Op amper 23 maande leer klein Petrus-Hugo Strydom sy ouers, Hugo en Lynette, hoe om op die water te loop, nadat hy in die swembad geval het…
’n Doodgewone Saterdagmiddag in die winter beteken vir die Strydoms van Port Elizabeth toetsrugby en braai saam met vriende en dit is presies wat op 25 Augustus 2012 op hulle program was. Hulle het by Ian en Tania Burton in die kombuis om die tafel sit en koffie drink toe die kinders besluit om buite op die gras te gaan bal skop. Petrus-Hugo is verskriklik erg oor balle en hy is dadelik saam met die groter kinders buitentoe.
’n Rukkie later het die ouer seun, Joshua, ingekom en die deur toegemaak as deel van ’n speletjie met die ander wat nog buite was. Pa Hugo het dadelik gevra dat hy die deur moet oopmaak anders sou klein Petrus-Hugo nie kon inkom nie. Joshua se gesigsuitdrukking het dadelik gewys dat iets fout is. Hy was oortuig daarvan dat die klein mannetjie by die grootmense in die huis was. Die ander kinders is dadelik geroep en saam met Hugo het almal om die huis gehardloop en begin soek.
Atmosfeer van onsekerheid
Daar het ’n atmosfeer van onsekerheid in die lug gehang wat skielik deur die angswekkende gille van die 12-jarige Marelise verbreek is. Sy het klein Petrus-Hugo onder die swembadseil gekry. In die middel van die seil was ’n tennisbal en waarskynlik was hy op pad om die bal te gaan haal toe hy onder die seil in die water beland het.
Hy was reeds blou, slym-vloeistof het by sy neusie uitgeborrel en hy het nie meer asemgehaal nie. Hugo het dadelik hartlongmassering gedoen, klein Petrus-Hugo op sy sy gedraai en van die water het uitgekom. Hy het weer begin asemhaal en sy kleur het meer normaal geword.
Hugo het hom opgetel en wou met hom hospitaal toe jaag. In die sitkamer het hy lede van die sekuriteitsmaatskappy ontmoet wat dadelik oorgeneem het. Klein Petrus-Hugo is uitgetrek en in herstel-posisie geplaas. Binne ’n minuut het Gardmed se paramediese span opgedaag en sy liggaamstemperatuur met ’n ruimtekombers verhoog en die nodige mediese behandeling begin. Die een longetjie het nie goed geklink nie en die een ogie het geen reaksie getoon nie – alles tekens van breinskade wat reeds ingetree het. Hulle was ook bang vir sekondêre verdrinking (versmoring as gevolg van die water wat nog in die longe agtergebly het). Hulle was ongeveer 50 minute, wat vir dié wat nie presies geweet het wat aangaan nie, na ure gevoel het, besig!
Duisende bid regoor die land
“Ek het onmiddellik die dokter wat ek sowat ’n maand tevore met ’n vorige ongeluk van Petrus-Hugo besoek het, en ook in ons kerk is, geskakel. Hy het dadelik genoem dat hy by Greenacres Hospitaal by Ongevalle aan diens is en dat ons dadelik soontoe moes kom. Ek moes eers later hoor dat dié dokter nie gewoonlik sy selfoon beantwoord as hy aan diens is nie. ’n Boodskap is ook aan ons selgroep, asook aan ons vorige pastoor in Middelburg gestuur. Binne ’n baie kort rukkie is ongeveer duisend mense regoor die land gevra om vir ons kind te bid,” vertel Lynette agterna.
Hoewel die rit hospitaal toe vir Hugo en Lynette baie lank gevoel het, is alle verkeer afgesper en kon hulle en die ambulans sonder enige onderbreking in die kortste moontlike tyd by die hospitaal kom.
Dr. Fanie Smit het hulle by die hospitaal ingewag en vir die Strydom-egpaar het die groot wag begin. In die klein wagkamertjie het hulle voortdurend bly bid, Skrif ver-klaar en bly glo.
Treffende getuienis gebore
Na ongeveer een en ’n halfuur kon hulle die Ongevalle-saal binnegaan en daar die klein vegtertjie in die groot bed versteek tussen al die pype sien lê. Die dokter het hulle meegedeel dat Petrus-Hugo definitief na die intensiewe-sorgeenheid van die Dora Nginza-hospitaal oorgeplaas moes word en ten minste vir ’n week gehospitaliseer sou moes word.
Nadat hulle by Greenacres weg is, het hulle selgroepleier, Frans van der Merwe, geskakel en agter hulle aangery na die volgende hospitaal. Daar gekom is Petrus-Hugo na die pediatriese intensiewe-sorgeenheid geneem. Hugo en Lynette is nie in die saal toegelaat nie, maar na ’n ruk het die suster hulle geroep en gesê: “We are worried about the oxygen levels. There is no good news, but you keep praying.”
Agterna het dit ’n treffende getuienis geword. “Ons het saam met ons vriende gebid en die aand se gebeure bespreek. Ongeveer eenuur die nag het ons die hospitaal gebel en gehoor dat ons kind só teen die ventilator baklei het, dat hulle dit moes afhaal. Hy het ook sy ogies oopgemaak en na sy ma gevra. Daarna het ons net die Here geloof en geprys. Ons het weer saamgebid en dankie gesê,” het Lynette vertel.
Net voor nege die volgende oggend het Hugo se selfoon gelui en die suster het gevra dat hulle so vinnig moontlik hospitaal toe moes kom. Daar gekom, was hulle seuntjie so aan die baklei met die pype dat hulle hom na ’n gewone saal wou oorplaas. Toe hulle sy naam noem, het hy opgekyk en “Mamma” gesê. En so is hy binne 12 uur na die ‘insident’ met ’n wuiwende handjie uit die Intensief na ’n gewone saal gestoot.
’n Ware wonderwerk…
Later die dag het hy en sy pa op ’n kom-bers op die vloer met karretjies sit en speel en die volgende dag het die dokter, nadat hy weer die plate van sy longetjies bekyk het, hom ontslaan. Dié keer het hy met sy groen rugsakkie en wuiwende handjie by die hospitaal uitgestap. “Ons kon nie die Here genoeg dankie sê nie,” het Lynette gesê.
Dr. Fanie Smit het die volgende oor klein Petrus-Hugo se herstel gesê: “Dit was werklik ’n wonderwerk. ’n Genesing wat my, die paramedici en verpleegpersoneel wat primêr met hom gewerk het, verstom het. Vir ons was dit weereens ’n bewys van die krag van gebed en God se Almag wat ingryp wanneer ons dink dat alles verlore is…”