
Ek het onlangs ‘n groep prominente Christen-leiers van die Gauteng-streek by Ebenezer Christian Church in Sharpville, Johannesburg toegespreek. Tydens gesprekke met hierdie leiers het dit duidelik geword dat verandering hulle belangrikste prioriteit is. Hulle hartsbegeerte is geestelike, sosiale, politieke en morele verandering in Suid-Afrika.
Desperaat vir verandering
Wanneer ek met gewone burgers praat, hoor ek dieselfde versugting. Mense is desperaat vir verandering, maar om daardie verandering teweeg te bring, moet ons die verandering wees.
Verandering kan nie sonder die Kerk plaasvind nie
Gelukkig begin ‘n toenemende aantal leiers besef dat ware verandering nie kan plaasvind sonder die aktiewe betrokkenheid van die Christelike Kerk in Suid-Afrika wat deur die Gees gelei word, en in die Bybel glo nie. Trouens, baie van hulle erken dat wydverspreide korrupsie, sedelike verval, politieke onstabiliteit en die toename in rassekonflik simptomaties is van geestelike verval.
Het jy jou soutigheid verloor?
Wanneer die geestelike klimaat in ‘n land aansienlik verbeter, is positiewe verande-ring die gevolg. Baie Christene kla egter dat die Kerk nie meer relevant is nie. In Matteus 5:13 waarsku Jesus Sy dissipels: As jy jou soutigheid verloor het, word jy deur die mense vertrap. As sout laf geword het, deug dit vir niks nie.
Wanneer die Kerk vir politieke gewin gebruik word
Tydens verkiesings sal politici wat die Kerk gewoonlik ignoreer, sekere kerke vir politieke gewin gebruik. Dit is tragies dat baie kerke hieraan aandadig is. In plaas daarvan om Sy profetiese rol as die gewete van die staat te vervul, word sekere kerke as openbare platforms ingespan om geloofwaardigheid aan die morele status van korrupte politici te bied.
Verdeel en heers het ‘n effektiewe stra-tegie geword. Wanneer politici, sakemanne en akademici die Kerk in ’n verlengstuk van hulle persoonlike agendas kan omskep, is die ‘vertrapping’ waaroor Jesus gewaarsku het, reeds ‘n werklikheid. Ons het dit net nie besef nie. Die verandering waarna miljoene Suid-Afrikaners hunker, is moontlik – maar ons as die Kerk moet eers erken dat verandering by ons begin.
Tragiese gevolge oral sigbaar
Wat Suid-Afrika meer as enigiets anders nodig het, is ‘n Kerk wat werklik Sy Bybelse mandaat vervul om sout en lig vir die samelewing te wees. Die tragiese gevolge van ‘n ondoeltreffende Kerk is regoor die land sigbaar.
Verandering is moontlik
’n ‘Souterige’ Kerk is een wat die hele Woord van God met vrymoedigheid in die samelewing verkondig. Dit is tragies dat die afwesigheid van Bybelse waarheid in die openbare sfeer die geestelike en sedelike verval in die land versnel het.
Verandering is moontlik, maar dit sal slegs gebeur as die ‘sout’ met passie en oortuiging in die samelewing aangewend word. As Christene verandering wil sien, moet hulle die verandering wees.
________________________________________
Errol Naidoo is die president van Family Policy Institute. Sy organisasie is ‘n Christen-stem in die regering en die media. Vir meer inligting: www.familypolicyinstitute.com