
Niemand sou kon raai dat die seun wat so kaalvuis onder die ander skoolseuns ingeklim het, eendag die visionêre leier van die Vriend van God AGS-kampusse in Goodwood en Vredekloof sou wees nie. Gerald Ferreira se getuienis herinner ’n mens aan leiers soos Dawid of Gideon, wat ’n nederige onnoemenswaardige begin gehad het, maar wat deur Sy werk in hulle, ’n uitwerking op die koers van die samelewing gehad het. Danksy ’n vasberade tannie Vermaak wat herhaaldelik by die Ferreiras se plot langs gery het om die twee boeties kerk toe te nooi, het hierdie jongman ’n ontmoeting met Sy Hemelse Pa gehad. Gerald het een Sondag besluit om saam te gaan en met daardie rit kerk toe, die koers van sy lewe verander.
JUIG! het met pastoor Gerald Ferreira en sy vrou, Liezl, gaan kennismaak. Die hegte band tussen die liefdevolle Ferreira-gesinslede is opmerklik; dit is duidelik waarom hulle gemeente so erg oor hulle is.
Gerald hoe het jy tot bekering gekom?
Om op die plotte in Boksburg groot te word, was somtyds maar swaar – my pa het sy hele lewe lank ’n stryd teen alkoholisme gevoer. Vroeg opstaan en harde werk was van jongs af al deel van my lewe. Saterdagoggende was harde arbeid met ’n graaf, plastieksakke en ’n hoop mis wat gesif en in sakke gegooi moes word om op die straathoeke te gaan verkoop. Ek en my jonger boetie het harder as die meeste ander kinders op ons ouderdom gewerk. Die verwarring wat alkoholisme meegebring het en hoe dit ons gesinslewe beïnvloed het, het my met frustrasie en woede gevul. Die naweek toe ek daar in tannie Fifi Vermaak se kerk my lewe vir die Here gegee het, was juis weer so ’n harde naweek. Ek onthou nou nog die leraar se uitnodiging: God het ons lief en nooi ons om Sy hand te vat. Hy wil ons ontmoet, vergewe en ons toekoms radikaal verander. Ek was verbaas dat ek die enigste een was wat vorentoe gegaan het. Die ouerige oom wat saam met my in die gebedskamer gebid het, sou in die jare wat volg, vir my studies betaal; hy het vandag steeds ’n uitwerking op my Geestelike reis. Ek het oor my woorde gestruikel, maar toe ek daar opstaan, was ek vir ewig verander!
Hoe het jy toe in die bediening beland?
Ek wonder soms of dit God was wat my geroep het, en of dit maar net ’n geval was dat ek Hom voortdurend herinner het dat ek beskikbaar is. Onthou, ek het geen ‘kerkagtergrond’ gehad nie, niemand van my familie of gesin het ooit kerk toe gegaan nie en niemand wou die Ferreiras van die Oos-Rand eers in hulle kroeg laat werk nie, wat nog in die kerk. Maar ek het ’n dringendheid ervaar om by God se werk betrokke te wees. Die leierskap het God se roeping op my lewe erken en my ondersteun en bemoedig.
Mense soos Kallie Calitz en my ma het ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek onthou ook een Sondagaand toe ’n ouer tannie in die kerk ná die diens vir my gebid het. Dit was my eerste kennismaking met ’n profetiese woord. Sy het gesê die Here wys haar dat ek die Evangelie wêreldwyd gaan verkondig en dat Hy my gaan oprig om ’n stem te wees wat die hoop van Sy weg aan ons nasie gaan verkondig.
Hoe is hierdie profesie toe bewaarheid?
Ons kerk het sendelinge in verskeie lande en ek besoek hulle en word ook deur ander instansies genooi om die Evangelie daar te verkondig. Ek wens só ek kan haar vandag vertel oor die lande waar ek al die voorreg gehad het om die Evangelie te verkondig: Rusland, Israel, Engeland, Amerika, Egipte, Zambië en Mosambiek, Indië, Kongo, Rwanda en Malawi.
Ek het die begeerte gehad om God voltyds te dien en dit is deur die leierskap en mense om my bevestig. Dit was alles wonderlik, maar ek het ook geleer dat dít die maklike deel is; om in gehoorsaamheid te wandel, is ’n ander storie. Ek het “ja” gesê en nou vorm Hy my karakter. Daardie proses gaan steeds voort!
