Afrikaans het ontstaan uit die mengelmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ’n kultuurpot saamgegooi is. Afrikaans se verhaal begin in 1652 met die aankoms van die Hollanders aan die Kaap. Benewens daardie Hollandse invloed was daar twee ander belangrike groepe wat ’n bydrae gelewer het: die slawe en die Khoi. Afrikaans se wortels lê dus beide binne en buite Suid-Afrika.
Europese wortels
Die 17de eeuse setlaars het verskillende dialekte uit Holland na die Kaap gebring. Die burgers het van verskeie Europese lande soos Holland, Duitsland en Frankryk gekom en het Hollands as hulle moedertaal aangeneem. Baie het heelwat later na die oostelike grense van die Kaap getrek en die tipe Hollands wat hulle gepraat het, is Oosgrens-Afrikaans genoem.
Oosterse wortels
Die slawe uit Hollandse kolonies in die Verre-Ooste, soos Batavia (tans Java), het uit verskillende linguistiese agtergronde gekom, maar almal kon tot ’n meerder of mindere mate Maleis-Portugees (wat self uit ’n soort Pidgin-Portugees onstaan het) praat. Dit was omdat Portugees meestal deur handelaars, soldate en matrose gepraat kon word.
In die Kaap het die slawe nou ook Hollands begin praat. Omdat die slawe hierdie tipe Hollands by mekaar leer praat het (by nie-moedertaalsprekers), was dit ’n vereenvoudigde Hollands wat deur Maleis-Portugees en ander slawetale beïnvloed is. Dit was die begin van die Kaapse Afrikaans.
Oorblyfsels van Maleis-Portugees is steeds in moderne Afrikaans te vind in woorde soos: baie, koejawel, makou, blatjang, bobotie, sosatie en piesang.
Suid-Afrikaanse wortels
Die inheemse Khoi-bevolking het ook ’n invloed op Afrikaans gehad. Die boere en Khoi moes handel dryf en hierdie ruilhandel het tot die ontstaan van ’n tipe Pidgin-Hollands tussen die vryburgers en die Khoi gelei.
Die Khoi se sosiale stelsel is vernietig en ná die pokke-epidemie het baie van die Khoi na die gebied naby die Oranjerivier uitgewyk. Die tipe Hollands wat hulle gepraat het, was bekend as Oranjerivier-Afrikaans. Oorblyfsels van die Khoi-tale kan in mo-derne Afrikaans gevind word in woorde soos: abba, boegoe, dagga, kanna, karos en kierie, koedoe, kwagga, geitjie, kango, kamma, aitsa, arrie en eina.
Vader van Afrikaans
Ná die Britse oorname in 1806 het die Kaap verengels weens ’n verengelsingsbeleid om Nederlands en Afrikaans te probeer verdring. Arnoldus Pannevis word as die vader van Afrikaans beskou. Hy was ’n taalkundige en onderwyser by De Gimnasium, ’n privaat skool vir Hollandssprekende kinders. Hy het besef dat die Kaaps-Hollands nie meer as ’n dialek van Hollands beskou kan word nie, maar inderwaarheid ’n nuwe taal is. Hy was die eerste persoon wat die taal, Afrikaans genoem het.
Genootskap van ‘regte’ Afrikaners
As diep godsdienstige wou Pannevis hê dat die Bybel in Afrikaans vertaal word, maar alvorens dit kon gebeur, moes Afrikaans erkenning as skryftaal kry. Die jong predikant, S.J. du Toit wat deur Pannevis by die Bybelgenootskap vir hierdie taak benoem is, het ’n vergadering byeengeroep om die vertaling en erkenning van Afrikaans as skryftaal te bespreek. Tydens die vergadering is besluit om die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te stig om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van duisende mense was, tot skryftaal te verhef en as landstaal erken te kry.
Lojale Afrikaanse harte
Die rede vir die benaming ‘regte’ Afrikaners was omdat daar volgens die GRA drie soorte Afrikaners in Suid-Afrika was: Afrikaners met Hollandse harte lojaal aan hul Hollandse verlede; Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering as hul eie beskou het; Regte Afrikaners met Afrikaanse harte lojaal aan die taal en kultuur van Suid-Afrika. Die GRA wou die Britse kul-tuurinvloed teenstaan.
