Vroeër vanjaar is Suid-Afrikaners geskok deur die nuus van ’n 15-jarige meisie wat in Kaapstad van ’n oorsese vlug verwyder is nadat bewyse gevind is dat sy in kontak was met ISIS-werwers. Die ondersoek het aan die lig gebring dat ISIS ’n aktiewe werwingsnetwerk in Suid-Afrika het wat ’n beroep op jongmense doen om by hierdie ekstremistiese millitante groep aan te sluit.
Dit dui ook op die kwesbaarheid van die Suid-Afrikaanse jeug en die verantwoordelikheid van ouers en die owerhede om die doen en late van tieners te monitor. Dit stuur ’n sterk boodskap uit dat daar dringend gekyk moet word na redes waarom tieners polities geradikaliseer word en hoe om dit te voorkom.
Terroristegroepe teiken tieners
[Volgens die Amerikaanse minister van buitelandse sake is “die uitbuiting van kinders deur terroristegroepe nie iets nuuts nie, maar groepe soos ISIS, Boko Haram, en die Taliban in Pakistan, maak toenemend van kinders gebruik om hulle terreurdade uit te voer. Dit is ’n strategiese en skokkende stap. Dit trek groter mediadekking en laat terroristegroepe toe om nóg lojale lede na hulle hand op te lei. Kinders is makliker om te indoktrineer en minder geneig om weerstand te bied omdat hulle nog nie hulle eie sterflikheid ten volle begryp nie.
Omdat kinders minder verdag voorkom, slaag terreurdade wat deur hulle uitgevoer word meer dikwels as ander. Aan die ander kant kan die feit dat terreurgroepe van kinders gebruik maak, daarop dui dat die groep dit moeiliker vind om volwassenes te werf – die feit dat Boko Haram kinders ontvoer om as selfmoordaanvallers te gebruik, mag ’n aanduiding wees van die groep se swakheid en nie sy mag nie.”]
Hulle slaan munt uit innerlike woede
Radikalisering kan omskryf word as die soeke na, en die kweek van ’n ekstremistiese oortui-ging wat dominant (in jou lewe) word en uiteindelik terreurdade inspireer en aanvuur. Belangstelling in ’n ekstremistiese oortuiging as ’n wyse om aan innerlike woede of pyn ui-ting te gee, skep die basis om by ’n ekstremistiese militantegroep betrokke te raak. Die breinspoeling wat binne die groep plaasvind, sal die aanvanklike belangstelling voed en vorm om uiteindelik in volslae radikalisme te ontwikkel.
Die keuse om by ’n millitante groep aan te sluit, hang saam met ideologiese en psigo-logiese prosesse en word dikwels verbind aan sosio-ekonomiese omstandighede. Militante politieke groepe het politiese sowel as sosiale doelwitte. Hierdie doelwitte lok jongmense wat na antwoorde op die lewe soek. Jeugdiges wat worstel om ’n eie identiteit te vind en te ontwikkel, en op soek is na ’n groep waaraan hulle kan behoort, is ontvanklik vir alternatiewe moontlikhede. Tieners is veral kwesbaar weens die ontwikkelingsfase waarin hulle is. Tydens hierdie fase het hulle gewoonlik meer konflik met hulle ouers en gesagsfigure en wil onafhanklik van hulle ouers en hulle ouers se idees wees. Wanneer tieners baie sterk oortui-gings oor die samelewing het en nie vertroue in gesagsfigure se vermoë het om die probleme op te los nie, word hulle potensieel sagte teikens vir millitante groepe.
’n Begeerte om in beheer te wees
Militante groepe neem die reg in eie hande omdat hulle nie die staat se regstelsel vertrou nie, of glo dat die staat ’n sekere groep onreg-verdig behandel, of nie hulle ideologiese doelwitte bevredig nie. Die ideologiese elemente wat tot radikalisme kan lei, het daarmee te maak dat:
• dit uiting gee aan ’n grief wat as ’n onreg ervaar word, of wat as onregverdig interpreteer word op grond van die wyse waarop dit hanteer word;
• dit ’n “skuldige” persoon of groep identifiseer wat verantwoordelik gehou word vir die onregverdige behandeling
• dit ’n beplande metode identifiseer, om die persoon of groep wat verantwoordelik gehou word, te straf
• dit ander werf om hierdie planne uit te voer.
