In so baie mense se oë het die instelling van die huwelik irrelevant geword. Eer, vertroue, getrouheid en toewyding lyk so outyds en uit voeling in die moderne samelewing waarin ons leef. Die verwarring oor die huwelik moet ons egter nie verras as ons die magdom wêreldse beskouings en hou¬dings ten opsigte van hierdie instelling wat ons om elke hoek en draai raakloop, in ag neem nie. Tydskrifte, films en televisiesepies bombardeer ons met beeldmateriaal van owerspel en perversie. Die vraag is nou: Is die huwelik nog lewensvatbaar in die moderne samele¬wing? Is die huwelik ‘n goeie idee?
DIE HUWELIK IS GOD SE IDEE
Die huwelik is nog steeds ‘n goeie idee omdat dit God se idee is! Hy het dit ingestel. Hy het dit gevestig en die grense daarvan bepaal. In stryd met die hedendaagse idee, is die huwelik nie ‘n mensgemaakte konsep nie. God het dit aan die begin van die mens se geskiedenis ingestel.
God se idee vir die huwelik word in Gen 2:24 gevind – “Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.” ‘Een mens’ is nie bloot die ‘gom’ van twee mense aanmekaar nie, maar eer-der die samesmel¬ting van twee afsonderlike elemente om een nuwe skepping te vorm. Hulle word onskeibaar. Die man en vrou wat in God se huweliksontwerp ‘een’ geword het, kan nie weer geskei word sonder dat groot skade of baie verwoesting plaasvind nie. Dit is die geestelike ekwivalent van die wegskeur of afskeur van ‘n ledemaat.
DIE FONDASIE
Jesus sê in Mark 10:5-9: “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God dan so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaar skeur nie.” As die huwelik deur die mens ingestel was, sou die mens die reg gehad het om dit tersyde te stel wanneer dit verkies word. God het die huwelik ingestel as die eerste en mees basiese element van die menslike samelewing. Indien die gesin die basis is vir ‘n gesonde samelewing; dan is die huwelik die basis vir gesonde gesinsverhoudings. Dit is die fondasie, omdat dit die verhouding is waarop God die samelewing gebou het.
Met so baie wat verward is oor dié instelling, is dit hoegenaamd snaaks dat die samelewing oor die algemeen ontwrig is? Satan is baie bewus daarvan dat indien hy die huwelik kan vernietig, hy daarmee saam die gesin vernietig. Indien gesinne vernietig word, is die samele¬wing daarmee heen. Sodra die samelewing vernietig is, is die mensdom volgende.
DIT IS NIE WIE JY BEMIN NIE, MAAR WÁT JY LIEFHET
Huweliksukses berus nie soseer op twee huweliksmaats wat hul aan mekaar toewy nie, maar eerder twee maats wat hulle aan die huwelik, die onveranderde instelling waarin albei getree het, toewy. Mense ver¬ander voortdurend namate hulle groei en meer volwasse raak en hierdie veranderinge kan senutergend en frustrerend wees en kan baie maklik in konflik ontaard.
Die huwelik is ‘n standvastige, onveran¬derbare instelling en respek vir die eerbaarheid en stabiliteit van die huwelik kan vir ‘n man en sy vrou ‘n stewige anker wees in die storms van verandering. Die Bybel sê dat die huwelik hoër geag moet word as enige ander instelling. “Respekteer die huwelik in alle omstandighede…” Heb 13:4. Die Griekse woord vir ‘respekteer’, is ‘timios’ en dit beteken ook ‘waardevol, duur, geëerd, gereken, geliefd en kosbaar’. Daar is tye dat ons iets haatliks sê of doen wat ons huweliksmaats kwaad of seer maak. As ons ons huwelik eer en hoog ag, sal dit ons oor hierdie ‘hobbelrige’ dele van die pad help wanneer dit eintlik moeilik is om jou huweliksmaat te eer en lief te hê.
LIEFDE NIE DALK GENOEG NIE
Dit is nodig dat ons goed begryp waarom ons ons huweliksmaats liefhet. Die persoon met wie ons trou, is nie die persoon saam met wie ons gaan leef nie, want daardie persoon verander en groei deurentyd. Dit maak nie saak hoe lief jy die persoon het of hoe baie julle mekaar eer en ag nie – dit alleen mag op die lange duur nie genoeg wees nie. Die agting, eer en respek vir die huwelik as instelling sal die stabiliteit bring in ons ewig-veranderende verhouding. Mense verander, maar die huwelik as instelling bly bestendig.