Baie mense glo dat hulle ’n roeping het. Hoe kan hulle seker wees?
Volgens Efesiërs 4: 11 het alle kinders van die Here ’n roeping. Dit is belangrik dat jy bevestiging kry vir voltydse bediening – bevestiging deur Skrif, profesie of mense wat jou roeping herken. Bid daaroor en volg dan God se Woord (Psalm 32:8).
Liezl, wat is jou getuienis? (Liezl is beskeie en loop nie daarmee te koop nie, maar het op hoërskool aan SA-atletiekbyeenkomste deelgeneem.)
Direk na ’n SA-atletiekbyeenkoms het my ma my by ’n Christen-tienerkamp gaan aflaai, want volgens haar was hierdie kamp net so belangrik soos die atletiekbyeenkoms. Daar het ek weer ’n nuwe oorgawe gemaak.
Hoe het jy en Gerald ontmoet?
My ma was Gerald se Sondagskooljuffrou. Ek het van hom geweet, maar op daardie stadium glad nie in hom belanggestel nie. Ek het Gerald in September 1998 by ’n selgroep beter leer ken. Hy het die Christenskap vir my ‘n praktiese werklikheid gemaak. Op 14 Februarie 1999 het Gerald, wat intussen pastoor geword het, my by die Woord en Lewe-gemeente in Park Rand gedoop! Vir my was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie; ons liefde vir mekaar het eerder gegroei. Gerald het baie slim, eers my ma en broer se guns gesoek, en dit het gewerk, want ons is nou getroud!
Wat is volgens jou die grootste uitdaging vir Christen-vroue en hoe kan hulle dit die hoof bied?
Ek dink die grootste uitdaging vir die hedendaagse vrou is om haar aktiwiteite en prioriteite daagliks alles in te pas, terwyl sy steeds sinvol leef. Hooglied sê dat jy jou identiteit by God moet vind. Ek dink die gevaar bestaan dat vrouens vandag hul identiteit in hulle man, kinders, beroep, by die wêreld en vriendinne soek, eerder as by God.
Julle kinders woon ’n regeringskool by. Watter raad het jy aan ouers wat bekommerd is oor die negatiewe invloede by die skool?
Ek glo dat as ons as ouers die regte grondslag vir ons kinders lê en ’n goeie waar-desisteem in hulle aankweek, sal hulle hul getuienis uitleef – nie net op skool nie maar ook in die wêreld.
Gerald, baie mense beleef God as ’n kwaai Vader wat straf. Hoe help jy mense wat ’n verwronge beeld van God as Vader het?
Ons moet versigtig wees om nie God die Vader te beperk tot wat ons van ons aardse pa’s beleef nie. God die Vader bly ons Hemelse Vader wat steeds alles in Sy liefde onderhou. God is volmaak en jou identiteit verander sodra jy Sy kind word. Anker jou identiteit in Hom.
Wat is volgens jou God se leiding vir die Kerk vir 2015?
“Ek is die God wat jou gedurende die dag kan lei en die God wat jou in die aand kan lei!” Eksodus 13:21: “En die Here het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek.” So baie van ons besef die dringendheid van die uur. Ons moet met moed en toewyding na vore tree en uitreik na diegene wat nog nie God se genade ervaar en die gebed van vergifnis te bid nie. Daar is opnuut ’n sterk oproep aan die Kerk om God se radikale liefde uit te leef. Uit my gesprekke met ander mense is dit duidelik dat God Sy kinders aanvuur om in hulle gebrokenheid, Sy wil te doen en gewillig te wees om in Sy Naam vir Hom te gaan. Vir te lank het ons ’n leefwyse gehandhaaf wat nie geskik was om Hom te verteenwoordig nie. Wêreldwyd wy mense hulle weer aan die verspreiding van die Evangelie. Met dit in gedagte, weet ek dat God ons die sekerheid gee dat Hy ons be-dags en snags sal lei.
Vriend Van God se kontakbesonderhede:
Telefoonnommer: 021 592 3777 of e-pos:
info@vriendvangod.co.za