Here God Almagtig, in Sy huis, aan Sy tafel, en ek sál daar wees.”
’n Noodsaaklike verposing
Daar is al dikwels gesê: “Soos dit met die Sabbat gaan, so gaan dit met die nasie”. Baie mense sal wonder hoekom ’n rusdag só belangrik is? Nou ja, die Here se Dag skep die bewuswording dat God, Sy weë, en Sy wette vir ons almal van die aller-grootste belang is.
Eric Liddell, die befaamde wenner van ’n Olimpiese goue medalje – oor wie se weiering om op die Sondag aan die eindronde deel te neem, die rolprent ‘Chariots of Fire’ handel – het gesê: “Daar is vandag baie mense wat dink dat dié wat die Sondag op die tradisionele manier onderhou, eintlik maar pretbederwers is. Hulle is van mening dat mense tydens hul jeug die kans gegun moet word om die lewe te ‘geniet’. Gee my maar die Dag van Rus, waarop al die genietinge van georganiseerde sport opsy gesit kan word, en al die vreugdes van die lewe om daardie rede juis groter sal wees. Vir my is dit ’n tyd om in God se teenwoordigheid te wees – ’n tyd van stil wees, van ontspanning en saamwees met God.
Ek glo dat Sondag, soos ons dit in die verlede gehou het, vir ’n jong man van die grootste waarde kan wees om al wat edel, waar en uitnemend is, uit te leef.” Hy het toe ’n Olimpiese goue medalje gewen in ’n wedloop waarvoor hy nie spesifiek geoefen het nie, en later het hy ’n suksesvolle sendeling in China geword, en manmoedig in ’n Japanese konsentrasiekamp gesterf tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Die Sabbatdag is ’n getuienis
Wanneer ons op ’n Sondag opstaan, aantrek en die erediens gaan bywoon, word ons deel van honderde miljoene mense oor die wêreld heen, wat getuig oor die feit dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.
Niks is ’n beter getuienis van die oorgang van die Joodse Sabbat na die Christelike Dag van die Here op die eerste dag van die week nie. Niks ánders as die oorwinnende Opstanding van Jesus Christus uit die dode kan die unieke instelling van die Sondag as Rusdag beter verstaanbaar maak nie.
Dade van genade
Natuurlik het ons Here Jesus Christus ons geleer dat dit goed en reg is om op die Sabbat dade van genade en plig te doen. (Matt 12:11-12). Christene het dit nog altyd so verstaan. Daar is noodsaaklike dienste, soos dié van die brandweer, paramedici, dokters, verpleegsters en die polisie, wat verrig móét word. Dit gaan juis daaroor dat die Here se Dag ’n besondere Dag moet wees – ’n Dag sonder enige kommersiële aktiwiteit. Ons moet alles in ons vermoë doen om te verseker dat dit vir die minimum aantal mense nodig is om op Sondae te werk.
Baie Christene het hulle werk verloor, of kon nie werk kry nie, omdat hulle in beginsel weier om op Sondae te werk. Niemand moet deur wetgewing gedwing word om op Sondae kerk toe te gaan nie, maar dit sou gewens wees vir regerings om wetgewing te promulgeer wat mense van kommersiële verpligtinge op ’n Sondag vrystel.
Die Sondag is ’n dag vir geestelike groei, ’n dag wat ons help om ons priori-teite te bekragtig en ons gehoorsaamheid aan die Here te demonstreer. Dit is ’n dra-matiese en beduidende dag van getuie-
nis, wat help om ons toewyding aan die Here te demonstreer en wat die opregtheid van gelowiges aan hulle bure, familie en twyfelende kinders sigbaar maak. Gehoorsaamheid spreek baie duideliker as woorde.
Om die Here se Dag gering te skat, bring ’n hele klomp ander sondes aan die lig, soos die gebrek aan toewyding, ongeestelike prioriteite, die afskeep van stiltetye, en onwilligheid om by praktiese Christelike dienslewering betrokke te raak. Die Here se Dag vestig in gelowiges die regte houding met betrekking tot al die bogenoemde. Die wat die Here se Dag eerbiedig, sal langer leef, gelukkiger wees, beter gesondheid geniet, en hulle verhouding met die Here sal geweldig verdiep en versterk word. Jesus nooi ons uit: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Matt 11:28.
DR. PETER HAMMOND is die outeur van ‘The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty.’ Hy is ’n sendeling en spreker. Kontak hom by: missions@frontline.co.za, of besoek www.frontline.org.za, of skakel hom by: 021 689 4480.