ANDRIES ENSLIN Kyk net na hierdie passievolle bedienaar van die Woord.

Baie ken hom net as die man wat Sondae in Afrikaans op die kykkassie preek; vir ander is hy die man wat die Bybel passievol en prakties verduidelik en vir nog ander bring hy die Boodskap van God in die taal van hulle hart. Maar wie is Andries Enslin regtig? JUIG! het by hom en sy gesin in Alberton gaan inloer.

Andries, jy is bekend as die predikant wat Sondae in Afrikaans op kykNET preek. Kan jy kortliks vir ons vertel waar jou persoonlike pad met die Here begin het?
My eerste bekering was in st. 1 (gr. 3), maar ek het weens groepsdruk in st. 4 (gr. 6), die pad byster geraak. Ek het ’n baie slegte st. 5- en 6- (gr. 7 en 8)- jaar beleef en toe weer in st. 7 (gr. 9) tot bekering gekom. Ons jeugpredikant (past. Koos van der Merwe) het in daardie tyd in my sussie belanggestel en baie aan huis kom kuier. Sy lewe en verhouding met die Here het my aangegryp. Sy vriendskap het my gehelp om deur my tienerjare staande te bly en ook om later self ’n predikant te word.

In watter stadium het jy besluit om die bediening te betree?
Ek het al in st. 8 (gr. 10) ervaar dit is wat die Here wil hê ek moet doen. In st. 9 (gr. 11) het ek dit aan my ouers vertel en hulle het my storie van toe ek gebore is, vertel. Ek was glo baie siek en my oupa was ’n predikant. Nadat hulle vir my gebid het, het my ma belowe om my aan die bediening te gee indien ek gesond sou word. Hulle het hulle hele lewe geweet dit is wat ek gaan doen, maar wou my nooit sê nie. Hulle het gewag dat die Here dit vir my sê en toe het hulle dit net bevestig.

Alberton LewenSentrum (ALS) is interkerklik en het 6 000 lidmate. Hoe het ALS ontstaan?
In my matriekjaar het ek gevoel ek moet kerke plant. Ek het gaan studeer en ook dadelik in ons gemeente in Boksburg (AGS Parkrand) begin werk. Nadat ek my studie voltooi het, is ek na ’n gemeeente in Randburg (Mosaïek).
Vanaf die eerste dag was ons mikpunt die dag wat ek ’n gemeente sou begin. Dit het in 1999 gebeur toe ek by ’n selgroep van ’n gemeente in Alberton betrokke ge-raak het. Die 14 sellede was die eerste gemeentelede. Ons het in Oktober 1999 ons eerste eredienste in Laerskool Randhart se skoolsaal met sowat 45 besoekers gehou.

ALS word beskou as ‘tussen die drie susterskerke en Pinksterkerke’. Watter rol speel die Heilige Gees in julle Woordverkondiging en ere-dienste?
Ons glo baie sterk in die werking van die Heilige Gees. Dit is die Gees wat die verskeidenheid van gawes en bedieninge in ’n gemeente voorsien. Alles wat in ’n gemeente gebeur, is ’n Heilige Geeswerking. Ons sien en beleef die werking van die Heilige Gees baie wyer en besef dat sonder die Heilige Gees wat die gawes en werking meebring, dit bloot nietige menslike pogings is en bly.

Die preke word as ‘prakties’ beskou. Of vind julle dat die moderne mens nie daaraan behoefte het nie?
Die moderne mens is honger vir die Woord van God. Sy Woorde is Gees en Lewe, vir gister en vir vandag. Praktiese preke beteken dat jy die Woord in sy verlede-konteks, prakties toepaslik vir die hede sien.

Julle visie is om Afrikaanse eredienste op TV te hou. Hoekom is dit belangrik dat eredienste in Afrikaans gebeeldsend word?
God praat met ’n mens in jou hart en in jou gees. Een van die grootste sleutels tot jou hart, is jou moedertaal. Jou moedertaal sluit die kamers van jou hart, wat dikwels vir ander tale en kulture geslote is, oop.
Ek glo as jy ’n persoon wil bereik, moet jy so naby as moontlik aan sy kultuur kom. Iets van 1 Kor 9, van Paulus se liefde vir mense, moet openbaar word.

Bestaan daar nie ’n gevaar dat moderne Afrikaners toenemend ‘TV-kerkgangers’ gaan word nie? Verduidelik julle siening hieroor.
Die doel van die uitsending is in die eerste instansie Evangelisasie. Ons wil kykers wat kerkloos geword het en wat by die huise sit, bereik. Volgens die terugvoer wat ons kry, is dit die oorgrote meerderheid van ons kykers. In die program moedig ons mense ook sterk aan om by hulle plaaslike gemeentes in te skakel. KykNET het ’n heruitsending vir kerkgangers wat ook na die diens wil kyk, bewillig en daarvoor is ons dankbaar.

Julle beeldsend op eie koste op kykNET wat bekend is daarvoor dat kykertalle en luisteraarsreaksie kontrakte beïnvloed. Bestaan die gevaar nie dat die boodskap afgewater word net om vleiend op die oor te val nie?
Jammer, maar ons het niks met kykNet se kontrakte te doen nie en kykNet skryf ook nie aan ons voor nie.

Wat is julle doel en fokus vir 2013?
Ons fokus vir 2013 is om geestelike groei-materiaal aan die kykers beskikbaar te maak. Die doel van die materiaal is om kykers te help met hulle geestelike groei – individueel, in ’n kleingroep, of in ’n gemeente-opset. Die materiaal is op jare se navorsing oor lewensverandering in die beeld en gelykenis van Jesus Christus geskoei.

Kan jy vir ons jou indruk gee van die Suid-Afrikaanse Kerk-opset oor die algemeen?
Ek het nie ’n oorsigtelike mening oor die Kerk in Suid-Afrika nie. Ek sien die goeie en die slegte. Ek beleef groeiende gemeentes, lidmate van regoor die land wat ware Geesgevulde volgelinge van Jesus is. Maar ek beleef ook hartseer en frustrasie van kerke wat nie hulle roeping vervul nie en lidmate wat skade lei. Ek bid ernstig vir herlewing en eenheid in ons land se kerke. Wanneer dit goed gaan met die Kerk, gaan dit goed met die land.

Vikki, het ALS ’n spesifieke Vrouebediening?
Nee, daar is dameskleingroepe wat weekliks bymekaar kom en ek is deel van so ’n vroue-kleingroep.

Hoe het jy en Andries ontmoet?
By die kerk. In die dae toe die kerk nog in die skoolsaal was, het ek en my ma-hulle die kerk besoek. Ons het daar begin kuier en mettertyd het dit in ’n ernstige verhouding ontwikkel.

Hoe ontspan julle as gesin?
Ons is almal lief vir die buitelewe. Ons ontspan die beste op die plaas tussen die bome, beeste en in die natuur. Dit is waar Andries en die kinders die lekkerste speel.

Enige raad aan ander predikants-/pastoorsvroue om die druk van die bediening te hanteer?
Bly net jouself, daar is nie iets soos ’n ideale predikantsvrou nie. Jy hoef nie aan andere se vereistes te voldoen nie. Wees lief vir die Here, jou man en jou kinders. Kyk ook na die seisoen van jou lewe en weet dit is net ’n seisoen. Dinge verander nogal vinning en dan is jy weer in ’n nuwe seisoen.