Die wêreld minag diensbaarheid, en mense wat ander dien, die werkersklas, word oor die algemeen as ‘n laer klas beskou. Dit is nie gesogte werk om iemand anders se dienaar te wees nie. Die woord ‘dienskneg/bediende’ is vervang met ‘werker’ in ‘n poging om die status van diegene wat ander dien, te verhoog. Ons is ook geneig om te verkies dat ander ons dien; die moderne lewe plaas die klem op die mens se ego en status.
Die diensknegte van God
In die Bybel sien ek egter iets wat heeltemal hiervan verskil. Eerstens word die engele, wat verheerlikte geestelike wesens is, “dienende geeste” genoem wat uitgestuur word om te dien (Heb 1:14); en in Openbaring 19:10 stop die engel Johannes die Apostel om voor hom neer te val en hom te aanbid, en sê die engel die volgende oor homself: “Ek is ‘n mededienskneg van jou …”
Die Apostels verwys dikwels na hulleself as diensknegte en in Openbaring 1:1 lees ons dat God die boodskap van die openbaring van Jesus Christus aan ons, sy “diensknegte”, stuur. In dieselfde vers word daar ook na Johannes die Apostel as ‘n dienskneg verwys.
Selfs Israel is geroep om ‘n nasie te wees wat dien (Jes 41: 8,9); om die Here te dien deur uit te reik na ander nasies en hulle met die lig van die Evangelie te bedien (Jes 60: 1-3).
Hy het nie gekom om gedien te word nie
Toe die dissipels stry oor wie die vernaamste onder hulle is, het Jesus hulle verwronge begrip van grootheid reggestel deur te sê: “Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens; Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Matt 20:26-28).
Jesus het hulle nie berispe omdat hulle na groot dinge gehunker het nie. Hy het hulle lie-wer geleer hoe grootheid in die koninkryk van God bereik kan word – deur ‘n dienaar te word.
Maria was Jesus se voete
Toe Maria Jesus se voete met die kosbare nardus-olie en haar trane salf, en sy voete met haar hare afdroog, was Simon die Fariseër verontwaardig omdat Jesus hierdie diensmaagd vanuit die lae klas toegelaat het om dit te doen. Jesus eer haar deur te profeteer dat daar deur die eeue heen met eer na haar verwys sal word oor dit wat sy gedoen het (om Jesus te dien).
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!