ISIS doen homself voor as ’n groep met ideologies-moralistiese beginsels, gebaseer op wat regverdig en wat onregverdig is.
Hierdie groep maak aanspraak daarop dat hulle die stem van Allah is wanneer hulle die doodstraf toepas en slagoffers veroordeel en teregstel. Hierdie vermoë om as die aanklaer, jurie, regter en laksman op te tree, verskaf ’n gevoel van mag aan millitante groepe.
Die behoefte aan sinvolheid
Navorsing oor Islamitiese jeugdiges wat in Nederland woon, het getoon dat Moslem-jeugdiges, sover dit geweld betref, die landsgesag as onwettig beskou (hulle erken slegs die wet van Allah) en dat diegene wat in Allah glo, superieur is bo dié wat nie in hom glo nie. Hierdie jeugdiges openbaar dikwels afsydigheid teenoor die groter gemeenskap. Gevoelens van emosionele onsekerheid en ’n geneigdheid tot geweld versterk die risiko om geradikaliseer te word. Die oproep tot selfopoffering van die millitante groep, vind sielkundig byval by onseker tieners met ’n lae selfbeeld. Selfopoffering vir ’n groter saak gee die tiener wat opsoek is na rede vir sy bestaan, ’n betekenisvolle sin vir die lewe. Hoe groter die opoffering, hoe sterker die sin van betekenis.
Hoe word die toename van millitante groepe voorkom?
• Ouers moet opmerksaam en sensitief wees vir die ontwikkelingsbehoeftes van hulle jeugdiges. Kwessies van geregtigheid, onreg en die sin van die lewe moet in die gesin en in skole bespreek word
• Wanneer ’n ouer opmerk dat ’n kind uitermate belangstel in politieke kwessies en tot uiterstes neig in sy of haar standpunte, behoort die rooi ligte te flikker. Ouers moet ’n ogie hou oor die kind se sosiale media-kontakte en kommunikasie. Besprekings rondom verskillende godsdienstige en politieke standpunte moet in die huis ingestel word om verdraagsaamheid teenoor alle mense aan te kweek
Faktore wat vatbaarheid vir radikalisme kan aanwakker
[By wyse van reaksie op die stygende getal terreuraanvalle het die Amerikaanse regering ’n uitgebreide vraelys saamgestel om te bepaal watter gesinne gevaar loop om geradikaliseerde tieners op te lewer. Van die faktore wat tot geradikaliseerde gedrag en ideologie kan lei, sluit in:
• ’n Swak ouer-kindverhouding met gebrek aan wedersydse empatie
• Minimale ouerlike betrokkenheid by die kind se onderwys en
sosialisering
• Beperkte kennis van die kind se vriende en hulle doen en late
• Ekonomiese stres (soos deur die kind beleef)
• Sterk familiebande met ’n spesifieke etniese, kulturele of godsdiens-tige groep, of omgekeerd (swak bande), kan ’n kind net so negatief beïnvloed omdat hulle geen gemeenskaps- of familiebande het nie
• Sosiale angs, isolasie en algemene sosiale wanfunksie]
Ons moet vir die kwesbare jeug bid
’n [Christelike] waardesisteem wat meerderwaardigheid, vervreemding en skeiding van die samelewing teenwerk, moet by die jeug aange-kweek word. Ouers en die gemeenskap moet hande vat. Alleenlik wanneer ons leer om ander te respekteer en lief te hê, kan ons as ’n nasie oorleef.
Die grootste gebod is ons riglyn: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierde twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matteus 22:36-40.
PROF NICOLENE JOUBERT is die hoof van die Institute of Christian Psycology en is ’n beradende sielkundige. Vir berading, afsprake of studie in Christen-sielkunde, skakel 011 827 7611 of www.icp.org.za