
As daar nou een area is waar Christene mislei word en sommer baie onwaarhede verkondig word, is dit op die gebied van finansies, en om te gee. Dit is ’n skande vir die Kerk. Baie pastore en predikante mislei hulle gemeentes deur valse beloftes van welvaart en seëninge te verkondig en dan nog verder te gaan deur ’n hele klomp wette en verpligtinge in die verband oor te dra. Die hartseerste van alles, egter, is die feit dat hierdie arme gelowiges nooit ooit agterkom hoe God oor hulle voel nie.
In so baie kerke bring mense hulle tiendes en offers met die verwagting dat hulle iets gaan terugkry, of omdat hulle onder druk is oor ‘wat die Bybel sê’. As ons egter na die Woord van God kyk, sien ons nooit dat Jesus, of die Apostels, oor welvaart in hierdie konteks gepraat het nie. Wat wel waar is, is dat Jesus belowe het om vir ons te sorg (Matt 6:25-26). Dit is die weerspieëling van Sy hart vir die mensdom en ook Sy visie vir die Koninkryk.
Die Bybel is beslis nie ’n handleiding met tegnieke en beginsels vir predikers om te gebruik as hulle jou om geldelike bydraes nader en God jou dan daarvoor moet vergoed nie.
Jesus en Sy Koninkryk
God se plan vir Sy Kerk en vir Christene is om Sy hart as getuienis in hierdie ongelowige wêreld te weerspieël. Vir die dankbare gelowige wat weet dat Jesus alles vir hom gegee het en wie se hart aan Hom oorgegee en wie se lewe deur Hom verander is, is dit baie natuurlik om te gee.
Dit is iemand wat nie nét offers bring omdat hy iets kan ontvang, of moet, of omdat iemand anders hom beveel het hoeveel hy moet gee nie. Hy gee omdat hy liefhet – hy het Jesus en Sy Koninkryk lief, en hy is dankbaar vir sy eie redding.
Sy lewe word met dié van Christus geïdentifiseer, sy hart is totaal aan God se visie vir Sy Kerk oorgegee. Dit is iemand wat bereid is om opofferend te gee, verby enige begrip van hoeveel presies, of ’n vaste bedrag. Hy saai met vreugde in die Koninkryk van God onder die leiding van die Heilige Gees. So ’n Christen gee met vrymoedigheid en sonder voorbehoud, selfs in tye van armoede, net soos die kerk in Masedonië in 2 Kor 8. Daardie persoon stap ’n geloofspad dat God vir hom sal sorg en in sy behoeftes sal voorsien, want Hy weet so ’n kind se hart is om die Koninkryk te sien groei.
God wil hê dat ons voorspoedig sal wees
Daar is twee Skrifgedeeltes wat feitlik elke Christen ken omdat ons dit almal een of ander tyd geleer is in terme van welvaart en gee. In albei gevalle het valse leringe die Kerk ingesluip omdat hierdie verse so dikwels buite konteks gebruik word.
Onskriftuurlike siening
Ons lees in 3 Joh 1-8 die volgende: “…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met julle goed mag gaan en dat jy net so gesond sal wees soos wat dit geestelik met julle goed gaan.” Ons weet dat die Apostel Johannes Gaius prys omdat hy die regte hartsgesindheid openbaar het – die liefde en omgee vir die Koninkryk en sy gasvryheid teenoor die mense van God. Dit is tog mos natuurlik dat Johannes wil hê dat God hom moet seën.
Hierdie seëning sal weer deur Gaius gebruik word om mede-gelowiges tot seën en tot voordeel van die Koninkryk van God te wees. Hoe het ons dan uit hierdie Skrifgedeelte tot die slotsom gekom dat dit God se Wil is dat alle Christene voorspoedig moet wees? Dat alle gelowiges honderdvoudig moet terugontvang indien hulle tot ’n projek bydra?
Dit is beslis nie Skriftuurlik nie! Ons kan sonder enige twyfel sê dat God baie beslis nie elke Christen wat, soos Gaius, ’n hart vir Sy Koninkryk het, en gasvry teenoor mense is, wil seën nie.
Visie van die Nuwe Verbond
Wanneer ons die woorde van Jesus Christus in Lukas 6 lees, sien ons dieselfde gees, dieselfde hart as dié van Johannes en al die ander Apostels. Die konteks hier (vers 27-46) is Jesus wat die skare toespreek oor die feit dat hulle ’n ander hartsgesindheid, ’n ander visie, moet hê. Hy vra dat mense hulle lewens moet gee en God moet toelaat om hulle te verander sodat hulle volgens die Nuwe Verbond kan leef.
Net omdat Hy in hierdie konteks (v 38) praat van “As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol…” Hierdie gedeelte handel oor die hartsgesindheid en die gelowige se belangrikste saak behoort die Koninkryk van God te wees. Jesus eindig selfs in vers 46 met: “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?” Daarom behoort niemand hierdie Skrif te gebruik om mense te oortuig dat jy, solank as jy gee en ten spyte van die gesindheid van jou hart, God nog steeds verplig is om jou te seën nie. Dit is hoekom daar vandag nog miljoene Christene is wat tot in ewigheid vir hulle seëninge sal wag!
Volgens jou hart
Ek moet tog daarop wys dat indien jy voel dat jy verplig is om aan God te gee, jy nog nie die diepte van wat Jesus Christus aan die Kruis gedoen het, besef nie, nl. dat jy vryheid deur die Seun van God ontvang het! Hy het ons vrygemaak. Ons is vandag vry om uit ’n dankbare hart, soos die Heilige Gees lei, te gee.
Besef jy dat indien jy iemand is wat gehoorsaam aan die Wet volgens die Ou Verbond is, jy maklik minder kan gee as wat jou hartsgesindheid is? Ons kan egter die hartsgesindheid van ’n gelowige onder die Nuwe Verbond in Paulus se verklaring in 2 Kor 9:7 raaksien: “Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”
In hierdie vers word daar geensins die prent van ’n vreesagtige, teësinnige gelowige wat verplig word om te gee, geskets nie, of selfs van iemand wat presies weet hoeveel sy offer elke maand gaan beloop nie.
Vry om te gee
Die kerke in Macedonië het gegee; selfs al was hulle uiters armoedig. Die Evangelie het hulle gebring tot op die stadium waar hulle die eie ek afgelê, hulle kruis opgeneem en Jesus gevolg het. Die vrygewigheid het uit die vrug van die Evangelie gespruit, nie deur emosionele manipulasie nie! Hulle het begeer om deel van die projek te wees en deel van die Koninkryk te wees.
Ek probeer jou nie deur hierdie artikel oortuig om dit wat jy in die verlede gegee het, te bevraagteken nie. Maar ek weet daar is baie gelowiges wat op soek is na die waarheid. Al wat ek begeer, is dat die Kerk moet weet wat God se hartsbegeerte in dié saak is, wat die egte lering daaromtrent volgens Sy Woord is sodat ons deur Sy Heilige Gees en Genade vry kan wees om Hom met ons finansies te dien.