Naledi: Hoe nou gemaak?

Die internasionale en plaaslike media het die afgelope tyd gegons oor die openbare aankondiging op 10 September van beendere wat wes van Johannesburg gevind is en as Homo naledi beskryf is. Sommige Christene is besorg oor hoe om op hierdie soort aankondigings te reageer. Die Christen-gemeenskap het vandag ’n goed toegeruste arsenaal bronne, soos dié van Creation Ministries International, om aannames oor ’n evolusionêre beskouing van die mens se oorsprong te verstaan en te weerlê.
Berger is ’n energieke fondsinsamelaar en ’n meester om ’n openbare gehoor te boei Professor Lee Berger van die Universiteit van die Witwatersrand, ’n paleoantropoloog en leier van die span wat die navorsing in die sogenaamde ‘Wieg van die Mensdom’ gedoen het, is ’n “glanswetenskaplike” wat goed weet hoe om maksimum publisiteit te ontlok – iets wat selfs die evolusiegesinde media erken. National Geographic het gesê: “Berger is ’n energieke fondsinsamelaar en ’n meester om ’n openbare gehoor te boei.”
Joernaliste van regoor die wêreld, sowel as sakemanne, glanspersoonlikhede en politici, het die amptelike geleentheid by Maropeng bygewoon. In wat moontlik ’n poging is om die soort “afjak” te vermy wat sy aankondiging van Australopithecus sediba van wedywerende paleoantropoloë in 2010 ontvang het, het Berger ’n aantal internasionale “jong weten-skaplikes – sommige met die ink nog nat op hulle Ph.D’s” – betrek by die navorsing en hy het ook toegesien dat hulle bevindinge in die aanlynjoernaal, eLIFE, gepubliseer word.
Skraal wetenskaplikes vir die ekspedisie
Die spesifieke grot waar die beendere gevind is, is in 2013 deur die twee grotkruipers, Steve Tucker en Rick Hunter, ontdek. Hulle het die vonds aan Berger gerapporteer wat toe, weens die nou ingang na die grotte, op Facebook geadverteer het dat hy skraal wetenskaplikes soek om die vonds te gaan ondersoek. Hy het ’n span van ses vroulike wetenskaplikes saamgestel wat die beendere tydens ekspedisies in 2013 en 2014 herwin het.
Daar is tot dusver ongeveer 1 500 bene herwin, heel moontlik verteenwoordigend van ten minste 15 individue. Daar word geglo dat daar nog baie beendere in hierdie merkwaardige vertrek, genaamd Dinaledi (‘sterre’ in Sesotho), lê. Hierdie grotkamer is blykbaar nog nie voorheen ontdek nie, alhoewel die ander grotte in die omgewing al deeglik verken en bestudeer is. Dit is ook die terrein waar fossiele soos mev. Ples, die Taung-kind en meer onlangs, Australopithecus sediba gevind is. Hulle is almal onder dieselfde genus, Australopithecus, geklassifiseer.
Wat moet ons van die jongste aankondiging dink?
Die eerste beginsel om in gedagte te hou, is die aard van die wetenskap wat sulke interpretasies van fossielbewyse rugsteun. Dit betrek historiese of oorsprongwetenskap – die interpretasie van die onwaarneembare, ontoetsbare geskiedenis van die bewyse, in hierdie geval – beendere. Die subjektiewe aard van hierdie interpretasie word wyd erken, selfs deur bekende evolusionistiese paleoantropoloë soos Darren Curnoe, wat die volgende gesê het: “Niemand benader ’n fossiel heeltemal onpartydig nie. Ek dink dat ons in ’n sekere mate ook sien wat by ons beskouing inpas. Dus, jy bestudeer ’n fossiel met jou siening van evolusie en jy pas dan onmiddellik daardie fossiel by jou wêreldbeskouing in.” Dus erken Curnoe en talle ander naturalistiese wetenskaplikes toenemend dat dit die wêreldbeskouing is wat die dryfkrag agter die interpretasie van bewyse is, nie andersom nie.
