Mnr. SA Adriaan Bergh: Bou Op Die Regte Fondament

Op drie-en-twintigjarige ouderdom was dié student aan die Universiteit van Pretoria en veelsydige sportman die jongste nóg wat hierdie glansryke titel verower het. JUIG! het met die jongman, wat ’n passie vir die lewe het, maar onwrikbaar is in sy geloof in Jesus Christus is, gesels.

Jy is ’n Bosvelder in murg en been. Hoe hanteer jy die glanswêreld waarin jy nou, uit die aard van jou titel, gedwing word in die lig van jou agtergrond?
Die Bosveld sal altyd ’n deel van my wees, juis omdat ek daar opgegroei het. Tog geniet ek op die oomblik die stadslewe en die glans wat daarmee saam kom omdat hier tans so baie geleenthede vir my is. Ek gaan ook nou aan my ‘persoonlike handelsmerk’, wat ek volgende jaar gaan bekend stel, werk.

Naas ’n uitstekende sportman, is jy ook ’n suksesvolle model. Die modelwêreld word deur so baie as leeg en oppervlakkig beskou. Hoe hanteer jy dit?
Dis eintlik ’n storie met ’n kinkel. Ek is nog altyd ’n groot sportman en nie ’n model nie. Ek is maar toevallig deur een van hul ‘spioene’ raakgesien toe ek deel van ’n sportspan was. Van daar het dit na die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie gelei. Baie mense kyk bloot na modelle se uiterlike.
’n Mens moet versigtig wees om nie te veralgemeen nie – ek glo dat ek meer het om op die stadium te bied as net my voorkoms. Ek glo my akademiese agtergrond, my persoonlikheid en ook my sporttalente maak my veelsydig en veelkantig. Voorkoms kan té maklik van jou weggeneem word om net bloot daarop staat te maak.

Jy is ’n uitgesproke Christen, het aan ’n kompetisie deelgeneem wat grootliks op voorkoms fokus en deur baie in ’n negatiewe lig be¬skou word. Hoe reageer jy hierop?
Dit bly vir my ’n uitdaging om vir mense te vertel waaroor die kompetisie regtig gaan: beslis nie net voorkoms nie! Dit is so dat jy goed moet lyk, en goed versorg moet wees, maar die innerlike tel veel meer as die uiterlike! Ek is beslis ’n uitgesproke Christen en my lewe is op geloof in Christus en Christelike waardes, soos wat my ouers dit aan my oorgedra het, gebaseer. Ek glo ek sou nooit hierdie kompetisie gewen het as dit nie Here se Wil was nie.
Dit bied my die geleentheid om die Skrifgedeelte in Matt 5:14–16 uit te leef – “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie wegge¬steek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit dan onder ’n emmer toe nie. Allesbehalwe! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander.
Dan maak dit vir almal lig in die huis. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal mense dit sien, en julle Hemelse Vader daarvoor prys!”
Ek glo ek sal dit met Sy hulp regkry om vir Hom te skyn. Ek gee Jesus Christus al die eer vir waar ek vandag in my lewe is! Ek glo ook dat deur voluit te lewe en alles na die beste van my vermoê te doen, ek Hom vereer wat aan my die talente gegee het.

Jy is jonk en enkellopend. Hoe bly jy rein in die hierdie glanswêreld waarin jy jou nou bevind?
Ja, ek is nog enkellopend, want ek het nog nie my regte lewensmaat ontmoet nie. Ek is ook nog baie jonk en glo die Vader het vir my die regte maat vir wie ek kan aanvul en wat my sal aanvul. Dit is waar dat die uitdagings daagliks meer word hoe meer ’n mens die glanswêreld betree.
En dit ís ’n groot toets vir my. Met Sy hulp sal ek altyd by my Christelike morele waardes hou. Ek beskik darem ook oor uitstekende selfdissipline, en dit help ook.

