In 2017 betree ons ’n nuwe jaar, ’n jaar van groot betekenis vir ons geloof. Dit is 500 jaar ná die Reformasie (1517): uit die Donker Eeue is ons terug na die Woord (Sola Scriptura); terug na Jesus as enigste Verlosser (Solus Christus); terug na redding uit genade en nie prestasie nie (Sola Gratia); terug na die besef ons word slegs deur geloof geregverdig (Sola Fide); en terug na die verheerliking van God alleen (Soli Deo Gloria). Hierdie ankers van ons geloof gee rigting en ’n doel aan ons Christenskap. Maar wat is mý doel as Christen?
Doellose Christenskap en gebrekkige getuies
Soveel Christene probeer hulle hele lewe lank uitvind wat hulle roeping is of om watter rede hulle geskape is. Baie min Christene kan presies vir jou sê wat hulle doel in die lewe is. Ons beroep, of ’n talent, kom by ons op, maar ons het nie ’n duidelike prentjie waarvoor presies ons geroepe is nie. Vra jy iemand watter deel van die Liggaam van Christus hy/sy is, is daar net so veel onsekerheid. Hoe is dít moontlik as die Skepper God ons Vader is?
As Hy selfs Sy Seun gestuur het om ons dóél te kom openbaar en herstel. Doellose Christenskap verklaar iets van die gebrek aan intensie en uitwerking van ons geloof op die wêreld om ons.
Geskape om twee unieke redes
Let wel: ons doel begin by God, die Een uit wie ons geskep is. Hy skep niks sonder ’n plan nie. Ons is elkeen beslis op aarde vir ’n doel. Kom ons begin by die begin. Die mens is vir twee unieke redes geskape: Om met God in verhouding te wees en om Hom op aarde te verteenwoordig (Genesis 1:26).
Die realiteit van ’n lewende verhouding
’n Lewende verhouding met God begin as ons tot wedergeboorte kom. Wat is ’n ‘lewende verhouding’? Die bewys van lewe is wisselwer-king/interaksie; dit kom van twee kante af. Ons verhouding met die Here stem hiermee oor-een: dit moet van twee kante af kom. Dit word verál ’n realiteit as ek Sy stem begin hoor. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt 4:4). Die probleem is nie dat God nie praat nie, maar ons wat dit nie hoor nie.
Hoeveel van ons gebede is slegs ons wat met God praat? En in hoeveel gebede luister ons na God se stem?
Navorsing deur die bekende Barna-insti-tuut toon aan Christene bid gemiddeld minder as 1 minuut per dag. Dit verklaar die gebrek aan doelgerigtheid in ons Christelike lewenswandel. Ons ontvang nie ons Vader se instruksies nie. ’n Soldaat kan hoé fiks en gereed wees vir die oorlog, maar hy beteken niks op die oorlogsveld as hy nie instruksies van sy bevelvoerder ontvang nie. Jesus is ons Bevelvoerder. Selfs Hy het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so” (Joh 5:19). Om ons doel volledig uit te leef begin dus om God se stem te hoor – en dit te dóén.
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!