Wat hierdie aankondiging anders maak, is dat al die vorige hominide-fossiele in hierdie gebied as australopithecines aangewys is. Prominente evolusionistiese meningsvormers, soos Charles Oxnard, het Australopithecus spp. afgemaak as unieke, uitgestorwe primate wat irrelevant tot menslike evolusie is en anatomies verder van ape verwyder is as van mekaar. Met betrekking tot A. Sediba: “Alhoewel die doyens van paleoantropologie hom (Berger) krediet gegee het vir sy ‘verstommende’ ontdekking, het die meeste kenners egter sy interpretasie daarvan verwerp. A. Sediba was te jonk, te eiesoortig en nie op die regte plek om ’n voorsaat van Homo te wees nie: Dit is nie ’n mens nie.” Om die kalklig terug te wen, moes Berger ’n Homo vind. H. Naledi oorvleuel anatomies genoeg om te kwalifiseer, ten minste dan voorlopig, vir die plasing in daardie genus.
Teenstand vanuit evolusionistiese gemeenskap
Creation Ministries International (CMI) vors tans die aannames na en sal in die toekoms ’n volledige tegniese assessering publiseer. Tot tyd en wyl weerhou ons ons van uitsprake rakende die afkoms van die beendere – hetsy van mense of van ape. Wat dit wel nié is nie, is een of ander verlore skakel tussen aapagtige voorsate en die mens – wat Berger en sy span duidelik te kenne probeer gee.
Die interpretasie as ’n nuwe spesie van Homo kry reeds teenstand vanuit die evolusionistiese gemeenskap.
Beskrywings van hierdie skepsels in die literatuur gee onder meer weer dat hulle “voete het wat ononderskeibaar is van moderne mense s’n”; die “vermoë gehad het om gereedskap te gebruik”; kon deelneem aan “rituele…om liggame te verwyder”; en laastens dat “ Homo nale-di vuur kon gebruik het om lig te maak.”
Bloot Homo Sapiens?
’n Mens sal moet wag om te sien of die evolusionistiese gemeenskap hulle by die siening gaan skaar dat die beendere Homo is of bloot Australopithecus. Maar hoekom wil ’n mens die beendere as
H. Naledi etiketteer as daar so ’n sterk aanduiding is dat hulle gewone mense was met ’n paar unieke anatomiese variasies? Daar is vandag net so ‘n variasie tussen verskillende mensegroepe wat almal van net twee mense, Adam en Eva, afstam – die eerste twee mense wat deur God geskape is.
Tim White van die Universiteit van Kalifornië, wat ’n ander beskouing oor menslike evolusie het, glo dat die beendere aan die spesie
H. Erectus behoort wat in die 19de eeu benoem is. Volgens beriggewing het hy gesê: “Nuwe spesies moenie goedsmoeds geskep word nie. Om ’n nuwe spesie te verklaar, moet ’n mens kan bewys dat dit verskil van enigiets wat reeds bekend is.”
H. Naledi is inderdaad beskryf met eienskappe “soortgelyk aan vroeë Homo-spesies, insluitend Homo erectus, Homo habilis en Homo rudolfensis”. Daar is ’n toenemende aantal evolusionistiese paleoantropoloë wat vandag argumenteer dat dit ’n arbitrêre benaming van spesies vir ’n variasie van die mens is. “Met ander woorde, in plaas daarvan dat Afrika voorheen die tuiste was van veelvuldige menslike spesies soos Homo erectus, Homo habilis, Homo ergaster en Homo
rudolfensis is, is al hierdie voorbeelde dalk net bloot Homo erectus.” Wetenskaplikes soos Wolpoff het al so lank gelede soos 2001 geargumenteer dat genoemde “spesies” eintlik almal onder H. Sapiens moet ressorteer – dus onder “mens”.
Oorblyfsels van bejaardes, jong volwassenes, jeugdiges en kinders is op die terrein gevind. Daar is ook drie gefragmenteerde
skedels gevind. Behalwe vir die subjektiewe aard van die rekonstruksie van die skedels, val die gemelde breinkapasiteit van ongeveer
560 cm3 wat gebruik is om die “primitiewe” interpretasie van die oorblyfsels te regverdig, goed binne die bestek van groottes vir kinders en selfs patologiese volwassenes.
