Feite oor Doen en Karin du Toit:
• Troudatum: 5 Maart 1977
• Kinders: Twee seuns, Renier, getroud met Tanya. Hulle het twee seuns, Neill (6 jaar oud) en Tian (3 jaar oud). Ruan, getroud met Nadia en het drie kinders: Zhuanel (8 jaar oud) Divan (5 jaar oud) en Juan (18 maande).
• Wie en wat is Huweliksfokus: Deon en Karin het in Junie 1994 hul eerste Huwelikseminaar bygewoon en daar vir die eerste keer die Here as Verlosser aangeneem. Hulle het in 1998 as spanlede by Huweliksfokus aangesluit en as deeltydse sprekers opgetree. Sedert Januarie 2002 staan hulle voltyds aan die hoof van Huweliksfokus. Huweliksfokus is onder die beskerming van Brink en Alet Gardner, dr. Arnold Mol, Nevil Norden & ds. Dirkie van der Spuy.
• Wat is Huweliksfokus se visie: Om jou huwelik te belyn met God se plan.
• Wat is hul persoonlike visie: Deon en Karin het ‘n visie saam met hulle kinders en kleinkinders, nl. om mekaar se beste vriende te wees tot God hulle kom haal. Hulle persoonlike visie is om navolgers van Jesus Christus te wees sodat ander dit deur hulle lewens sal raaksien.
Graag deel hulle ondervindings wat hulle opgedoen het met paartjies wat al gekom het vir berading en ook die wat hulle kursusse bygewoon het. Na hul mening is die grootse rede hoekom huwelike swaarkry, beslis finansies.
Hoe, volgens julle, redeneer die meeste egpare?
Egpare dink verkeerdelik dat ’n tekort aan geld die probleme in die verhouding veroorsaak. In werklikheid gaan dit eerder oor die volgende:
• Hulle kan nie kommunikeer oor die werklike probleem sonder om mekaar skuldig te probeer maak nie;
• Hulle wil nie hul eie skuld en verantwoordelikheid erken nie;
• Hulle gee meer uit as wat hulle verdien;
• Hulle werk nie volgens ‘n begroting nie;
• Hulle verstaan nie dat ‘n emosionele leemte in hul lewens tot emosionele spandering kan lei nie;
• Hulle dink dat vreugde in die lewe gaan oor dit wat hulle kan koop of besit i.p.v. dit wie hulle is en waarvoor God hulle wil gebruik op die aarde;
• Mense wat tans in krisisse sit as gevolg van die ekonomiese druk, is nie bereid om drasties af te skaal nie.
Die oplossing vir die meeste uitdagings, ook in finansies, begin by wie jy is en wat jou skeppingsdoel op aarde is. Geen kontantbedrag kan mense se finansiële krisis permanent oplos nie. In die meeste gevalle skuif dit die oorspronklike probleem uit met ‘n paar maande en voor hulle hulle oë uitvee, is daar weer geldnood. Die Bybelse waarheid is in Psalm 24: 1 en Haggai 2:8 Dat alles aan die Here behoort. “ Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leerskare”
Om werklik die finansiële knyptang se houvas te verbreek, begin by ‘n baie diep selfondersoek:
Wie is ek vandag en wie wil ek wees?
Wie is ek vandag?
• Is ek ontevrede en onvergenoegd met my huidige omstandighede;
• Is ek jaloers op ander se besittings;
• Is ek skaam vir wat ek besit en hoe ek en my gesin lyk;
• Voel ek ek is op meer geregtig;
• Voel ek ingedoen deur die lewe;
• Plaas ek die skuld vir my omstandighede op ander.
As jy dalk ‘ja’ antwoord op van hierdie vrae, moenie skuldig voel nie! Die feit dat jy dit kon identifiseer, is klaar ‘n massiewe oorwinning. Baie geluk. Nou kom die moeilike deel: wat gaan jy doen daaromtrent?
Begin by wie jy graag wil wees, nie wat jy wil besit nie:
• Ek wil ‘n vergenoegde, tevrede persoon wees;
• Ek wil rustigheid en vrede uitstraal;
• Ek wil alle mense met God se liefde bedien;
• Ek wil hê mense moet veilig voel by my;
• Ek wil nie deur spanning en angs beheer word nie, maar deur God se liefde;
• Ek wil nie altyd baklei en kort van draad wees nie, maar lankmoedig en vredeliewend.
Daar is ook stappe wat mens kan neem tot finansiële herstel:
•
1. Moenie terug gaan na Egipte toe nie. (Jeremia 42). Baie mense sit in finansiële krisis omdat hulle ongehoorsaam is aan God. In die skrifgedeelte sê Jeremia dat die volk probleme het as gevolg van afvalligheid. As hulle dink die oplossing lê in terugkeer na Egipte, maak hulle ‘n fout, want die Here sal die swaarkry hulle laat volg. Die antwoord lê in bekering tot God en werklike verootmoediging voor God. Hy sal dan die uitkoms gee
2. 2. Moenie jou saad eet nie. (1 Korintiers 9:10) Soos bo, is die bedoeling dat die lesers die skrif moet gaan lees. God gee saad om te saai en brood om te eet. Van elke sent wat ek ontvang uit God se hand uit moet ‘n gedeelte gaan om vir my en my gesin kos te koop, met ander woorde: algemene versorging, MAAR ‘n gedeelte moet as saad gesien word wat weer in die grond gesit moet word sodat dit ‘n oes kan word oor ‘n seisoen.
3. Begin om stelselmatig uit jou skuld uit te kom. En dit kan jare neem. Moenie moedeloos raak nie, glo God wanneer hy sê: Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê.
4. Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Dit beteken nie die begeerte na bv.’n nuwe huis nie, maar ‘n nuwe begeerte bv. om Hom te dien, om goed te doen, om lief te hê en te vergewe.
5. Soek allereers die Koningkryk van God.
Wat kan ons prakties doen om uit ons penarie te kom?
Begin, soos Moses, by die brandende braambos – by die begin. Skryf jou doelwitte en beginsels neer. Geniet dit wat jy doen deur te saai en harder te werk. Dis wys om raad by ander mense wat die pad al gestap het, te gaan soek.
Skryf neer presies wat jou bates en laste is.
Neem in ag dat daar net drie dinge is wat ek met my geld kan doen:
Harder werk en meer geld maak;
My skuld afbetaal om meer kontant te hê;
Goedere en besittings verkoop.
Besluit oor die bogenoemde en wat jy wil doen om meer kontant in jou hand te kan kry. As dit vir jou te moeilik is om die besluit te neem, moet jy by ‘n finansiële adviseur uitkom vir hulp.
Onthou alles behoort aan God – so gee oor aan Hom. En moenie bekommerd wees nie, maar bid daaroor! “ Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles, Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Fil 4:6.