Met dié waarskuwende woorde begin Priscilla Shirer, Amerikaanse outeur, evangelis en motiveringspreker, haar “Armour of God”-Bybelstudie. En sy is doodreg. Ons is geneig om te vergeet dat die geestelike stryd ’n harde werklikheid is; dit is nie ’n versinsel nie.
Jy kan jouself bewapen of ’n sagte teiken wees
As Christen het jy nie die luukse om te kies of jy aan hierdie stryd wil deelneem nie. Die dag toe jy deel van God se gesin geword het, het jy ’n vyand van die duiwel geword met ’n groot teiken op jou rug. Jy kan hierdie stryd doelgerig en goed toegerus veg, of ongewapen en oningelig op die strydveld rondstrompel – ’n sagte teiken vir die bose wat jou voortdurend in die visier het: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” – Efesiërs 6:12. Jy sal nooit die volle krag van God in jou lewe ontplooi as jy die geestelike wapenrusting ignoreer wat Hy tot jou beskikking gestel het nie. Jy moet dit net “aantrek” en met gebed, ons geheime wapen, aktiveer!