Interessante feit
Van die vroegste Afrikaanse geskrifte is deur Imams van die Oosterse slawe in Arabies geskryf. Lees die volgende getranskribeerde voorbeeld hardop: “Oewhans wiet die riegtie wieg.” Dit beteken: “Ons weet die regte weg.”*
*Transkribering en verklarings uit «Abu Bakr se ‹Uiteensetting van die Godsdiens›» deur A. van Selms, 1979, North-Holland Publishing Company, Amsterdam/Oxford/New York
Wat is ’n dialek?
’n Dialek is ’n streeks- of ’n sosiale variëteit van ’n taal wat van die standaard literêre taal verskil. Dit mag verskil in uitspraak, grammatika of woordeskat. Cockney is byvoorbeeld ’n dialek van Engels, of Griekwa-Afrikaans ’n dialek van Afrikaans.
Wat is ’n pidgin?
Dit is ’n vereenvoudigde taal wat gebruik word in ’n situasie waar tydelike kontak tussen mense is wat nie dieselfde taal praat nie, soos in die konteks van handelaars, matrose en jagters wat met inheemse bevolkingsgroepe moet kommunikeer. Dit is ’n embriotaal met al die elemente van ’n taal, maar ’n beperkte woordeskat en vereenvoudigde grammatika. Die oorsprong van die naam kom glo van die Chinese Pidgin-Engels waar die woorde ‘talk business’ ‘tok pidgin’ geword het.
Betekenisverskil van Hollands
Teen die einde van die 19de eeu het die Hollands aan die Kaap al baie van standaard Hollands verskil. Die tabel dui aan hoe Afrikaans vandag van Hollands verskil:
WOORD HOLLANDSE BETEKENIS AFRIKAANSE BETEKENIS
Kombers growwe kombersstof op skepe gebruik sagte kombers
Kombuis skeepskombuis (‘galley’) kookplek in ’n huis
Vlei ’n plek tussen twee berge (vallei) moerasagtige grond tussen
hoogliggende gebiede
’n Koerant en ’n skool
Die GRA het dit gedoen deur ’n eie Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, te publiseer en deur die eerste Afrikaanse skool, die Gedenkschool der Hugenoten, te stig. Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn. D.F. du Toit (oom Lokomotief) was een van die eerste redakteurs van die koerant.
In 1914 is Afrikaans as amptelike skooltaal erken en in 1925 het dit saam met Engels een van twee amptelike landstale geword. Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn. Ná 1994 het Afrikaans een van elf amptelike landstale geword.
Taalmonument
Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans. Almal behoort hierdie unieke monument te besoek. Die ge-
dagte om ’n monument vir die Afrikaanse taal op te rig, het in 1942 posgevat.
’n Afrikaanse Taalmonument-komi-tee is gestig en daar is begin om fondse in te samel. Bouwerk het in 1972 begin en die monument is in 1975, ’n honderd jaar na die stigting van die GRA, ingewy.
Hierdie taalmonument is nie die enigste een in die land nie. Die oudste een staan op Burgersdorp en is eintlik opgerig vir die erkenning van Hollands. Die dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig.
Daar is ook monumente op Lichtenburg, Ventersburg, Touwsrivier, Worcester, Louis Trichardt, Belfast, Ermelo, Ohrigstad, Delareyville, Petrus Steyn, Reddersburg, Reitz, Johannesburg, Ladismith, Riebeek-Kasteel, Aberdeen en Oos-Londen opgerig tydens die Taalfeesjaar in 1975.
Taalmuseum
Die Taalmuseum is in die hartjie van die Paarl, in die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en waar die GRA inderdaad gestig is. Die museums is gestig om die lede van die GRA te vereer en is in 1971 deur die Taalmonument-komitee gekoop en deur argitek, Gabriel Fagan gerestoureer. Dit is in 1975 amptelik geopen. Die museum se uitstallings handel oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans.
Afrikaans in die nuwe bedeling
Tydens die 2011-Sensus het dit aan die lig gekom dat Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika is met meer as ses miljoen moedertaalsprekers (Zulu en Xhosa die twee ander taalgroepe) en met bykans net soveel mense wat dit as tweede of derde taal praat. Tog is daar ’n opvatting dat Afrikaans aan die kwyn is en nie deur baie mense gepraat word nie. Volgens die Sensus is die opvallendste taalverandering dat daar ’n toename in huistaalsprekers van Engels is, met ’n afname in Afrikatale en ’n geringe toename in Afrikaans. Dit is ’n geval van taalverskuiwing.
Taalverskuiwing
Taalverskuiwing geskied wanneer mense van ’n taalgroep daardie taal met ’n ander taal vervang. Soms is dit net gedeeltelike verskuiwing – wanneer die verskuiwing net binne ’n sekere konteks plaasvind, bv. Afrikaanssprekendes wat by restaurante en tydens inkopies Engels praat, maar by die huis Afrikaans praat.
