
Baie mense het vir die val van kommunisme gebid. Kommunisme as ideologie het in 1917 die filosofiese basis geword van die nuwe Russiese staat wat tot stand gekom het na die rewolusie wat die tsaar se bewind omver gewerp het. Mettertyd het Rusland sy grondgebied uitgebrei en ‘n groot aantal lande beheer. Hierdie konglomeraat is die USSR (Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke) genoem. Dit het bekend geword as die Kommunistiese blok. ‘n Aantal jare ná die Tweede Wêreldoorlog is daar ‘n muur deur Berlyn gebou wat Oos- en Wes-Duitsland van mekaar geskei het. Hierdie muur wat in 1961 gebou is, was 140 km lank en het as die Berlynse Muur bekend gestaan. Dit was die simbool van skeiding tussen die ‘vrye Weste’ en die kommunistiese lande. Dit het gelei tot die simboliese term ‘die Ystergordyn’ wat die skeiding tussen die Weste en die USSR aangedui het.
Kommunisme was in die 20ste eeu vir meer as 95 miljoen mense se dood verantwoordelik. Vir ’n lang tyd het dit gelyk asof dit doodgewoon onmoontlik is dat kommunisme sy greep sal verloor en die Ystergordyn kan skeur, dat die Berlynse Muur kan val. Kommunisme het al hoe sterker geword, meer en meer lande is binne-gedring en dit wou voorkom of die opmars nie gestuit sal kan word nie. Sedert 1917 by die aanvang van kommunisme het Christene begin bid. Deur die dekades heen het miljoene Christene buite en binne die tronke gebid. Individue en groepe bidders het in hierdie kommunistiese lande ingegaan en gaan bid.
Vier bemoedigende voorbeelde van die krag van gebed
Hiermee vier voorbeelde uit hierdie tydperk van Christene wat gebid het.
1 Die eerste voorbeeld is die verhaal van twee monnike van die Russiese Ortodokse kerk wat ná die Tweede Wêreldoorlog gesien het hoe kommunisme toenemend uitbrei. Hulle het hulleself onttrek en in ’n afgeleë plek in die berge gaan bly. Hulle het hulle voorgeneem om daar te bly en te bid totdat daar ’n deurbraak is. Dit was in 1945. In 1990 het hierdie twee monnike teruggekeer. Mense het gedink dat hulle lankal dood is, want vir 45 jaar lank het niemand iets van hulle gehoor nie. Hulle het geen kontak met die buitewêreld gehad nie. Hulle eerste vraag was: Wat het gebeur? Ons het vir jare lank gebid, maar skielik het ons gevoel daar is ’n deurbraak; die weerstand is weg.” Toe eers het hulle gehoor van die val van die Berlynse Muur en dat die mag van kommunisme grootliks verbreek is en dat die ou USSR besig was om te verbrokkel.
2 Die tweede voorbeeld is die verhaal van Mark Geppert, van Pittsburgh in Amerika, wat deur Dick Eastman, van Every Home for Christ, in sy boek, Love on its knees, beskryf word. In 1986 het hy na die ou Kommunistiese blok (USSR) gegaan om daar te bid vir die val van die Ystergordyn en die verbreking van die mag van kommunisme in daardie lande.
Hy het by verskillende plekke gaan bid, onder meer by Kief.
Hy het vir ‘n week lank op die plein in Kief gebid; die laaste dag was Vrydag 25 April. Hy het daardie week ervaar dat daar ‘n deurbraak is. Hy het vir die Here ‘n teken gevra wat toe in die vorm van die horlosie op die plein gekom het wat nie, soos voorheen, sy twaalf slae om twaalfuur die middag geslaan het nie.
Dit was dieselfde dag wat die Chernobyl-kernreaktorramp plaasgevind het – wat een van die grootste redes was dat die Ystergordynlande oopgegaan het. Die eerste meganiese fout by Chernobyl het ongeveer 12:00 die middag van 25 April plaasgevind.
