
Evangelis Reinhard Bonnke is reeds langer as 35 jaar as evangelis en stigter van ‘Christ for all Nations’ (CfaN), bekend. Hy is onlangs as leier van dié bediening deur die 30-jarige Daniel Kolenda opgevolg. Hier is ‘n openlike gesprek met hulle albei oor die leierskapsposisie en ook die verwagting vir die bediening vorentoe.
Pastoor Bonnke, waarom het u besluit om ‘n opvolger vir hierdie bediening aan te wys?
Ek wil graag toesien dat die buitengewone siele-oes solank as die geleent-heid daar is, voortgaan. Wat ons span sedert 2000 beleef het, is iets wat ongeëwenaard in die kergkgeskiedenis is: massas wat die Koninkryk van God wil binnegaan.
Die Here het u vir meer as 35 jaar as leier van CfaN gebruik. Was dit ‘n moeilike besluit om die leisels oor te gee?
Ek is nou 70 jaar oud en my verstand is nog helder genoeg om te besef dat die aflosstok aan die jonger geslag oorgegee moet word. Hierdie bediening behoort nie aan my nie. Ek wil siele wen – die hel beroof en die Hemel met siele vul. Jesus het nie gesterf sodat ons loopbane kan hê nie, maar wel om verlorenes te red. Ek het my lewe in my bloei-tydperk vir die Here gegee en ek glo dat Hy nie nou die ‘stingel’ sal weggooi nie.
God het Daniel Kolenda se pad met myne laat kruis. Die Heilige Gees het met my gepraat en gesê dat die gesalfde aangestel moet word – en dit is presies wat ek gedoen het. Daniel het maklik aangepas en God seën sy bediening net soos my eie. Ek is nog ten volle betrokke totdat Jesus kom.
Watter raad het u vir predikers wat dieselfde besluit ten opsigte van hulle bediening moet maak?
Hulle moet na die Heilige Gees luister en nie na vlees en bloed nie. Soek ook altyd eers die Koninkryk van God, want ‘n gemaklike oorgang geskied nie outomaties nie.
Daniel, hoe het God jou gewys dat dit Sy Wil is dat jy pastoor Bonnke opvolg?
As ek na die gebeure kyk wat ons tot hier gebring het, kan ek God se hand baie duidelik daarin sien. Ek het nie na CfaN gekom met die bedoeling om die bediening oor te neem nie – dit was nie eens deel van my wildste drome nie! Maar soos ons voortdurend die stem van God, treetjie vir treetjie, gevolg het, het dit vir pastoor Bonnke en vir my baie duidelik geword en ons het wonderlike bevestigings daaromtrent gehad.
Beoog jy om enige onmiddellike veranderinge aan die bediening aan te bring?
Ons verfyn ons metodes deurentyd sodat die impak van ons bediening maksimaal kan wees. Die kern van ons visie en missie sal altyd dieselfde bly. Ons fokus regoor die wêreld, maar veral in Afrika, op massa-evangelisasie.
Hoe lank sedert julle met die proses begin het, het die oorgawe geneem?
Vanuit ‘n organisatoriese oogpunt het dit ongeveer vier jaar geneem, maar die oorgee van die bedieningstok is ‘n voortdurende proses. Dit is vir my ‘n groot voorreg om saam met pastoor Bonnke te werk, sy leierskap te aanvaar en van hom as my geestelike vader en mentor te leer.
Glo jy dat massa-veldtogte die beste metode vir die toekoms van hierdie evangelisasiebediening van julle is?
Ons fokus op die massa omdat dit die opdrag is wat die Here hierdie bediening gegee het. Ons vind dat dit die effektiefste is wanneer ons doen waarvoor God ons toegerus en geroep het. Nie die roeping of die gawe het verander nie; daarom sal ons voortgaan om te groei waar ons geplant is.
Kan jy vir ons van ‘n interessante wonderwerk of insident wat jy tydens ‘n onlangse veldtog beleef het, vertel?
In Sapele in Nigerië het ‘n ma met haar driejarige seuntjie na ons veldtog gekom. Hy was baie siek en sy het gehoop dat hy gesond gemaak sou word. Gedurende die byeenkoms het die seuntjie neergeval en toe die ma afkyk om uit te vind wat fout is, was daar nie meer ‘n polsslag of asemhaling nie. Hy het net daar gesterf!
Gebroke het sy hom na die verhoog gebring waar die plek-aanwysers ook die liggaampie ondersoek en bevestig het dat hy dood is. Hulle was so geraak dat hulle die vrou met haar seuntjie se liggaampie by die veiligheidsheining ingelaat het en sy het by die trappies van die verhoog gaan staan.
Nadat ek klaar gepreek en vir die siekes gebid het, het ek met die trappe afgegaan en die hartseer ma gesien wat onbeheersd huil en die pap liggaampie vashou. Ek het my hande op die seuntjie gelê en gebid. ‘n Paar sekondes later het hy sy oë oopgemaak en begin asemhaal. Die volgende dag, toe ek by die veld aankom, was die heel eerste ding wat ek gesien het, die seuntjie wat rondhardloop en speel. Jesus het hom uit die dood opgewek en hom gesond gemaak!
-REINHARD BONNKE is die stigter van CfaN 35 jaar gelede en internasionale evangelis.
-DANIEL KOLENDA is die 30-jarige nuutgekose president van CfaN. www.cfan.org