God Se Woord In Mensetaal

Het jy ook al gewonder hoe jy kan klaarmaak met beurtkrag en kragonderbrekings in jou geestelike lewe? Vra jy soms jouself af:
• Hoe prop ek myself by God se krag in?
• Hoe kan die bonatuurlike werking van die Heilige Gees in my geaktiveer word?
• Hoe leef ek konstant vanuit Sy vermoë, sonder om moeg en afgemat of ontmoedig te raak?
God se krag is nie onbereikbaar nie, trouens, elke gelowige kan ’n lewe van oorwinning leef, maar waar begin ’n mens?
Die grootste oorsaak van geestelike tamheid
Indien elke Christen-ingenieur, -onderwyser, -boer, -wetenskaplike en -boekhouer homself sou moes afvra: “Watter gedeelte van my lewe is sekulêr en watter gedeelte is geestelik?” sal daar miskien min variasie in hulle antwoorde wees, maar hulle (en min ander gelowiges) sal meer as 5% per week aan hul geestelike lewe toewy.
Wanneer ‘n mens geloofsbyeenkomste, Bybelstudie, gebed en aanbidding as geestelik beskou en die res as sekulêr, gaan jy saans gedaan voel. Niemand kan twee lewens lei sonder om moeg te word nie.
In die Ou Testament en selfs terwyl Jesus op aarde was, het mense nie onderskei tussen hulle geestelike lewe en hulle sekulêre bestaan nie.
Die Griekse denkwyse het hierdie onderskeiding gemaak en vandag is dit algemeen. Indien dit waar sou wees, beteken dit dat die grootste gedeelte van ons lewe nie regtig ewigheidswaarde het nie.
By implikasie beteken dit dat die meeste van die dinge waarmee ons onsself daagliks besig hou, nie werklik vir God saak maak nie. Miskien is ’n terugkeer na die antieke Bybelse beskouing van lewe nou, meer as ooit vantevore, nodig.
Miskien het hierdie gaping tussen die geestelike en sekulêre wêreld sy ontstaan te danke aan die feit dat ons nie besef dat alles wat ons ís, wat ons hét, en wat ons doén, te make het met ons verhouding met God nie. Of ons ontspan of werk; in ’n verhouding met iemand staan; of ’n ooreenkoms met ’n vreemdeling sluit, letterlik alles waarmee ons onsself besig hou, het te make met ons verhouding met God. Wanneer ons dít begryp word die lewe eenvoudig.
’n Lewende verhouding
Dit beteken ons is 24/7 in ’n verhouding met die Koning van die heelal, en die Almagtige is die konstante Bron waaruit ons funksioneer. Hy is nie soms naby ons en dan weer vér nie; of liewer, ons is nie sekere tye nader aan Hom as met ander geleenthede nie. Ons leef in ’n konstante, ewige verhouding met die lewende Here! Hierdie wete verander alles!
Nou bid ons nie meer uit nood nie, maar vanuit ons verhouding met ons Verlosser. Ons is oor alles in gesprek met Hom en Hy praat ook met ons!
Ons leer onderskei wat vir Hom belangrik is, terwyl ons saam met Hom leef en ons vra al minder vir dinge wat nie volgens Sy wil vir ons lewens is nie.
Kom in lyn met God se plan
Ons gebede word verhoor omdat ons in ooreenstemming met God se plan vir lewe funksioneer.
Dan word ons nie meer so moeg nie, want ons is in Hom en Hý is in ons! Sy krag ken geen einde nie en ons leer om daarvolgens op te tree!
Dit stel ons in staat om ook ons voor-veronderstellings, vrese en vooropgestelde idees te laat vaar. Miskien verduidelik ’n verhaal dit die beste. Stories gee mos lewe aan waarhede soos feite-oordrag nie altyd daarin slaag nie, daarom gaan ons na Naäman se lewe kyk.
Elisa en Naäman
Naäman, ’n offisier in die Siriese leër, was melaats. Hy het by ’n slawedogtertjie in sy huishouding gehoor van die groot profeet in Israel, deur wie die God van Israel wonders en tekens doen. Hy het besluit om Elisa om hulp te vra, maar homself vervies vir die profeet se eenvoudige raad: “Gaan was jou driemaal in die Jordaan.” God se opdrag by monde van die profeet het nie aan sy verwagtinge voldoen nie.
Naäman het amper sy genesing verbeur omdat…
• Sirië ook groot riviere het en die opdrag nie vir hom sin gemaak het nie
• Hy ’n kragtige woord en magtige daad van die profeet van God verwag het en slegs ’n eenvoudige opdrag gekry het
• Hy God uit nood aangeroep het en nie van-uit ’n hegte verhouding nie. Dit het daartoe aanleiding gegee dat sy persoonlike oortuigings sy oordeel beïnvloed het. Indien sy mede-reisigers hom nie anders oortuig het nie, sou hy onverrigter sake na Damaskus teruggekeer het.
Leer in ’n verhouding met God
Moenie nog ’n jaar laat verbygaan waarin jy die bonatuurlike krag van die Heilige Gees verbeur omdat jy vuurwerke verwag het nie, terwyl God dit so eenvoudig maak dat ’n driejarige dit deur Sy bonatuurlike krag en vermoë kan tuisbring nie. Wat is die punt wat ek wil maak?
LEEF IN ’n 24/7 VERHOUDING MET GOD! Dit gaan jou stoutste verwagtinge
oortref!
________________________________________
ELZA MEYER is die stigter en hoof-uitvoerende beampte van Turn2God Ministries. Vir meer inligting www.turn2god.co.za; elza@turn2god.co.za of skakel 012 997 5601.