Dat tye baie verander het – veral in Suid-Afrika – kan niemand oor stry nie. Ons kinders kan nie sommer meer met fietse in strate ry, bioskoop toe gaan of sommer net by maatjies gaan kuier nie. Jy kan ook nie sommer meer enige storieboek of dvd vir hulle koop nie.
Grootmense se gesprekke gaan deesdae óf oor rugby óf geweld óf oor een of ander stygende prys wat dreig om die brood van die tafel en klere van ons lywe te stroop; die nuutste kaping of slimste inbraak in die buurt. Al meer en meer mense word vasgevang deur ’n vreesagtige wurggreep wat jou na die naaste “houer” wil laat soek wat Australië toe gaan.
Op die wêreldverhoog lyk dit of die VSA se boot begin sink en al die slim geldmense en tydskrifte skets ’n al donkerder prentjie vir wêreld-ekonomieë wat op die sinkende doller sal volg. Zimbabwe se ongeregtigheid laat Suid-Afrikaners se kele toetrek, want êrens in ons agterkoppe wonder ons steeds of dit hier ook gaan gebeur.
Die olie-magnate het ná President Bush se toespraak op “wêrelddag” oor die VSA se meganisering deur waterstof, gesorg dat die oliekraan toegedraai word wat die pryse deur die dak laat skiet het. Ons voel almal die druk daarvan wanneer ons nou ons vakansieplanne moet aanpas. Achmedinajad van Iran se blatante arrogansie met die ontwikkeling van sy kernreaktors en dreigende uitsprake om Israel van die aardbol af te vee, bring ’n verwardheid tussen die yster en klei van die verenigde nasies wat nie kan meng nie.
By dit alles lyk dit of die natuur die skripsie van die wêreldkrisis gelees het – dis koud wanneer dit moet warm wees; die ys op die Pole smelt; die water styg en eilande verdwyn; die aardbewings word al groter en al meer; oorstromings en tsunamis verdelg miljoene mense. Die mens doen ál wat hy kan om te keer dat dreigende siekte-epidemies nie uitbreek wat miljoene sal uitwis nie. Vigs en malaria, tering, tuberkulose en longontsteking word al weerstandiger en lyk of dit tong uitsteek vir die mediese wetenskap …. voorwaar genoeg om gewone mense na alkohol en pille te dryf.
MAAR
As ons ook maar net ‘gewone’ mense was wat in die duister rondloop sonder hoop en sonder vrede; dan was dit dalk ’n opsie … maar ons is nie ‘gewone’ mense nie. Ons is ‘n “uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde (voordele) van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig (1 Pet 2:9).
Die Woord het ons reeds voorberei dat hierdie dinge gaan kom en dis nog net die begin van die geboortepyne voordat ons Jesus in die wolke sal ontmoet (1 Tess 4:16 – 18). Die Here het ons voorberei dat ons moet oppas vir onsself – kyk mooi: nie die duiwel nie, maar jouself – dat jou hart nie beswaard word deur losbandige partytjies, dronkenskap en die sorge van die lewe nie en dié dag jul nie skielik sal oorval nie (Luk 21:34). Paulus het aan die Korinthiërs ook hierdie prentjie geskets en gesê dat hy nie elke dag weet of dit sy laaste is nie, en hy het gesê as daar geen hoop of toekoms was nie; dan was dit beter om hom aan drank oor te gee (1Kor 15:13 – 35) …. maar dan sê hy ook eintlik dis nou sommer ‘mampara-praatjies’ … hy sê: “wees nugter en sondig nie” … leer God ken en die vrees sal verdwyn.
Jy sien, Jesus het in (Luk 21:25 – 26) vir ons gesê dat daar tekens in die natuur sal kom, die nasies sal benoud wees as die see en branders dreun en die mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting oor die dinge wat oor die wêreld sal kom … en hier is dit nou die begin daarvan. Is dit nie wonderbaarlik dat ons God ons vooruit gesê het hoe dit sal wees nie. Maak dit jou nie ook opgewonde dat hy presies weet waardeur ons gaan nie? Die aarde het geen pyn wat nie in die hemel gevoel word nie. Jesus het ‘n ‘passie’ vir ons pyn en Hy sê ons moet waak en bid (Luk 21:36) dat ons AL die dinge wat gaan kom kan ontvlug en voor Hom kan staan vir ons prysuitdeling (1 Kor 3:13 – 15).
