Die Ingesteldheid Van Die Hart

Wanneer ek ander mense help, besef ek elke keer dat ek soveel het om voor dankbaar te wees,” hoor ek iemand sê. Is dít egter regtig die doel van hulp aan ander? Moet dit my net laat beter voel oor myself? Moet ek myself gedurig aan ander mense meet wat minder het as ekself, of wat swaarder as ek kry voordat ek eers dankbaar is?
Is dankbaarheid ’n wondermedisyne vir ons siel?
Ek lees onlangs ’n artikel van Barbara Ehren-reich oor dankbaarheid in The New York Times, getiteld: “The selfish side of gratitude.” Hierin skryf sy hoe selfhelp-ghoeroes en voorstanders van positiewe denke ons laat glo dat dankbaarheid ’n tipe wondermedisyne vir ons siel is. Dit kan amper enigiets vermag, van die versterking van ons immuunstelsel tot by die verlaging van ons bloeddruk en ’n toename in ons lewensverwagting. Geeneen sal ontken dat dankbaarheid noodsaaklik is nie, maar dit kan nooit ’n doel opsigself wees, óf ’n selfsugtige emosie om ons beter oor onsself te laat voel nie.
Ondankbaarheid is diepgewortel
Dankbaarheid kom nie maklik nie. Van nature is ons geneig om ondankbaar en ontevrede te wees. Die lewe skuld ons. Ons wil dinge hê en ons is diep ontevrede totdat ons dit kry. Meer geld, beter huise, blinker motors, nuwe klere, groter erkenning van familie, vriende en kollegas – ons het dit alles nodig net om vervuld te wees. As ander mense rondom ons bekom waarop ons voel ons eintlik geregtig is, dan styg ons ontevredenheid dadelik saam met ons bloeddruk. Gevolglik is daar soveel ondankbare mense in Suid-Afrika. Nie eens die feit dat baie mense steeds kerk toe gaan, maak hulle dankbaar nie.
Omstandighede bepaal die vlak van tevredenheid
Vir die meeste mense is dankbaarheid eintlik maar net ’n wisselende emosie wat afhang van hulle omstandighede. Solank dinge goed gaan betreffende hulle bankbalans, hulle veiligheid en gesondheid, is hulle dankbaar, maar as die stormwinde begin waai, dan waai dit hulle dankbaarheid eens-klaps weg. Die sement van ontevredenheid verhard dan blitsvinnig rondom hulle hart.
Wat is egte dankbaarheid?
Dit is ’n ingesteldheid van die hart. Dankbaarheid is meer as emosies. Dít ook, maar dankbaarheid is siel-sake. Dit is daardie diep ingesteldheid van vrede en vreugde teenoor die Here diep in ons binneste. Omdat Jesus in ons lewe ingestap het en ons oorweldig het met Sy goedheid, is daar ’n diep vrede in ons. Ons harde harte het sag geword. Ons gejaagde gemoed het gekalmeer. Ons het aan die Here se voete tot rus gekom.
Dankbaarheid is ons vertrekpunt vanwaar ons die lewe elke dag beleef. Soms beleef ons dankbaarheid baie intens, dan oorstroom emosies van vreugde en blydskap ons. Dan voel ons die Here se hartklop vuurwarm hier in ons binneste. Maar meermale is dankbaarheid ’n diep bewussyn, ’n vaste wete wat die Gees van God in ons bewerk dat ons geliefdes van die Here is. Dankbaarheid is om altyd te weet dat Christus ons gered het toe ons nie redbaar was nie. Hy het ons in die donker opgespoor toe ons in ons sondes verdrink het. Dankbaarheid vloei voort uit hierdie wete dat ons nou en vir altyd aan die Here behoort. Dankbaarheid is die innerlike oortuiging dat ons kinders van God is in wie se harte die Gees aanhoudend uitroep “Abba, Vader, liefdevolle Vader!”
Die Here se dankbaarheid aktiveer ons
Die regte soort dankbaarheid maak dat ons omgee vir ander, maar dan nie om beter oor onsself te voel nie. Ons as navolgers van Christus se dankbaarheid is sinoniem met daardie diep tevredenheid voor die Here en ’n diep begeerte om Sy hemelse vrede orals te versprei. Ons kan nie anders as om ons vreugde in Jesus se naam te deel by wyse van bekertjies koue water aan dorstiges en porsies brood aan hongeriges nie.
Dankbaarheid is om oop oë te hê vir soveel mense wat nog na Sy lewende waters smag en wat vandag met hongerpyne die harde lewe moet aandurf. Die Here se dankbaarheid aktiveer ons. Dit laat ons nie net vroom rondsit in geestelike skuilplekke sodat ons kan beter voel oor onsself nie. Ware dankbaarheid maak ons juis vergeetagtig wat ons eie behoeftes aanbetref. Dit laat ons lofliedere sing en leef tot eer van God, in so ’n mate so dat dit ander mense se lewens ook aanraak.
________________________________________
PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org