Vernietig Teologie Geloof?

Vernietig teologie ’n lewende geloof in Jesus Christus? Sommige pastore en predikante dink so. Hulle mag moontlik goeie redes wat uit slegte erva¬rings gebore is, hê. Dit het byvoorbeeld met Wynand* gebeur. Wynand het Jesus Christus in sy matriekjaar leer ken. Sy lewe het daadwerklik verander. Voorheen wou hy Sielkunde aan die universiteit studeer, maar toe het net een ding werklik getel – om Jesus Christus te dien. Hy het met sy predikant gaan gesels en hulle het saamgestem dat God Wynand roep om die bediening te betree. Na skool het Wynand vir Teologie ingeskryf – opgewonde oor die vooruitsig om dieper in God se Woord te delf
.
Hy het verwag dat sy liefde vir Jesus deur diepgaande studie van die Woord en die verborgenhede daarin opgesluit, asook sy interaksie met mede-studente wat hul lewens aan God toegewy het, aangevuur sou word. Wynand se eerste semester aan die Teologiese Fakulteit was ’n baie groot teleurstelling. Die professore en dosente het skynbaar bitter min passie vir God en Sy Woord gehad. So baie het nie eens meer in Hom geglo nie, ten minste nie as hul Heer en Verlosser nie. Lofprysing en aanbidding het geen plek by die fakulteit gehad nie. Die dosente het hulle geleer dat die Bybel vol foute was en nie op sigwaarde geglo kan word nie. Hy het probeer om met hul te argumenteer, maar hulle het eenvoudig beter as hy geweet en hy het die een debat na die ander verloor. Teen die tyd dat hy sy B.Th-graad behaal het, was hy ’n belydende skeptikus.

Hy het die Bybel geensins vertrou nie en hy het in ’n Jesus geglo wat weinig meer as net ’n goeie onderwyser was. En die vuur wat eens in sy hart gebrand het? Lankal geblus! Hy het wel oor ’n teologiese graad beskik, maar hy was glad nie geskik vir bediening in die kerkverband wat hom aanvanklik vir studie aanbeveel het nie.

Die twee paaie
Wynand se storie is ’n baie algemene een en het veroorsaak dat so baie teologie heeltemal verwerp en tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ’n lewende geloof in Jesus Christus ondermyn. Maar Wynand se erva¬ring is net die een kant van die munt. Hy het ’n baie spesifieke soort teologie bestudeer – Liberale Teologie. Daar is egter ook ’n ander soort – Evangeliese Teologie, wat leer dat dissipels van Jesus Christus God moet liefhê en Sy Woord moet glo. Dít is die twee paaie. Die een lei na twyfel en die ander na geloof.

Die twyfel-pad
Eerstens is daar die pad wat na twyfel en Liberale Teologie lei. Die woord ‘liberale’ beteken in hierdie sin ‘vry van enige in-per¬king’. Liberale Teologie beskou die Christen-geloof as ‘oop vir verandering’. Volgens li¬berale teoloë is vele tradisionele Christelike geloofsoortuigings deur mo¬derne denk¬patrone gediskrediteer; daarom behoort dit veel eerder verwerp as her-definieer te word. Soos jy kan dink, verskil individuele geleerdes ten opsigte van watter geloofs¬oortuiging hulle wil herdefinieer. Sommige liberale teoloë verwerp die Bybel en selfs geloof in God feitlik heeltemal. Die minder geharde liberale aanvaar dat die Bybel redelik betroubaar is ten opsigte van die verwysing na God; sommige glo in Jesus Christus as hul Heer en Verlosser en is ook wedergebore.

Dit is egter waar dat van die geharde li¬berale teoloë anti-Christus aktiviste word in hul poging om hul studente van hul naïewe geloof oor God en die Bybel te probeer bevry. Dit is ook waar dat sommige liberale teoloë Christus en Sy Wil vir hierdie wêreld werklik probeer begryp. Baie liberale geleerdes staan egter tussen hierdie twee denkrigtings wat hul oortuigings betref. Hulle is bloot net professionele geleerdes wie se belangstelling in godsdiens suiwer akademies van aard is. Hulle beskik oor geen passie vir Christus, Sy Kerk of Sy Woord nie en hul passielose skeptisisme word aan hul studente oorgedra.

Wonderwerke onmoontlik
Die twee grondgeloofsoortuigings van die Liberale Teologie behels dat wonderwerke nié meer plaasvind nie en dat die Bybel foute bevat. Die Bybel is nié ’n openbaring van God nie, maar ’n verslag van mense se godsdienstige ervarings, praktyke en geloofsoortuigings.

Liberale teoloë herinterpreteer baie Bybelse tekste en temas ter stawing van hul ongeloof in die bonatuurlike en ook hul oortuiging dat die Bybel nie histories betroubaar is nie. Die verslag oor die Skepping, die Sondeval en die Sondvloed in Genesis 1 – 11 is, volgens hulle, blote mites; die uittog uit Egipte het nie plaasgevind nie (ten minste nie soos die Bybel dit vertel nie). Moses het ook nie die Pentateug (die eerste vyf Bybelboeke) ongeveer 1 400 –
1 200 v.C. geskryf nie (dit is veel later in Israel se geskiedenis vervat), Ou Testamentiese profete het nie die toekomsgebeure voorspel nie, ensovoorts. Kyk ons na die Nuwe Testament, is Jesus nié uit ’n maagd gebore nie, Hy het nié wonderwerke gedoen nie, die meeste leringe wat aan Hom toegedig word, was nie werklik Sýne nie en Hy het beslís nie uit die dood opgestaan nie. Jesus word gewoonlik uitgebeeld as ’n baie goeie onderwyser wat geensins daarop aanspraak gemaak het om God te wees nie. Onthou egter dat, in die klassieke liberale wêreldbeskouing wonderwerke nie plaasgevind het nie en is die Bybel ’n foutiewe verslag – dit is dus regverdigbaar om die Bybelse leringe radikaal te rekonstrueer of te verwerp.

