
Markus se inskrywing in hoofstuk 7:6-7 gryp my aan die hart en laat my dink oor die ou knus wêreldjie waarin ons leef: “God sê: Hierdie volk praat asof hulle My eer, maar hulle harte is ver van My af. Hulle neem reëls wat hulleself uitgedink het en dan sê hulle dit is wat God beveel het. Om My op so ’n manier te dien, beteken niks nie. Jesus sê toe ook vir hulle: Die dinge wat God beveel het, laat julle links lê en dan konsentreer julle op die tradisies van mense.”
Die wêreld se worsteling tot in ons binnekamer
Ons leef in ongekende moeilike tye wat die Kerk en geloof betref. Ja, jare gelede is mense ook vir hulle geloof doodgemaak en gemartel, maar toe was almal nog salig onbewus van die worsteling en oorlog op ’n ander kontinent.
Vandag is dit nie meer so eenvoudig nie. Jerusalem, Sirië, Barak Obama en die aanvalle in Parys – Alles kom tot in ons sitkamer. Sosiale media en die digitale wêreld bring die realiteit van dinge soos ISIS tot in ons binne-kamer. Ons word in ons persoonlike ruimte gekonfronteer met politieke uitsprake oor godsdiensvryheid, die stand van die Kerk en morele kwessies.
’n Tyd van sifting
Moeilike tye…en tóg tye wat my persoonlik opgewonde maak. Nie vir die bloedvergie-ting of die mense wat mekaar aan die keel gryp nie, maar omdat die Bruid van Christus nie meer kan wegkruip nie. Ons leef in ’n absolute siftingstyd. Dit is nie meer genoeg om op ’n sensusvorm jou geloof aan te dui nie; om veilig te voel en gerus te slaap bloot omdat jou kinders in ’n skool is waar hulle steeds met Skriflesing en gebed open nie, of die wete dat jy deel van ’n gemeente is nie – dit is nie meer die kriteria vir ’n kind van God nie.
Wat glo ons werklik?
Ons word op sosiale platforms deur die wêreld gekonfronteer oor wat ons werklik glo, waarvoor ons regtig staan en wat ons bereid is om in die openbaar te bely. Ons word nie sonder meer toegelaat om weg te kruip en net in ons binnekring te getuig nie.
Die Bruid van Christus leef in ’n tyd waarin sy moet opstaan en haarself as ’n rein en heilige bruid bewys. Die wêreld is moeg vir huigelary, skynheiligheid, en twyfel. Hulle wil desperaat weet of jou “ja”, jou ja is en jou “nee”, jou nee is – of dit nou langs die braai-vleisvuur is of hoe jy jou besigheid bestuur.
Die stryd is tussen gered en ongered
Te veel mense dink nog steeds dat ons geveg in hierdie mooie land tussen die ANC en die ander partye, swart teen wit of Afrikaans teen die res is. Maar in wese is ons stryd tussen gered en ongered, ‘the righteous and the unrighteous’. Ons verstik in ons politiek en tradisie. Kerke skeur en mense gryp mekaar aan die keel oor onderwerpe soos die doop, homoseksualiteit, saambly, tiendes…Ons begin ons argumente met: “ Dominee of pastoor Jan sê…in ons kerk glo ons…”
Die uitdaging is vandag myne en joune. Leef ons dit wat ons voorstaan, of verraai ons Jesus en die Woord van voor af in die naam van politieke korrektheid en mense se opinie? Moet ons wag vir nog ’n haan om te kraai, of is ons by die plek waar ons kies om weg te breek van tradisie en eie opinie?
Een voet in die wêreld
Moslems en ander gelowe hou nie vergaderings om te stry oor hulle heilige boek se uitsprake nie. Dit is deur al die eeue heen onveranderd…Tog skeur kerke in die Christendom oor belaglikhede soos klein kelkies vir nagmaal, of een groot tafel en ’n beker.
Dit voel soms vir my of die gemiddelde Afrikaanssprekende steeds vir hulle taal, hulle kerk oorlog toe sal gaan, maar die Woord van God kan ons maar kragteloos maak met ons redenasies, raadsittings, jarelange vergade-rings en eie siening. Ons braai met te veel drank, maak politieke perverse grappe, staan met die een voet in die wêreld en sus onsself aan die slaap omdat ons ander voet darem op ’n Sondagoggend in die kerk was.
Die Gees lei ons in waarheid
Die tyd om God se Woord onverskrokke te volg, is hier! Tradisie en die verdediging van denominasies sal ons die oorwinning laat misloop. Persoonlike mening sal altyd verdeeld wees, maar die Heilige Gees lei ons in die volle waarheid.
Ons gees sal getuig van wat waar en eg is sonder dat mense ons hoef te oorreed, maar waar die eie tradisie insluip, sal verdeeldheid ons laat stik. God se Woord leer ons mos van hierdie verdeeldheid in Matteus 12:25: “’n Regering of koninkryk wat in homself verdeel is, sal nie staande bly nie.”
Hy verander ons in liefde
Eintlik is God se woord geskryf vir eenvoudige mense. Nie die klomp wat redeneer en argumenteer nie. Jesus soek ’n Bruid wat Hom voetstoots liefhet en vertrou – Sy Woord as die enigste waarheid aanvaar met ’n lewe wat getuig daarvan. Sy lering was nog nooit die gewilde een nie.
Sy Evangelie nog nooit inklusief nie. Sy Woord leer dat elkeen wat in Hom glo en Sy Naam bely, die reg het om ’n kind van God genoem te word. Hy het ons voetstoots lief, net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons te los soos ons is.
Leef dit en glo dit
Laat ons “ja” ons ja wees en ons “nee” ons nee. Laat ons opinie geanker wees in wat ons in Sy Woord vind. Jesus kom, of ons gereed is of nie, maar dít vir ’n rein Bruid. Godsdiens en tradisie word gekry by die man wat in die kerk sit, maar aan sy visvangs dink. Die ware Bruid van Christus sit dalk langs die viswaters, maar het God se Woord in die hart. Die rein Bruid lééf dit, gló dit, verdedig dit en vind vrede daarin!
________________________________________
GRETHA WIID is ’n verhoudingskenner, gasspreker en skrywer. Volg haar op facebook of twitter