Satan se werk in die Kerk

Satan weet hoe hy die werk van die Kerk aan bande kan lê en die effektiwiteit van Christene kan verhinder. Die volgende is strategieë wat satan dikwels gebruik.

Misleiding
“Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is. Geen wonder nie! Die satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is. Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself
voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.” 2 Kor 11:13-15. Satan werk baie subtiel. Hy is bewus dat ’n openlike ontkenning van die waarheid verwerp sal word; dus word ’n deel van die geestelike waarheid behou terwyl dit op subtiele wyse met growwe onjuisthede vermeng word.
Hierdie subtiele vermenging van waarheid en onjuisthede het misleiding tot gevolg en is baie duidelik in godsdiens. God is nie die outeur van godsdiens nie – satan is. Die eerste moord in die Bybel was ’n godsdienstige moord (Kain en Abel) en dit is juis waar die duiwel se karakter baie duidelik word. Die godsdienstiges gaan vandag nog voort om die regverdiges te vervolg en satan mislei mense nog steeds deur die ‘ontwikkeling en voortbestaan’ van godsdiens.
Dit is dikwels die heel moeilikste om godsdienstiges van God se Waarheid te oortuig. Satan het die Christendom in ’n godsdienstige boksie saam met ander gelowe geplaas. Die Christendom is nie ’n godsdiens nie, maar geloof in Jesus Christus en Sy Woord, die Bybel. Die volgende is ’n lys godsdienstradisies en skemas wat satan gebruik en wat vandag nog in die Kerk voorkom:

Godsdienstradisies
• Die feilbaarheid van God se Woord
• Die verheffing van ervaring bo die gesag van die Skrif
• Die byvoeging van buite-Bybelse data
• Wettiese voorskrifte vir verlossing
• Die liberale siening dat daar, op grond van God se liefde, nie iets soos die hel is nie
• Die verwerping van die duiwel as ’n werklikheid, die maagdelike geboorte van Jesus, die godheid, die liggaamlike opstanding van Jesus, ensovoorts. Dit is die merk van die slang wat Adam en Eva in die Tuin van Eden besoek en die waarheid en betroubaarheid van God se woorde (“Het God regtig gesê…Gen 3:1) bevraagteken
• Liberale teologie
• Nuwe-era-denke
Die Apostel Paulus het die Vroeë Kerk teen hierdie immer teenwoordige gevaar gewaarsku. “Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het.”
2 Kor 11:3.

Vals lering
“Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle valse leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het draai. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself. Baie mense sal agter hulle aanloop…sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis…ja, hulle vernietiging wag.” 2 Pet 2:1-3.

Subtiele leuens
Indien ons baie goed na Gen 3:1 kyk, sal ons die volgende twee stellings raaksien: “Die slang was listiger as al die diere wat God gemaak het.”
“Is dit regtig so?” vra hy die vrou. “Het God regtig gesê…?”
Dit is die merk van die satan. Volgens die Wet van ‘Eerste Vermelding’ is die eerste keer wat iets in die Bybel genoem word, baie betekenisvol aangesien dit die voorbeeld is vir die interpretasie van die onderwerp of begrip van die persoon onder bespreking se handelinge verder in die Bybel.

Misleier verdraai die waarheid
Die eerste keer wat ons aan satan in die Bybel bekend gestel word, word daar genoem dat hy subtiel is. Hy is dus die misleier wat God se Waarheid op subtiele wyse verdraai. Die maniere om hierdie euwel te beveg is deur:
• Geestelike onderrig – dit is dus Woord-gebaseerde, beginselvaste lering;
• ’n Sistematiese, onderwerps- en verklarende lering van die Woord.
Misleide mense glo werklik dat hulle reg is; selfs al sê die Bybel dat hulle nie is nie. Ons moet ‘leerbaar’ bly; baie godsdienstige mense mag regverdig, opreg en onkreukbaar wees, maar tog so bitter ver van God.

