
Verbeel jou dat jy deel was van die Israeliete wat so pas uit Egipte vrygekom het. Jy het die ongelooflike krag van God met jou eie oë aanskou. Jy het in eerbied gekyk hoe die water van die Rooi See verdeel het en jy en jou landgenote op droë grond deurgestap het.
Veilig aan die anderkant, het julle weer gesien hoe die see na normaal terugkeer en die verskrikte en bevreesde Egiptenare verswelg het. Jy het die manna wat God uit die hemel gestuur het vir julle om te eet, geproe en die water wat uit die rots gevloei het op Sy bevel, gedrink. Ja, jy het God se krag om te red, gesond te maak en te voed, gesien en ervaar. Jy het ook gesien hoe Hy kan uitroei en uitdelg.
HEILLIGE ONTSAG VAN GOD
En nou, nou staan jy saam met die volk voor die berg van God – Sinaï! Dit is omhul deur rook en wolke, amper soos rook wat uit ‘n vuurwarm oond kom. Skielik is daar weerlig. Donder. Die berg skud en bewe. En jy – jy sidder. Jy val op jou aangesig neer saam met al die ander en skreeu aan Moses: “Jy moet maar met ons praat. Ons sal na jou luis¬ter. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.” Eksodus 20:19.
GOD PRAAT MET DIE VOLK
Wat ‘n ongelooflike dag toe die Almagtige God Self op hierdie reuse graniettroon kom sit het en Sy Wet aan die volk deurgegee het! Dit was die instruksies tot effektiewe leefwyse van die Skepper Self! Hierdie keer het God nie die stem van ‘n profeet gebruik nie, maar in Sy eie stem gepraat.
Hy het nie die vinger van ‘n griffier gebruik nie, maar met Sy vinger op die kliptafels geskryf. Dit was God se Tien Gebooie, Sy morele Wette vir die hele mensdom. En jy – jy wat op jou aangesig in die stof gelê het toe die berg geskud het, sal dit nooit ooit eers waag om daaraan te dink om hierdie wette te oortree nie. Want, het jy nie met jou eie oë aanskou wat gebeur met diegene wat nie na God luister nie? En jou landgenote, die wat saam met jou onder die verdrukking van die Farao uitgetrek het, het heilige ontsag vir en gehoorsaamheid aan God gehad.
HARTSGESINDHEID VER¬ANDER
Maar… sedert daardie dag wat God Sy Wet aan die mens deurgegee het, het so baie nasies en individue hulle teen hierdie Wet verset. Die nalatenskap van dié verset kan vandag gevind word in hospitale, tronke, sielsiektehuise, oorlogslagvelde en die ander ‘glyplekke’ van die lewe.
Wat duisende jare gelede waar was, geld vandag nog. Jy kan die Wet van God nie verbreek nie; jy kan jouself egter daarop breek. God sê: “Jy mag nie moor nie,” “Jy mag nie steel nie.” Die moderne samele¬wing het sy rug op God gedraai en ‘n wêreld geskep waar baie min mense deesdae nog weet wat regtig reg en verkeerd is. Diefstal en moord is aan die orde van die dag.
DRAMATIESE GEVOLGE
Dit wil soms voorkom asof die hele samelewing die rug op God se Wet gekeer het, met baie onaangename gevolge. Mense tree op asof die Wet van God ‘passé’ – ‘n oorblyfsel uit vergange se dae – is. Maar die waarheid is dat hierdie wette die lym is wat ons samelewing aanmekaar hou. Ons samelewing het al so ver agteruitgegaan, dat sommiges nie eens besef dat hulle God se Wet verbreek nie. Die gevolg hiervan is dat ons samelewing onstabiel, skrikwekkend en gevaarlik geword het. God het ons Sy wette met ‘n baie spesifieke doel gegee. Dit was beslis nooit Sy begeerte om ons as mense te verhoed om ‘n goeie lewe te hê nie. Hy het dit vir ons gegee omdat Hy ge¬weet het as ons dit volg, sal ons ons volle potensiaal bereik en dat ons dán seuns en dogters van die lewende God sal wees.
STEMME VAN DIE 20STE EEU
Vir die grootste deel van die twintigste eeu was mense gewillig om na alternatiewe stemme te luister. Stemme van mense soos Karl Marx wat verkondig het dat die mens nie deur God se Wet beheer word nie, maar deur ekono¬miese magte.
Nietzsche het blatant ver¬klaar “God is dood” en dat die mens slegs deur mag beheer word; Freud wat wyd en syd verklaar het die mens word slegs deur sy seksuele begeertes gedryf en beheer; Darwin wat net een wet aangehang het – oorlewing van die sterkste. Wat het van hierdie ‘name’ se erflating oorgebly?
NALATENSKAP AAN SKERWE
Van kommunisme het slegs die bitter ge¬skie¬denis van marteling, moord, korrupsie en verraad teenoor die onskuldiges oorgebly. Nietzsche se teorie het tot die sekulêre geloof – Humanisme – gelei. Die oortuiging verhef die mens tot God.
GOD SE ERFENIS VERWRING
Freud word nie eers meer in sielkundige kringe gereken nie en sy teorieë het onberekenbare skade aangerig en ‘n seksuele revolusie tot gevolg gehad wat God se mooiste en beste nalatenskap aan die mens totaal verwring het.
