
Niemand wat al ’n Bok-en-Biltong-aand bygewoon het of by een van Manne van die Woord se gebeds- en ondersteuningsgroepe was, sal onveranderd daar uitstap nie. Dit spreek altyd die hart aan omdat Dawie Spies, die stigter van Manne van die Woord, ’n passie het vir siele en om manne toe te rus en op te rig sodat hulle man en pa kan wees vir hulle gesin soos God dit bedoel het – vandaar ‘Manne van die Woord’.
Liefde vir die wen van siele
Die saadjie vir evangelisasie is vroeg reeds in Dawie se hart gesaai. Hy het in ’n sen-dinghuis grootgeword wat hy beskryf as ’n “huis van liefde waar ouers absoluut hulle lewens aan die wen van siele gewy het.”
’n Blywende indruk van ’n groot evangelis
Toe Dawie ses jaar oud was, het die tot nog toe onbekende evangelis, Reinhard Bonnke en sy vrou, Anni, in 1966 na Suid-Afrika toe gekom om as sendelinge opgelei te word. Die AGS-kerkgenootskap in Suid-Afrika het besluit om die Bonnke-gesin na Dawie se ouers in Ermelo, Mpumalanga, te stuur, waar hulle Reinhard sou mentor en hom die basiese dinge van sendingwerk leer.
Een insident het ’n blywende indruk op die jonge Dawie gelaat: “Ek onthou steeds hoe Reinhardt destyds vroeg soggens in ons tuin met sy hande omhoog hardop gebid en uitgeroep het: ‘Africa shall be saved!’ Nooit het ons besef watter Godsman dit was wat die Here na ons huis toe gestuur het nie. Ons het vandag nog kontak, want ek en hy verjaar albei op 19 April.”
Ongered in ’n Christen-huis
Op skool het Dawie nog nie eintlik insig gehad waaroor sending en Christenskap werklik gaan nie. Hy beskryf die scenario van menige kind wat in ’n Christelike huis grootgeword het: “Ek het self geen verhouding met die Here gehad nie, en altyd gewonder hoekom mense om my so behep is daarmee om ’n ‘verhouding met die Here’ te kan hê. Ek het ook altyd gevoel ek skuld die Here iets.”
Verbyster deur Jesus se liefde
Sy broer, Pierre, wat aan ’n hartaanval dood is, het ’n groot invloed op sy lewe gehad en dit was tydens een van Pierre se Christen-mannekampe by Mabula Lodge (Bela-Bela) dat die Here vir Dawie ’n werklikheid geword het. “Op dié kamp het die spreker die Bybel as ’n roman en ’n liefdesverhaal beskryf; as ’n Vader se droom vir Sy kinders en hoe satan dit kom vernietig het, en hoe die Vader Sy Seun gestuur het om Sy kinders te kom red. Die eenvoud van die verlossingsboodskap het my na Jesus toe getrek, en Sy liefde het my totaal verbyster! Dit is genade onbeskryflik groot! Ek was nooit weer dieselfde nie.”
Selgroep in ’n haarsalon
Ná sy broer se dood het Dawie na Pretoria verhuis en getrou aan die voorbeeld wat hy van kindsbeen af om hom beleef het, ’n selgroep in Moreletapark (in ’n haar-salon) begin. Binne die bestek van ’n kort tydjie het die handjievol mense wat op ’n Dinsdagaand byeengekom het, tot ’n groot groep mense gegroei. Dit was hier waar hy sy vrou, Leonora, ontmoet het: “Leonora het ook hiervan te hore gekom en die groep kom besoek. Ek het haar raakgesien, maar nie gedink dat sy eintlik van my sou hou nie…Blykbaar het sy toe! Ons is nege maande later verloof.”
Unieke mandaat
Dawie het altyd geweet dat hy in die bedie-ning betrokke sou wees, maar ook dat dit nie as sendeling of kerkleier sou wees nie, dit sou in ’n ander formaat wees. Hy wou graag ’n rol speel om versoening tussen kerke en denominasies te help bewerk. Hy brei uit: “Dit is vir my nog altyd so hartseer dat God se kinders baklei oor onbenullig-hede en hulle verskillende menings oor die Bybel terwyl duisende siele intussen nie bereik word nie. My mandaat van die Vader was nie om ’n kerk te stig nie, maar eerder die 80% mense buite die kerk met liefde en hoop te bereik en te bedien.”