Voortydige ambisie
Die Bybel sê dat een van die karaktertrekke van ’n leier in die kerk is: “’n Ouderling moet nie ’n onlangse bekeerling wees nie, want as hy so gou gekies word, kan hy dalk verwaand raak, en die duiwel sal dié verwaandheid gebruik om hom tot ’n val te bring.” 1 Tim 3:6.
Satan kan die voortydige plasing van iemand in ’n leierskapsrol tot sy voordeel gebruik. Jong gelowiges, so kosbaar en ambisieus soos hulle is, is nie altyd God se keuse as leiers in die Kerk nie. Jong leiers raak maklik hovaardig.
Dit is baie beter dat hulle eerder onder die plaaslike pastoor/predikant dien sodat hulle gereed is vir die dag wanneer hulle tot leier verkies word. Daar is baie beslis ’n behoefte om op grondvlak te dien. Kom ons kyk na Filippus as voorbeeld hiervan: hy was eers ’n diaken en het baie later eers ’n evangelis geword.

Onleerbare houding
“Die diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense. Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte
verander, en hulle sal die waarheid leer ken…want hulle word deur die duiwel gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.” 2 Tim 2:24-26.
Satan gebruik soms hierdie onleer-bare houding om die effektiwiteit van die Kerk te beperk. Ons lees in Spr 18:2: “’n Dwaas het geen erg aan insig nie. Hy stel net daarin belang om sy eie beuel te blaas.”
Dit is baie gevaarlik om onleerbaar en hardkoppig te wees – en tog is so baie Christene vasgevang in hierdie kritiese gees en word so deur satan in gebondenheid vasgevang.

Vervolging
“Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan julle die kroon van die lewe gee.” Op 2:10.
Ons mag moontlik nie werklik verstaan wat vervolging inhou nie omdat ons in ’n land leef waar ons godsdiensvryheid geniet. In die meeste Islamitiese en kommunistiese lande is dit teen die wet om ’n Bybel te besit of om die Naam van Jesus te bely. Tienduisende mense in hier-die lande ly, word vervolg, in die tronk gegooi en vermoor ter wille van Sy Naam.

Wêreldsheid
Daar word dikwels hieroor gepraat en dit word dikwels bespreek, maar dit is vandag ’n baie groot struikelblok in die Kerk. Satan is die god van hierdie ‘kosmos’, van die tydelike, regering, mode, waardes, moraliteit en godsdiens. Hy is die prins van hierdie wêreld. In 2 Kor 4:4 sien ons dat hy die gemoed van die ongelowiges verblind het en in 1 Joh 2:15-16 lees ons dat ons nie hierdie wêreld moet liefhê nie.
Seks, geld en mag is drie dinge wat nog altyd gesorg het en ook kan sorg dat Godvresende manne en vroue struikel. Ons lees ook in 2 Kor 4:4 van mense wat verblind in hulle gemoed is. Blinde mense kan nie sien nie – hulle besef dus nie eens dat hulle wêrelds is nie. Hulle besef ook nie dat hulle voorwerpe van God se oordeel word nie.

Maklike prooi
Die mens is ’n maklike prooi vir satan se skelmstreke. Ons aanvaar as ons baie duidelike grense trek, sal satan nie in staat wees om ons te mislei nie. Ons is salig onder die indruk dat hulle wat nie ‘sleg’ is nie, nie deur die duiwel gebruik kan word nie. Die Bybel stel egter hierdie wanbegrip reg. Satan kan die oënskynlike goeie dinge gebruik om sy bose planne te vervul. Die okkulte is nie die enigste manier waarop satan mense kan vasvang nie. Hy kan net so effektief op subtiele wyse in ’n Bybelgelowige Kerk werk as deur die okkulte. Die liefde vir die dinge van die wêreld – dit is wêreldsheid – en dit is waarvoor ons ook versigtig moet wees. (Lees ook Jak 4:4).

Oorkom satan
Vriendskap met hierdie wêreld is vyandskap met God. Humanisme (waar ons lewens eerder op die mens as God gebaseer is) is die maklikste en algemeenste invloed van satanisme. Ons, as die Liggaam van Christus, die Kerk van God, moet die werk van die duiwel weerstaan en bewus wees van sy werkswyses. Ons moet seker maak dat ons uit sy pad bly!
Kopiereg © Paul Daniel