3 ‘n Derde voorbeeld is die van Broer Andrew wat in 1983 die Kerk wêreldwyd opgeroep het om vir sewe jaar lank vir die val van die Ystergordyn te bid. Dít het Christene in baie lande in gebed verenig.
4 Die vierde gebedsinisiatief kom uit Oos-Duitsland. Christian Führer het in 1980 die predikant van die St. Nikolai-kerk in Leipzig, Oos-Duitsland, geword. Op 20 September 1982 het sy lidmate gevra om op Maandagaande saam te bid. Hierdie ‘Maandaggebede’ was vir vrede en het veral gefokus op die Koue Oorlog wat in daardie stadium aan die gang was. Hulle het elke Maandagaand die Saligsprekinge in die Bergrede gelees en daaroor gebid. Min mense het dit bygewoon. In die laat 1980’s het die ou Sowjet Unie egter stadigaan vir die Weste begin oopgaan. Meer mense in Oos-Duitsland het op verandering aangedring en ook op die reg om Oos-Duitsland te verlaat.
Mense het toenemend begin om die Maandagaandgebede by te woon. Die byeenkomste was oop vir almal. Op 19 Februarie 1988 het Christian Führer ‘n toespraak gelewer met die titel, Leef en bly in die DDR (‘Leben und Bleiben in der DDR’). Gedurende die eerste maande van 1989 het die regering druk begin toepas om ‘n einde te bring aan hierdie Vredesgebede (Friedensgebete).
Die paaie is versper en alle verdagtes binne en buite die kerk is gearresteer. Daar het egter elke Maandagaand net meer mense kom bid. Gedurende hierdie tydperk het een slagspreuk gegeld: Geen geweld (‘Keine Gewalt’).
Teen 9 Oktober 1989 het 70 000 mense opgedaag. Die 16de Oktober was daar tussen 120 000 en 150 000 en die volgende week
320 000. Hierdie druk het daartoe gelei dat die Berlynse Muur op 9 November geval het.
Die kerk het vir 70 jaar lank gebid
Vir sewentig jaar lank het die kerk gebid. Daar was baie gebedsaksies waar mense met groot intensiteit gebid het vir die ver-breking van die mag van kommunisme. Een so ‘n voorbeeld was ‘n aantal vroue wat vir 22 jaar een keer per week bymekaar gekom het om te bid vir die val van die Ystergordyn. Die sewe jaar van gebed waarvoor Geopende Deure gevra het, het in 1989, presies na sewe jaar tot ‘n einde gekom. Ná agt jaar waartydens die St. Nikolai-kerk gebid het, het die deurbraak gekom.
Pete Greig van 24-7 Prayer skryf: “The point I want to make with the story of the ‘Peace Prayers’ in Leipzig, is not to seek for a political regime change at all, but for us to see the effect of prayer and the underlying worldview that directed the peace prayers in Leipzig.”
Kan gebed nasies verander?
Op die ou end is die vraag of gebed nasies kan verander. In November 1989 was die wêreld van die Kremlin af tot by die Withuis stomgeslaan toe die eerste sementblokke van die muur platgestoot word. Daar is geen twyfel dat gebed ‘n rol hierin gespeel het nie. Baie mense sê ons moenie die politieke faktore buite reke-ning laat nie. Dit is waar, maar dit is verseker so dat dit onder meer die gebede van die Kerk was wat politieke verandering teweeg gebring het.
Die aand toe die 320 000 mense byeengekom het, het die polisie en die weermag opgedaag. Hulle het egter ‘n probleem gehad: nie een van die mense teenwoordig het wa-pens gehad nie. Almal het met kerse opgedaag. Een van die offisiere het ná die tyd gesê: “Ons was gereed vir alles, maar nie vir kerse en gebede nie.”
________________________________________
BENNIE MOSTERT is die bestuurder van Jerigo-Mure-Gebedsnetwerk in Pretoria. Vir meer inligting: www.jwipn.com