Hy sê m.a.w. moenie ‘jol’ en drink nie … maar “waak en bid” … ons waak oor ons gedagtes en neem elke negatiewe ding gevange (2 Kor 10:3 – 6). Ons leen nie ons ore uit vir stories wat vrees kweek nie en ons bid om God die outoriteit te gee om ons lewens te beheer en in ons sake in te gryp. Sy oë deursoek die aarde om jou kragtig te steun (2 Kron 16:9) … Hy staan en klop, God is ’n ware heer… Hy skop nie jou deur af nie … Hy vra jou toestemming om jou te help. Hy sê julle kry nie, want julle bid nie reg nie! (Jak 4:1-4). Jesus sê in Lukas 18:1 ons moet aanmekaar bid en nie moedeloos word nie. Hoekom ? Dit verander jou sake.
Ten slotte … Jesus beloof ons dat hy ons SAL kom haal (Joh 14). Hy sê nie hy gaan ons die slegte dinge spaar nie, maar Hy is in al hierdie dinge met ons of ons lewe of sterwe. Christus moet in albei verheerlik word (Fil 1:20); daarom moet ons nie murmureer en altyd bakleierig wees nie. Ons moet kinders van God wees wat skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil 2:14-15 – vry vertaal).
Jy is wat jy eet. Wat eet jy? Wat drink jy? Sy bloed … Sy liggaam?
Jy sal word wat jy eet! (Joh 6:53-57).
Danie
En Hy het met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! (Joh. 11:43)
Jesus se stem roep hierdie woorde waarvoor selfs die dood moes swig.
Martha en Maria het deur die seer van vier dae se rou gegaan. Geween. Gewonder? En alle hoop laat vaar…
2009…En omstandighede het in sóveel Suid-Afrikaners se harte ’n doodsdolk van wanhoop kom steek…
Daar wás en ís soveel beloftes van genesing vir ons mooi land. Soveel hoop en geloof dat ’n reënboog weer oor hierdie nasie se vlag sal skyn. Maar misdaad, moord en rentekoerse is op elke oggend se voorblad. Geestelike en morele verval sien ons op bykans elke tv-kanaal en oral rondom ons. Natuurrampe, siektes, hongersnode en op die horison loer die gevolge van aardverwarming soos ’n monster wat wil toeslaan. Dit alles binne die raamwerk van ’n besige en gejaagde daaglikse lewe. Teleurstelling is in die harte van gelowiges en ongelowiges. Bekommernis en vrees oor ’n hoopvolle toekoms.
Waar anker mens jouself in hierdie stormsterk-maalkolk van onsekerheid? Sekerlik bid duisende christene daagliks Martha en Maria se gebed; “Here, as U hier was, sou ons broer nie gesterf het nie!”….
Die waarheid? Jesus wás daar! Vier dae later as wat almal verwag het. Maar vier dae kon nie ’n verskil maak aan die opstandingskrag van Sy Woord nie! As Hy roep, bedaar die storm!
“Toe Jesus haar sien ween en die Jode sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel…..Jesus het geween.” (Joh. 11: 33-35).
Hy het hulle seer gesien en gevoel. Hy het geweet! En Hy was daar!
Hoop beskaam nie. Want hoop is die anker van die siel. Solank as wat daar hoop is, is daar geloof.
Ek weet daar kom ’n dag dat Jesus met ’n groot stem die wanhoop en ongeloof uit jou hartsgraf gaan roep! Dan kan ons, soos Petrus, in geloof op die water loop; al is die storm nog rondom ons. Dan maak die grootte van die golwe nie saak nie, want ons oë is op Hom! Hy wat saam met ons kan huil. Wat ’n begrafnis bywoon. Wat, al is dit al vier dae te ‘laat’, steeds ’n grafsteen wegrol! Wat net soos vir Martha, vandag ook vir jou en my sê: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” (Joh. 11:40)
Te midde van die feite op dagblaaie, te midde van moedeloosheid en wanhoop, sien ons op die horison reeds die Belofte wat aangestap kom! Ook na ons eie unieke seer toe. Om van naderby saam met ons te huil. Nuwe geloof in ons harte te wek. Herlewing oor ons land te roep! Hoop beskaam nie, want ons God leef!
Daleen.