Hoe lyk diesulkes se teologie?
Hoe lyk die teologie as die professor nie glo dat die Bybel God se openbaring is nie? Bybelkursusse neig dan om te fokus op pogings om te probeer vasstel watter dele van die teks eg is en om die ware ge¬skiedenis te probeer herkonstrueer. ‘Ons is bo die teks verhewe en kan oordeel oor wat geloofwaardig is en wat nie.’

Omdat dit nie werklik sin maak om te onderskei wat die Bybel oor ’n sekere onderwerp leer nie, fokus liberale dogmakursusse op die denke van sekere teoloë, soos wat Barth of Bultmann oor God of redding geglo het. In wese, dan, is Liberale Teologie ’n manier om teologie te beoefen sonder die absolute oortuiging dat God leef en aktief in Sy wêreld is, of dat Hy Homself deur die Skrif openbaar.

Die vrug hiervan?
Soos jy jou kan indink, bou dié teologie nie geloof nie. Om die waarheid te sê, dit vernie¬tig geloof in Christus. Daar is so baie, soos Wynand, wat Teologie met ’n diepe oortuiging oor hulle roeping om God te dien, bestudeer net om as ’n verwarde of agnostikus te gradueer. Hulle word net soos hul leermeesters (Luk 6:40).

Instellings wat Liberale Teologie onderrig, het nie in die verlede goeie herderbegeleiding opgelewer nie. ’n Effektiewe pastorale bediening vloei uit ’n rotsvaste geloof in die Evangelie en die Woord van God voort. Indien ’n mens se geloof in Christus ondermyn is, is sy vermoë om namens God te praat en ander tot ’n dieper toewyding aan Hom te lei, ook daarmee heen.

Die geloofspad
In die lig van die dinge wat aan teologiese fakulteite gebeur, is dit dus geen wonder dat vele pastore/predikante geen vertroue in formele teologiese opleiding het nie. In die onlangse verlede het baie kerke be¬sluit om hul leiers intern op te lei en nie na kweekskole te stuur nie; anders kom hulle moontlik as ongelowiges wat nie die tradisionele dogmas of Christelike geloof langer aanhang nie, terug.

Die alternatief?
Evangeliese Teologie!
Evangeliese Christene glo die Bybel! Hulle glo dat God die outeurs van die Skrif geïnspireer het sodat hulle presiés kon neerskryf wat Hý wou hê hulle moes skryf. Daarom is die Woord van God sonder enige fout! Dit is waar en betroubaar. Die Skepping, Sondeval en Sondvloed het gebeur net soos wat dit in Genesis beskryf is.

Die profete hét die toekomsgebeure voorspel, Jesus ís uit ’n maagd gebore, Hy was volkóme God, maar ook volkome mens – net soos wat die Skrif leer. Hy het vir ons sonde gesterf, is uit die dood opgewek en sal eendag weer op die wolke kom. Die Skrif is ons betroubare geloofsgids en lei tot die lewe! Indien die dosente aan die Bybel glo, is teologie iets heeltemal anders. Bybelkursusse bestudeer die Bybelboeke soos wat dit is sodat ons dit kan verstaan en kan toepas.

Dogmakursusse poog om alles wat die Bybel oor ’n spesifieke onderwerp leer, te organiseer. Ons stel onsself onder die gesag van die Skrif en is eerlik in ons soeke om dit te verstaan en toe te pas. Indien God deur die Skrif gespreek het, is dit ons taak om te hoor wat Hy gesê het. Hierdie benadering versterk geloof. Indien Wynand die Bybel aan ’n Bybelgelowige kweekskool sou be¬studeer het, sou sy geloof in Christus en die Evangelie bevestig gewees en sy insig in die Skrif verdiep het.
Hy sou baie van sy professore geleer het omdat hulle ook in God en Sy Woord glo. Hy sou na sy Kerk teruggekeer het en al sy Christelike oortuigings sou bevestig gewees het. Met hierdie nuwe insig om hom te help lei, beraad, onderrig en te begelei, sou hy sy gemeente na God kon lei.

Die gevolgtrekking
Word geloof deur die Teologie ondermyn? Ja en nee. Liberale Teologie probeer om historiese Christelike geloofsoortuigings te herdefinieer en dít vernietig geloof in daardie oortuiginge.

Die Bybelgelowige teologiese benadering lei egter tot geloof met begrip – ’n kragtige kombinasie! Ons behoort nie teo-logie te verwerp nie, want die Bybel waarsku: “Geesdrif sonder kennis help niks!” Spr 19:2. Ons behoort egter opleiding te verwelkom, maar behoort baie seker te maak dat daar onder leermeesters studeer word wat die Woord van God gló. Hou Jesus se raad in gedagte: “’n Leerling is nie belang¬riker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word.” Luk 6:40.

* Skuilnaam om persoon te beskerm.

Deur dr. Kevin Smith