Die Bybel gee nie instruksies wat met ’n liggaam moet gebeur nadat die persoon gesterf het nie. In die kulture van die Bybelse tydperke was die algemene wyse om met menslike oorskot weg te doen om dit in ’n grafkelder of grot te plaas, of in ’n graf in die grond te begrawe. (Gen 23:19; 35:4; 2 Kron 16:14; Matt 27:60-66). Die algemeenste gebruik in die Bybel, vir diegene wat dit kon bekostig, was om die liggaam in ’n bogrondse grafkelder te plaas. Diegene wat dit nie kon bekostig nie, is in die grond begrawe. Soos ons in Josua 7:25 sien, is die enigste gevalle waar dooies in die Bybel verbrand is, wanneer dit as straf vir die goddelose is vir oortredings wat hulle teen God se gebooie begaan het (Lev 20:140). In die Nuwe Testament word welgesteldes steeds in grafkelders geplaas. Dit is waarom Jesus, wat geen aardse rykdom gehad het nie, in die grafkelder van ’n ryk lid van die Joodse gemeenskap, Josef van Arimatea, geplaas is. (Matt 27:57-60).
Kan ’n Christen verassing oorweeg?
Hoewel teraardebestelling die algemene praktyk was, beveel die Bybel dit nêrens as die enigste toelaatbare metode nie. Verassing is wel in Bybelse tye beoefen, maar dit was nie die algemene praktyk onder die Israeliete óf onder Nuwe Testamentiese gelowiges nie. Die Bybel gee nie enige spesifieke lering oor verassing nie. Daar is voorvalle in die Ou Testament waar mense verbrand is (1 Konings 16:18; 2 Konings 21:6) en waar menslike bene verbrand is, maar dit is nie voorbeelde van verassing nie. Dit is interessant dat die verbranding van menslike bene op ’n altaar (2 Konings 23:16-20) die altaar verontreinig het. Tog gee die Ou Testamentiese Wet nêrens opdrag dat ’n gestorwe liggaam nie verbrand mag word nie.
God sal jou liggaam opwek
Sommige gelowiges maak kapsie teen die praktyk van verassing op grond daarvan dat dit nie in ag neem dat God ons liggame eendag gaan opwek om weer met ons gees herenig te word nie (1 Kor 15:35-58); 1 Tess 4:16). Die feit dat die liggaam veras is, maak dit nie enigsins moeiliker vir God om daardie liggaam op te wek nie. Die liggame van Christene wat duisende jare gelede gesterf het, sal teen hierdie tyd geheel en al tot stof vergaan het. Dit sal God geensins verhinder om hulle liggame op te wek nie. Hy het hulle oorspronklik geskape en sal geen probleme ondervind om hulle weer te herskep nie. Verassing doen niks anders as om die proses om ’n liggaam tot stof te laat terugkeer te verhaas nie. God kan iemand se oorskot wat veras is net so maklik opwek as wat hy iemand wat nie veras is nie, kan opwek. Die vraag rond-om teraardebestelling of verassing val binne die gebied van Christelike vrye keuse. ’n Persoon of familie wat hierdie kwessie oorweeg, moet vir wysheid bid (Jak 1:5) en die oortui-ging wat daaruit voortspruit, volg.
Jou ewige liggaam wag op jou
Vandag is ’n belangrike oorweging om in gedagte te hou wat die landswette ten opsigte van lyke en teraardebestelling sê. Watter metode ook al gebruik word om van die oorskot ontslae te raak, is nie naastenby so belangrik as die waarheid dat die liggaam nie meer die persoon wat gesterf het, huisves nie. Paul beskryf ons liggame as ‘tente’ wat tydelike wonings is. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die Hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God en dit bly ewig staan.” 2 Kor 5:1. Met Jesus se wederkoms sal Christene opgewek word en sal ons liggame verander word tot verheerlikte, ewige liggame. “So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek: wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.” 1 Kor 15:42-43.
GOT QUESTIONS is ’n webwerf wat die Liggaam van Christus bedien deur interessante artikels en Bybelse antwoorde op uitdagende vrae te verskaf. Vir meer inligting besoek www.gotquestions.org