Wanneer mense egter die ander taal die heeltyd gebruik en die oorspronklike taal afskeep, word dit totale taalverskuiwing. Die afsterf van die taal is die finale fase van taalverskuiwing. Dit geskied gewoonlik oor ’n lang tydperk en in verskillende fases. Tweetaligheid wat oorgaan in vervangende tweetaligheid, waar die spreker hulle eie taal met die dominante taal begin vervang, is een van hierdie fases. Dit lei tot sprekers wat sy moedertaal nie meer ordentlik kan praat nie en uiteindelike eentalig word.
Simboliek van die Taalmonument
Die simboliek van die monument sluit die bydrae van al die tale in wat tot Afrikaans se ontstaan gelei het:
• Drie suile = Wes-Europese tale, onder meer Hollands, Frans, Duits en Portugees.
• Muur = Maleise taal.
• Podium met rondings = Khoi-, Nguni- en Sothotale.
• Brug = ver-smelting van Afrika en Europese tale.
• Hoofsuil = Afrikaans.
• Suil = Suid-Afrika
Dominante status van Engels
Weens Engels se dominante status word dit in verhouding met die ander tale meer gebruik (al is dit nie die moedertaal van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie). Mense kies bloot om dit meer as ander tale te praat omdat hulle dit as die taal van ekonomiese, politiese en sosiale mag beskou.
Ongelykheid in toedeling van beurse
In sy artikel haal Flip Smit aan dat net 2% wit studente en 4% bruin studente tans beurse van die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) ontvang. Dit veroorsaak dat minder as 20% na universiteite kan gaan. Volgens Langner van Solidariteit Helpende Hand is dit te min om selfs een Afrikaanstalige universiteit te regverdig, tensy daar stappe gedoen word om die benadeling van wit en bruin studente – deur die disproporsionele toedeling van beurse – reg te stel.
Afrikaans as onderrigtaal
Daar is ’n toenemende daling in die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in beide skole en universiteite. Volgens statistieke het Afrikaans-enkelmedium skole in ’n provinsie soos Mpumalanga van 1993 tot 2003 met 96% gedaal (van 90 skole tot slegs 3 in 2003). Vyf Suid-Afrikaanse universiteite was in 1980 Afrikaans-medium en 15 Engels; in 1994 was 18 Engels, 5 tweetalig en géén universiteit wat Afrikaans as enigste onderrigmedium gebruik nie.
Sedert 1995 het Tukkiesstudente wat kies om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik, van bykans 70% tot 34,8% gedaal en die studente wat Engels verkies, van 29,2% na 65,2% gestyg.
Afrikaanse ouers plaas toenemend hulle kinders in Engelse skole. Afrikaanse skole veg om voortbestaan en Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien self die doodslag toe! Die gesindheid is dat kinders met ’n Afrikaanse opvoeding ’n agterstand teenoor Engelse in die sakewêreld sal hê. Dit is ’n groot mistasting. Suksesvolle Afrikaanse sakelui, soos die Ruperts en Christo Wiese, staan glad nie terug in die sakewêreld nie.
Die wêreld is hedendaags ’n globale stad met multinasionale beroepslui in elke hoekie van die aardbol. Ingenieurs van Duitsland (eentalige nasie), het nie ’n agterstand teenoor En-gelse ampsgenote nie, om nie te praat van die 800 000 Afrikaners wat geëmigreer het en werk kon kry ‘ten spyte van’ hulle moedertaalonderrig nie. Waarom die wanpersepsie? Dalk weens uitlatings soos dié van professor Jansen.
Engels as taal van versoening?
Prof Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het onlangs die stelling gemaak dat Engels, eerder as Afrikaans, die taal van versoening in hierdie land sal moet wees. “Dit verbaas my steeds hoe ‘n versigtige argument oor taalinklusiwiteit ernstig verdraai kan word vir die maksimum mediabohaai,” het hy in reaksie op die ontstoke debatvoering wat daarop gevolg het, getwiet.
Wat hy taalinklusiwititeit noem, sal noodwendig tot eentaligheid lei. Ons behoort eerder meertaligheid na te streef. Slegs diegene wat reeds eentalig Engels is, sal by Jansen se voorstel baat en ander sprekers sal hulle tale daarvoor inboet, soos wat reeds aan die gebeur is met die Afrikatale.
