Sy is ’n ‘nuwe’ jong kunstenaar wie se Gospel-loopbaan vir haar nie net ’n saak van groot erns is nie, maar ook haar lofoffer aan haar Here. Benice Borman, dogter van die bekende kitaarspeler Hennie de Bruyn, se liefde vir musiek en sang het gegroei tot waar ’n belowende loopbaan vandag voor haar lê. Sy is inderdaad ’n inspirasie vir almal wat haar ontmoet en JUIG! het met haar gesels.
Jy is glo met die mikrofoon in die hand gebore. Hoe het jou musiekloopbaan begin?
Ek het in die Kerk grootgeword en van jongs af was ek by die Kerk se voorsang betrokke. As vyfjarige het ek reeds my eerste sangitem in die Kerk gelewer.
Jy het in Koster en Brakpan grootgeword. Was jy toe reeds betrokke by die geestelike musiekbedryf, of het jy aanvanklik hoofsaaklik op sekulêre mu-siek gefokus?
Ek het ’n passie vir geestelike musiek. Ek is al baie keer deur platemaatskappye genader om sekulêre musiek te doen, maar ek het ’n besluit geneem: ek wil my passie in geestelike musiek uitleef.
Vertel jou getuienis aan JUIG!-lesers…
As kind het ek nie in ’n huis grootgeword waar daar weelde was nie, maar daar was baie liefde en ons het die Here gedien. As baba is ek gebore met my een been korter as die ander. Die Here het my been tydens ’n diens aangeraak en dit het dadelik gegroei totdat dit net so lank soos die ander een was. Ek het dus op jong ouderdom die Here se genesende hand beleef en Hom as God van genesing leer ken. As kind kon ek nooit verstaan hoekom ons so swaar moes kry nie – dit was baie moeilik, maar die Here was altyd getrou. Ek glo dat Hy my kinderjare gebruik het sodat ek vandag verstaan wat dit is om swaar te kry en ’n absolute passie vir diesulkes te hê.
Ek het in die loop van die jare baie beloftes gekry dat die Here my regoor SA gaan gebruik en het dit nooit verstaan nie. Toe ander egter ’n skaapwagter in Dawid gesien het, het God ’n koning gesien. Dit is werlik hoe ek my lewe sien. Ek het drome gehad en al wat ek kon doen, is om dit in God se hande te plaas sodat Hy, op Sy tyd, die deure kon oopmaak.
As ek nou terugkyk op my lewenspad, weet ek dat Hy altyd by my was en my gedra het wanneer ek nie self kon loop nie. Partykeer voel dit vir ons dat die Here ons nie antwoord nie, maar ek kan regtig getuig soos die lied sê, ‘vier dae te laat, maar Hy is nog steeds betyds’, dat dit ’n werklikheid in my lewe geraak het. Die Here maak elke dag vir my deure oop en al wat ek wil doen, is om terug te antwoord op Sy liefde en uit te gaan en die wêreld van ons groot God te gaan vertel! Dit maak nie saak wie jy is, hoeveel geld jy het of wat die kleur van jou vel is nie – Abba Vader het ons almal lief en vra ons vandag om Sy innige liefde vir ons, te aanvaar.
Hoe het jy Sias ontmoet?
Ek het net na my skoolloopbaan by ’n kerkorkes betrokke geraak en Sias was die kitaarspeler. Hy het destyds liedjies geskryf en ek was altyd die eerste een wat moes luister – so het ons goeie vriende geword. Daar was ’n tyd wat ons mekaar nie gesien het nie, maar met my eerste CD-opname was Sias betrokke – en dit was liefde met die eerste oogopslag!
Julle is albei in die bediening betrokke. Wat is elkeen se rol?
Ek en Sias vul mekaar baie goed aan. Hy is die liedjieskrywer en ek het die voorreg om met sy liedere te bedien. Ons doen dit saam en is tydens bediening baie sensitief vir die Heilige Gees. Ons bediening bestaan uit sang en woord en Sias speel ook kitaar saam met my en ons fokus is om mense in God se teenwoordigheid te bring en toe te laat dat die Heilige Gees werk na Sy Wil, en mense se lewens verander. Ons boodskap is dat God ’n God van liefde en omgee vir almal is, dit maak nie saak wie jy is, of waar jy vandaan kom nie.
Hoe balanseer jy dit alles?
Ons het twee pragtige dogtertjies, Kayla (10) en Denike (4). Hulle is alles waarvoor ’n mamma kan vra: Kayla is die sagte een en Denike die klein rabbedoe! As ma, vrou en sangeres voel ek ook elke dag die druk, maar met hulle onvoorwaardelike liefde kan ek enigiets met moed aandurf! Kayla en Denike is ook deel van ons bediening en deel ons passie vir die Here en mense 100%. Sonder my gesin sou my bediening beslis nie dieselfde gewees het nie.
Is julle by ’n spesifieke kerk ingeskakel?
Ons is tans by ’n gemeente ingeskakel en tydens naweke wanneer ons nie bedien nie, is ons by ons kerkorkes betrokke. Ons glo daaraan dat ons sielskos móét ontvang om dit dan weer aan ander mense te kan gaan gee.
Is musiek jou voltydse beroep?
Musiek is net één van my passies. Ek het ’n onsettende passie vir kinders. Ek het drie jaar gelede ’n kleuterskool begin en het hierdie afgelope drie jaar gesien hoe die Here kinders en ouers se lewens aangeraak en verander het. Ek glo dat dit deel van my bediening is en dat die Here my skool tot eer van Sy naam gebruik.
Watter uitdagings staar jongmense deesdae in die gesig en wat is, na jou mening, die beste manier om dit te hanteer?
Ons jongmense moet reeds vroeg in hulle lewens elke dag keuses maak en word nie van slegte invloede waaraan hulle deur die media en internet blootgestel word, weerhou nie. Met vryheid kom daar egter verantwoordelikheid. Ons jongmense moet wéét wat die Bybel sê en wéét hoe om versoekings effektief te weerstaan. Verkeerde groepsdruk is deesdae ’n groot probleem en ek sien dit daagliks in my eie kinders se lewens raak. Groepsdruk kan tog ook positief aangewend word: om as ’n groep saam die regte keuses en besluite te neem en mekaar aan te moedig om beter te leef. Dit is hoekom dit so belangrik is om die régte vriende te kies.
Het jy ’n spesifieke boodskap vir ons lesers?
Ek glo dat níks ooit persoonlike aanra-king, tyd en liefde in jou kind se lewe kan vervang nie. Opbouende woorde beteken baie meer as wat ons besef. Ons kinders word heeldag aan situasies waar hulle voel dat hulle nie goed genoeg is nie, blootge-stel en juis dán het hulle ons ondersteu-ning nodig om in hulle te glo en ’n positiewe uitkyk op die lewe te behou. Ons moet vir ons huwelike baklei en nie sommer net moed opgee nie. Ek kom daagliks in aanraking met mense met huweliksprobleme en ek glo dat egskeiding nie altyd die antwoord is nie.
God het die man en vrou in die huwelik geplaas – nie om alleen die wêreld aan te durf nie, maar om soos ’n driedubbele tou, met God, sáám as span ’n sterker kans te hê.