’n Gebrek aan datering
Die gebrek aan enige poging om die beendere te dateer, is ’n opvallende weglating. Dit wil voorkom of die wetenskaplikes wat betrokke is, ’n ouderdom van ongeveer twee miljoen jaar oud sal verkies, wat hulle sal help om dit as die perfekte “skakels” tussen Australopithecus en Homo in evolusionistiese aannames te plaas. Berger se verskoning vir die weglating is dat hy “gevoel het dit nie eties sou wees om hominïede-materiaal te vernietig voordat dit beskryf is nie; om die monsters te dateer sou beteken dat die materiaal vernietig word.” Aangesien daar meer as 1 500 stukke verwyder en ondersoek is, en hulle self erken het dat daar moontlik nog duisende beenfragmente in die grot agtergebly het, kon hulle seersekerlik een stukkie been vir radiometriese datering opgeoffer het?
Kan die bene dalk redelik jonk wees?
Die Berger et al-artikel wat die geologiese konteks van die vonds beskryf, verwys herhaaldelik na die reste as “beendere” en as slegs “gedeeltelik gemineraliseerd.” Hulle is ook nie eers uit versteende sediment opgegrawe nie, maar uit grond “saamgestel wat oorwegend bestaan uit vorige reeds verwerkte oranjekleurige modderreste ingebed in ’n bruin modderige matriks – ’n rotsmassaraam.” Baie van die bene het geen opgrawing geverg nie. Die vrouespan “het meer as 400 fossiele op die oppervlak gekarteer en ingesamel, en toe begin om die grond rondom die skedel wat half begrawe was, versigtig te verwyder.” As ’n mens daaroor dink, kon dit net sowel ’n beskrywing van die verwydering van bene van ’n oorlogsveld in die Tweede Wêreldoorlog wees. Dit is alles ’n aanduiding dat die bene redelik jonk kan wees, in welke geval koolstof-14 die vanselfsprekende dateringsmetode sou wees.
Die rede hoekom 14C-datering nie op die bene uitgevoer is nie, is omdat die aannames ten grondslag van 14C-datering, wat aan evolusionistiese wetenskaplikes sowel as skeppings-wetenskaplikes bekend is, ’n maksimum teoretiese “ouderdom” van 50 000 tot 100 000 jaar aangee vir enige monster wat radiokoolstof bevat. Die aanwesigheid van 14C in hierdie oorblyfsels, sal dus die veronderstelde evolusionêre menslike afkoms duidelik weerlê.
Darwinisme en rassisme
Ironies genoeg word hierdie pseudo-wetenskaplike aansprake (wat heel moontlik in die toekoms uitgedaag sal word deur wedywe-rende paleoantropoloë), deur politici aange-gryp wat in die kalklig van hierdie “wetenskaplike” ontdekking wil baai. Darwinistiese evolusie en sy meelopers, raswetenskap, sosiale
Darwinisme en eugenetika, was die ideologiese grondslag van ’n groot deel van die rassisme van die 20ste eeu. Dit het daartoe gelei dat swart mense in Afrika gereeld soos ape en bobbejane behandel is en ook so genoem is. Dit is hartseer dat sommige van die swart leiers wat dikwels in die verlede betrokke was in die stryd teen hierdie praktyke, vandag gewillig is om hierdie veronderstelde aapagtige voorsate te kus (letterlik in een geval).
Nasate van Adam en Eva
Wat ook al die finale reaksie op hierdie aankondiging, die fossiel-oorblyfsels is óf die van ’n “aapsoort”, óf die van die mens, en indien laasgenoemde, is dit nasate van die historiese Adam en Eva. Hulle het heel moontlik tydens die post-Babelse tydperk gesterf – binne die afgelope paar duisend jaar .
Dus moet Christene nie “meer kinders…wees…wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” (Efesiërs 4:14–16).