Skyn van veeltaligheid
Volgens die skrywers van ’n navorsingsverslag, ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa’, word die oorheersing van Engels onder die skyn van veeltaligheid aangeblaas. By UNISA neem die aantal vakke wat slegs in Engels aangebied word al hoe meer toe en verloor Afrikaans sy voorheen gelyke status met Engels.
Volgens Flip Smit, voormalige rektor van UP, is dubbelmediumonderrig (Afri-kaans en Engels die swakste wyse van onderrig en gewoonlik net ’n tussenstadium vir Engelstalige onderrig. ’n Kosteberaming by een universiteit dui aan dat dié wyse van onderrig vir alle kursusse onbekostigbaar is, maar dat tolkdienste goed werk en bekostigbaar is.
By die NWU word die tolkmodus gebruik om hierdie probleem op te los. Dit is die pad wat uiteindelik ook vir US en UP voorlê. Daar moet seker gemaak word dat Afrikaans aan minstens twee universiteite status as universiteitstaal behou.
Professor Wannie Carstens, professor aan Noordwes-Universiteit en voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het in sy lesing sy droom vir Afrikaans in 2033 uitgespreek. Hy het gesê dat hy droom dat Afrikaans oor 20 jaar steeds as volwaardige taal in skole, universiteite, howe, ens., gebruik sal word. Hy twyfel nie aan Afrikaans se potensiaal nie. Dit is ’n beduidende taal (een van die 120 grootste tale uit 7 105 tale). Min mense weet byvoorbeeld dat Afrikaanse taalverwerwing en Geskiedenis van Afrikaans as vakke geneem kan word by die Adam Mickiewicz-Universiteit (UAM) in Pole. Daar word selfs tans aan die eerste Pools-Afrikaanse woordeboek gewerk.
Groei of kwyn
’n Taal se oorlewing word gemeet aan faktore soos die behoud van die taal se funksies en die status van die taal. ’n Taal moet hoë sowel as lae funksies hê. As ’n hoë funksie soos gebruik in amptelike konteks verlore gaan, het dit ’n negatiewe effek; daarom is dit van kardinale belang dat Afrikaans steeds as ’n vakkundige taal op tersiêre vlak gebruik moet word.
Verseker voortbestaan
Volgens prof. Carstens kan ons die volgende stappe doen om Afrikaans se voortbestaan te verseker:
• Maak seker dat Afrikaansmedium kinders na Afrikaansmedium skole gaan
• Behou Afrikaans as wetenskapstaal
• Behou Afrikaans as publikasietaal – publi-seer koerante, tydskrifte, boeke, weten-skapartikels
• Hou vol om Afrikaans in al sy funksies te gebruik: by die huis, by die werksplek (Afri-kaans is ’n ekonomiese bate), by die kerk, in die howe, daar waar ons ontspan. Ons durf nie toelaat dat een funksie verlore gaan nie. Onthou: as ons op onderwysvlak verloor, begin die taal te kwyn – onderwys is die skakel tussen alle funksies
• Ons moet die volle verskeidenheid van Afrikaans erken. Ons het standaard- en niestandaardvariëteite en die een is nie noodwendig beter as die ander een nie.
• Ons moet Afrikaans ondersteun waar ons kan. Kom ons koop Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte; luister Afrikaanse musiek; woon Afrikaanse kunstefeeste by. Kom ons gee ons geld vir Afrikaans en help ’n mark vir Afrikaans en sy produkte skep.
• Raak betrokke by Afrikaanse projekte. As jy nie tyd het nie, gee dan jou geld. Ons het baie fondse nodig om Afrikaanse kinders te laat studeer sodat hulle op hulle beurt weer die ekonomie kan stimuleer deur hulle vaardighede
• Ons moet trots wees op ons taal, maar ons moet terselfdertyd ook beleef wees teenoor die sprekers van ander tale. Watter beeld dra ons van Afrikaans en sy sprekers oor?
• Ons moet werk en geleenthede in Afrikaans skep
Inligting bekom uit prof. W. Carstens se ATM-lesing 26 September 2013; uit ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende student aan Unisa’ deur E. Bornman, P.H. Potgieter en J.C. Pauw in ‘Tydskrif vir Geesteswetenskappe’ 53 (3)September 2013; statistieke soos uit die artikel van Vic Webb (2012): ‘Managing multilingualism in higher education in post-1994 South Africa, Language Matters: Studies in the Languages of Africa’, 43:2, 202-220 en ‘Language in a Changing World’: UNISA studiegids vir LIN2046, 2007:88-91.