Hierdie mandaat het tien jaar gelede aanleiding gegee tot die totstandkoming van Manne van die Woord wat manne oor alle rasse-, gelowe, en groeperings heen help en bereik om ’n verhouding met Jesus Christus te begin en om hulle dan na plaaslike gemeentes te verwys waar hulle geestelik verder kan groei en betrokke kan raak.
Dissipelskap en mentorskap
Dawie verwys na die duisende manne wat al Mighty Men-konferensies bygewoon het en daar ’n ware ontmoeting met hulle Verlosser gehad het, maar ná ’n maand of twee momentum en fokus verloor omdat daar nie dissipelskap of mentorskap plaasvind nie. “Dit is ’n groot probleem omdat van die manne spoedig na hulle vorige lewenswyse terugkeer en dan erger is as voorheen,” verduidelik Dawie. “Ons staan manne by wat kerklos of kerkloos is. Hulle sluit by ons mannegroepe aan – wat landswyd aangetref kan word – en daar word hulle gelei, geleer en gementor om dissipels van Jesus te word. Ons is gewone ouens wat interkerklik saamkom om te bid, te ontvang, te groei en mekaar te ondersteun. Die hart van ons bediening gaan oor genade, hoop en liefde, en ons probeer dit eenvoudig en prakties hou. Ons verwys ons manne en dames na plaaslike gemeentes waar hulle geestelik verder kan groei en betrokke kan raak.”
Ware manne van die Woord
Die fokus van Manne van die Woord is dan ook dat die individu homself “uitsorteer” (ten opsigte van sy verhouding met Christus), dan sy huwelik, dan sy gesin en dan die wêreld daarbuite. Die Woord is te alle tye die anker.
Vroue van die Woord
Leonora en Dawie het deur die jare heen soveel boodskappe en e-posse van dankbare vrouens ontvang wat skielik ’n totaal nuwe man by die huis het. Daar was talle versoeke dat daar ook soortgelyke groepe vir vroue begin moet word. “Ek dink die vroue was skoon jaloers op die geestelike insette en mentorskap wat hulle mans ontvang het en het gevoel hulle loop iets groots mis,” vertel Leonora.
Vroue van die Woord het toe spontaan uit Manne van die Woord voortgespruit omdat vrouens gesien het hoe hulle mans se lewe dramaties verander het. Vroue van die Woord is ’n beweging van godvresende vroue met ’n passie vir God se Woord en gebed en is, soos Manne van die Woord, interkerklik. Tydens die weeklikse Vroue van die Woord-byeenkomste bid die dames saam en ondersteun mekaar geestelik om so Galasiërs 6:2 te vervul: “Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.”
Herstel van gebroke gesinne
Leonora en Dawie beklemtoon beide dat Manne- en Vroue van die Woord nie die plek van die kerk inneem nie. Hulle hart is om mans en vrouens te help om hulle Godgegewe potensiaal te ontdek, God se wil vir hulle lewens te omarm en voluit uit te leef. Manne en Vroue van die Woord se missie is om geestelike groei, persoonlike ontwikkeling, leierskap en welstand by die huis en die kerk te help bewerkstellig en om gebroke gesinne te help herstel.
God se bloudruk vir ons land
Dawie wil in elke dorp in Suid-Afrika ’n tak van Manne en Vroue van die Woord sien, waar manne en vroue ernstig is oor God se opdrag om mense dissipels van Jesus te maak. “Sonder Jesus is ons toekoms verdoem. Ons kinders sal geen hoop hê in die land nie. Ons is hulle dit verskuldig om ’n nalatingskap van Jesus agter te laat. Suid-Afrika behoort aan God en Hy het ’n blou-druk vir hierdie pragtige land van ons. Ons dien ’n God wat die onmoontlike moontlik maak!”
Dawie Spies is beskikbaar om as motiveringspreker by skole, landboubyeenkomste, kerke en mannebyeenkomste op te tree. Kontak hom by dawie.spies@gmail.com
Fotos deur: Noeleen Foster. Vir meer inligting gaan na www.noeleenfoster.co.za