En Darwin? Sy sienings is ook grootliks deur wetenskaplikes ver¬werp, veral deur die wat in die genetika-veld werksaam is. Waarom? Sy teorie pas net nie by die feite in nie. Tog is daar duisende mense wat nog blindelings aan die evolusie¬teorie glo, eer-der as om die waarheid – nl. dat God die heelal geskape het soos die Bybel sê, te glo.
Die eenvoudige waarheid is dat God se Wette nie relatief is nie. Dit is absoluut en onveranderbaar. Hierdie feit spruit uit etlike duisende jare se wêreldgeskiedenis. Jesus Christus, ons Here, het Self in Matt 5:17-19 gesê: “Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet en die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.
Ek verseker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Ja, dit sal geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail res¬pekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in Sy koninkryk.”
DRIE SOORTE WETTE GEGEE
Toe God met Moses op Sinaï gepraat het, het Hy drie soorte Wette deurgegee. Die eerste was die siviele wette – die wette vir die regering van Israel. As jy die Ou Testament lees, is dit maklik om hierdie wette te herken, want die straf as die wette verbreek word, word genoem en dit is gewoonlik iets soos ‘n boete, houe met die sweep of doodstraf.
Let tog op dat daar in die antieke Israel geen tronke was nie. Babilon het tronke gehad, die Assiriërs het en so-ook die Romeine. Maar nie die Jode nie! Hulle het dit nie nodig gehad nie, want as dit nodig was, is oortredings baie vinnig, en soms ook ernstig wanneer nodig, gestraf.
SEREMONIËLE WETTE
Die tweede soort wette word in die eerste vyf boeke van die Bybel gevind – die sere-moniële wette. Hierin is die sonde-offerhande, die oortredingsofferhande en al die verskillende soorte offerhande van die Joodse godsdiens vervat. Al hierdie offergawes was ‘n voorskou van die werklike offergawe – Jesus Christus aan die kruis – wat nog moes plaasvind. Toe Christus Sy lewe gegee het “as soenoffer vir baie”, het dit verander. Dit was nie meer nodig om seremoniële offers te bring nie, want Jesus het die prys eens en vir altyd betaal.
Toe Johannes die Doper Jesus na hom toe sien kom het, het hy uitgeroep: “Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh 1:29. Met Sy opstanding het die vereistes van die seremoniële wette verval. Dit is nie meer nodig nie, want God het ons vergewe, ons is gesuiwer, gered deur die Bloed van Christus.
MORELE WETTE
Daar is ook die morele Wette – vervat in die Tien Gebooie. Hulle verteenwoordig God se morele karakter, en Sy morele karak¬ter kán nie verander nie – nooit nie! Is dit nie belaglik om te dink dat God 3 500 jaar gelede teen diefstal gekant was, maar nou ewe skielik anders voel nie? Is dit nie absolute malligheid om te dink dat owerspel toe ‘n gruwel in Sy oog was, maar dat dit nou nie meer vir Hom belangrik is nie?
En tog, dit is presies wat sekere mense dink! Hulle het die idee dat God mettertyd ‘sagter‘ geword het wat Sy karakter betref. Amper soos sommige ouers wat uiters streng is met die oudste kind, maar die laatlam net mooi alles onder die son toelaat. God is egter konsekwent – Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Hy is regverdig. Sy karakter bly dieselfde.
OPSOMMING VAN SY KARAKTER
Paulus som God se karakter baie kragtig op deur te sê: “As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dat ons die wet ter syde stel? Na¬tuur¬lik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom wanneer ons glo.” Romeine 3:31. Die Ou Testament belowe dat God se Wette eendag op die tafels van menseharte geskryf sal wees.
Vir die Christen wat God aangeneem het en deur geloof gered is, beantwoord elke wet ‘n aspek van die groot vraag: Hoe kan ek só optree dat my gedrag aan God die eer gee, Hom verheerlik en ek die beste moontlike lewe op aarde leef?
Wanneer ek mense raakloop wat sê dat God se Wet nie meer vandag geld nie, vra ek altyd: “Noudat jy in Christus gered is deur Sy genade, het jy nie die begeerte om te doen wat Hy van jou vra om sodoende jou liefde aan Hom te betoon nie?”
Gewoonlik is die antwoord ‘n onomwonde “Ja!” My onmiddellike reaksie hierop is dan dat niks vir God gelukkiger kan maak as dat ons júís Sy Gebooie gehoorsaam nie. Hy wil nie hê ons moet ander maniere bedink om Hom tevrede te stel nie. Soos baie aardse vaders, wil Hy hê ons moet ons liefde betoon deur respek vir en gehoorsaamheid aan Hom.
WET DIEN AS RIGLYN
Vir ons wat God liefhet en deur Sy genade gered is, dien die Tien Gebooie – Sy morele Wette – as riglyn om ons dankbaarheid en liefde vir Hom te betoon. Ons gehoorsaam nie uit vrees nie, maar omdat ons die kinders van ‘n liefdevolle Vader is en ons Hom wil plesier. Ons behoort daarna te streef om soos Koning Dawid in Ps 119: 97 te kan sê: “Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.”