DIE HUWELIK IS GROTER AS DIE TWEE MENSE BETROKKE
Die huwelik as instelling is baie belangriker as ons gevoelens. Daar sal be¬slis tye wees wat ons nie met ons huweliksmaat saamstem nie, maar dit het niks met die huwelik as instelling te doen nie. Ons moet net nooit ons persoonlike gevoelens of konflikte met die huwelik as instelling verwar nie. Die huwelik is perfek; ons as mense is nie. Toewyding aan die huwelik, eerder as toewyding aan ‘n persoon, is die sleutel tot sukses. Die huwelik is groter as die twee betrokke mense, en dit is hoe dit hoort. God het die huwelik ingestel; dit behoort aan Hom, nie aan ons nie. Die huwelik is twee onvolmaakte mense wat hulself aan ‘n volmaakte instelling toewy, volmaakte beloftes aflê met onvolmaakte lippe voor ‘n volmaakte God.
EGSKEIDING NIE DIE ANTWOORD
Sodra ons verstaan dat die huwelik ‘n instelling is wat gerespekteer en geag moet word, kom die gedagte aan egskeiding nie eers by ons op nie. Ons laat nie die huwelik vaar omdat daar probleme is nie! Baie mense dink as hulle skei sodra daar pro¬bleme ontstaan, sal die probleme verdwyn.
Dis nie die geval nie. Huweliksprobleme is nooit eensydig nie. Indien jy skei sonder om die probleme deur te praat en op te los, sal die probleme met jou saamgaan en sal dit oorgedra word na die volgende verhou¬ding wat jy aanknoop. Dit mag dalk ‘n ander vorm aanneem, maar dit sal nog dieselfde soort probleme wees.
BYBELSE HUWELIKSKONSEP
Die Bybelse huwelikskonsep en die gesin het die afgelope paar generasies sterk onder aanval gekom. Waar daar vantevore ‘n sosiale en morele stigma aan egskeiding gekleef het, is dit nou algemeen en baie aanvaarbaar. En dit is vir baie gelowiges waar. Die menslike, siviele regering het nie die mag of die gesag om die godingestelde huwelik tussen twee gelowiges te ontbind nie. ‘n Huwelik wat God bekragtig het, kan nie deur mensgemaakte wette ontbind word nie. Indien gelowiges na die altaar van God kom om hul saam te bind, waarom gaan so baie van hulle dan na die hof om hul huwelik te laat ontbind? Menslike howe het geen reg om te ontbind wat God saamgevoeg het nie. Die huwelik volgens die God-manier is ‘n samesmel¬ting, dit is nie ‘n band nie. Wat God saamgevoeg het, kan God alleen skei. Hy sal dit egter nie doen nie, want om dit te doen, is om Sy eie standaarde te skend.
GEVAARLIKE ONKUNDIGHEID
‘n Suksesvolle huwelik berus op kennis. Dit het min met liefde te doen. Liefde kan nie suk¬ses waarborg nie. Liefde is belang¬rik vir geluk in die huwelik, maar nét dit kan nie ‘n huwelik laat werk nie. Die enigste ding wat ‘n huwelik kan laat werk, is kennis. Sukses hang af van wat ons weet, nie wat ons voel nie. Selfs die Kerk, die stem van gesag oor hierdie onderwerp, ly omdat baie gelowiges, leiers ingesluit, Bybels-ongeletterd is – veral oor sake rakende die huwelik en gesin.
KENNIS VAN DIE WOORD
Wanneer ons waardes deurentyd uitgedaag word, binne sowel as buite die Kerk, raak baie mense verward, onseker en weet nie wat om te glo nie. In Hos 4:6 staan geskryf: “My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie.” Die grootste kennis is om God te ken. Spr 1:7 sê: “Kennis begin met eerbied vir die Here, net dwase verag wysheid en dissipline.”
Dit maak nie saak hoe dikwels ons kerk toe gaan of die Here aanbid nie, sonder kennis het ons geen waarborg op sukses nie. Suk¬ses in die huwelik hang van veel meer af as om net gered te wees. Dit neem veel meer as om bloot net lief te hê. Deur te glo en lief te hê, is belangrik in die huwelik, maar dit hou geen waarborg in vir huweliksukses nie.
Ons het kennis nodig van die Bybelse beginsels, God se grense wat Hyself vasgestel het. Bybelse beginsels sal nooit verander nie. Hulle is universeel toepaslik – in elke kultuur en te alle tye. Moeilikheid kom wanneer ons dié beginsels ignoreer of skend. Die huwelik is eerbaar. Dít is aan reëls, regulasies en voorwaardes onderworpe wat God neergelê het en wat Hy in Sy Woord openbaar.
GEWAARBORGDE SUKSES
God het die huwelik ontwerp om suksesvol te wees en net Sy raad kan dit suksesvol maak. Niemand is beter om iets te laat werk as die ontwerper nie. God het huwelike verordineer en nét Hy kan dit laat werk. Indien ons in ons huwelik suksesvol wil wees, moet ons God se beginsels, soos in die Bybel uiteengesit, ken, verstaan en volg.