As Mnr. Suid-Afrika is jy baie bedrywig. Hoe maak jy tyd om, te midde hiervan, by God uit te kom?
In die sakewêreld is almal altyd besig, maar ek weet waarom ek op aarde geplaas is – ek het ’n doel in Hom en Jesus bly steeds Nommer Een! Geen mens wat erns maak met God kan ooit te besig wees vir Hom nie. Dis net reg om vir Hom tyd te maak.

Jy word as ‘ambassadeur vir Suid-Afrika’ gesien. Wat beteken die begrip vir jou en hoe verwesenlik jy dit?
Dit is beslis vir my ’n baie besondere voorreg om ’n ambassadeur vir die land te wees en ek streef daarna om te alle tye ’n voorbeeld vir almal in ons land, veral die jongmense, te wees. Dit is juis hier waar Matt 5:14 en verder, weer inpas. Ek weet ook dat ek nie perfek is nie, maar wanneer ek foute maak, wat beslis sal gebeur, weet ek dat Hy my sal ophelp.

Jy was in 2010 deel van die Vodacom Bulls, maar ’n besering het jou loopbaan kortgeknip. Vertel ons meer hiervan en hoe het jy dit hanteer?
Ek het ’n kniebesering opgedoen en dit was vir my nogal ’n slegte tyd, want ek kon geen sport doen nie. Dit was nog altyd my droom om ’n professionele sportman te wees; ek moes myself baie gou reg¬ruk en ander, nuwe drome na¬streef, daarop fokus en hard werk. As Christen glo ek dat niks ooit sonder ’n doel met ’n mens gebeur nie. Ek het reeds ’n paar drome verwesenlik en ek glo daar is nog groot dinge wat wêreldwyd op my wag.

Jy was op uni¬ver¬siteit (Tuks) deel van die Akade¬mie¬se Goue Sleutel. Hoe belangrik is die akade¬mie vir jou en beoog jy om jou kursus in die toekoms te gebruik?
Akademiese kwa¬lifikasies is baie belangrik – ’n mens kan nooit té goed gekwalifiseerd wees nie. Ek glo ’n mens moet daarna streef om die heel beste waartoe jy in staat is, in alles wat jy aanpak, te wees. Ek het dus nie net op my sport gefokus nie, maar ook my heel beste op akademiese gebied nagestreef.

Ek lees op jou webwerf dat jy nooit met tweede beste tevrede is nie. Is dit vir jou belang¬rik om altyd die toppresteerder in alles (akademie, sport en ander) te wees?
Ek was van jongs af so – ek het altyd my pa uitgedaag met enigiets net om hom te kon wen. Ek stel baie hoë eise aan myself en ek glo dit is die rede, bo en behalwe dat ek tot alles in staat is deur Hom wat my help en krag gee, waarom ek tot dusver suksesvol was in alles wat ek aangepak het.
Jy wil die jeug graag leer hoe om 24/7 gebalanseerd te wees. Wat behels hierdie ‘balans’ alles vir jou?
Baie mense is van me¬ning dat geld jou gelukkig kan maak, dit is egter nie waar nie.
Balans en selfaanvaarding is uiters belangrik. Daar moet altyd balans wees: in jou geloofslewe, jou familie, werk, sport, ontspanning en menseverhoudings. Dit is deel van die geheim tot sukses. Ek wil graag met die jeug gesels en hulle motiveer om na balans in hul lewens te streef.

Wat wag vir Adriaan as hierdie gloriejaar verby is?
Ek toer van mid-Januarie 2012 tot die einde van Februarie deur al nege provinsies en ek beoog om meer as 50 skole te besoek en met die jongmense te gesels. Ek gaan ook sakekamers, waar ek motiveringspraatjies gaan doen, besoek.
Ek wil graag die boodskap ‘Hoe om ’n gebalanseerde leefstyl te handhaaf’ wat op vyf punte gaan fokus, bring. Dit is ook my ‘handelsmerk’ – Balanced 24/7 – wat ek in die komende jaar wil vestig. +