Die Sewende Gebod

Almal behoort na Dokters vir Lewe se dokumentêre DVD ‘In Your Face’ te kyk. Dit gaan nie net oor MIV/VIGS nie. Daar is meer as 65 verskillende seksueel-oordraagbare siektes, waarvan baie ongeneeslik is, met simptome wat ek liewer nie wil beskryf nie.
Dit is voldoende om te sê dat diegene wat hulle laat wysmaak dat homoseksualiteit ’n normale gesonde alternatiewe lewenstyl is, omtrent die helfte van hulle leeftyd prysgee. Die lewensduur van getroude heteroseksuele mense is twee maal langer as dié van die gemiddelde homoseksueel.

Historiese feite
Die geskiedenis getuig daarvan dat groot beskawings verrys en voorspoedig word omdat hulle op streng dissipline, selfbeheersing en sterk gesinne gebou is. Wanneer sulke samelewings egter in seksuele losbandigheid verval, gaan produktiwiteit agteruit, begin dinge uitmekaarval, en stort so ‘n beskawing in duie.
Historici het 26 beskawings be-studeer (onder meer die Egiptiese, Assiriese, Babiloniese, die Mediese en Persiese, Griekse en Romeinse, ens.). Hulle het geen uitsondering op die patroon gevind nie. Geen samelewing kan lank sónder streng wette, sterk gesinne en konsekwente selfdissipline voortbestaan nie. Seksuele immoraliteit wat die samelewing besmet, lui vir enige nasie die doodsklok.

Die huwelik is eerbaar
Die sogenaamde ‘vrye seks’ is allesbehalwe vry. Die duur prys daarvan sluit in: seksueel-oordraagbare siektes, VIGS, gebroke gesinne, gebroke lewens, misdaad-besmette samelewings, en die uiteindelike ineenstorting van die samelewing self.
“Maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.” 1Kor 7:2. God het die huwelik ingestel (Gen 2:22). Hy het man en vrou in die huwelik aan mekaar verbind. Ons Here het die huwelik met Sy teenwoordigheid by die bruilof in Kana vereer en daar ook Sy eerste openbare wonderwerk verrig. (Joh 2:1-11).
“Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.” Heb 13:4. Die huwelik is ’n voorbeeld van die mistieke eenheid tussen Christus en Sy Kerk. “Daarom sal ’n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die Kerk.” Ef 5:31-32.
Die Sewende Gebod is beskermend. Die onderhouding van hierdie gebod sal ons van ‘n wêreld vol ellende en trauma spaar. Dit kan ons daarvan weerhou om kosbare geleenthede verlore te laat gaan, om onmisbare vriendskappe te vernietig, om die spoor byster te raak en ons lewens te verwoes. Die Sewende Gebod is daar om ons veilig binne die grense van getrouheid en reinheid te hou.

Om die slagyster van wellus te vermy
“Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig…My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van ’n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei. Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie…owerspel kan jou lewe kos. Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?” Spr 6:23-28.

Moenie julleself mislei nie
“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.” 1 Kor 6:9-10.
Simson is ’n goeie voorbeeld van ’n man van God wat deur sy eie wellus verlei is. Sy reusepotensiaal is deur sy gebrek aan selfbeheersing vermors. Simson het ’n oog vir ’n mooi vrou gehad. Hy het graag gekyk. Sy dwalende oë het hom dikwels met prostitute in die moeilikheid laat beland. Sy swakheid vir vroue het sy leierskap ondermyn juis toe sy eie volk ’n reusekrisis beleef het.
Toe vang sy oog die vrou wat hom uiteindelik sou vernietig. Haar naam –
Delila – is sedertdien sinoniem met skoonheid en verraad. Deur haar liggaam en haar kop te gebruik, het Delila vir Simson ’n lokval gestel. Hoe meer Simson die slaaf van haar skoonheid en sy eie wellus geword het, hoe meer het hy onderskeidingsvermoë en selfbeheersing ingeboet. Uiteindelik het hy ál sy krag prysgegee en was hy magteloos om weerstand te bied. Hy het te laat besef dat hy sy vryheid verbeur het. Simson het ontdek dat sonde bind, verblind en verslind.

Sonde bind en verblind ons
Simson het nooit sy potensiaal verwesenlik nie omdat hy verseg het om gedissiplineerd te lewe. Die tekortkominge aan sy karakter, en sy sonde, het effektiewe leierskap ondermyn. Die ganse Israel het daaronder gely. Simson het sy poten-siaal op los vroue vermors, sy ouers oneer aangedoen, sy krag ondermyn, sy roeping oneer aangedoen en sy potensiaal verkwis. Simson het homself willens en wetens aan die vyand blootgestel, met ’n selfvertroue wat aan roekeloosheid en onverskilligheid grens.

Ons maai wat ons saai
Simson het krag sonder reinheid en selfbeheersing gehad, en omdat heiligheid nie deel van sy lewe was nie, was hy gedoem om te misluk. Terwyl hy sterk teenoor mans was, was hy swak teenoor vroue. Hy kon ’n leeu doodmaak, maar nie sy eie luste bedwing nie. Hy kon die boeie van die vyand verbreek, maar nie sy eie selfvernietigende neigings nie.
Die tragiese verhaal van Simson in Rigters 14-16 leer ons dat hoereerdery tot blindheid, slawerny en die dood lei. “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes.” Gal 6:7-8.
Simson het gedoen wat reg was in sy eie oë, en sy oë is uitgesteek. Hy het die begeerlikheid van sy oë gevolg, en hulle verloor. Hy het ’n prostituut in Gasa besoek, en as ’n gevangene opgeëindig. Hy het Filistynse vroue opgesoek en op die ou end hulle dienskneg geword.
Hy het verseg om homself te dissiplineer en die uiteinde daarvan was dat hy ’n krygsgevangene en ’n slaaf van sy vyande geword het. Die tragiese verhaal van Simson behoort vir ons almal ’n goeie les en waarskuwing te wees. “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” Spr 16:18.

Verwoestend en vernietigend
Omdat pastore met vele soortgelyke gevalle te doen kry, sal enige pastor kan bevestig dat soos in die geval van Simson, owerspel nie slegs op die owerspeliges ’n verwoestende uitwerking het nie, maar ook op die betrokke gesinne. Ontrouheid vernietig verhoudinge en gesinne. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Kor 10:12.

Die huweliksliefde
Egpare moet mekaar heelhartig liefhê, die Here gereeld vir mekaar dank, daagliks vir mekaar bid en alles moontlik doen om mekaar te versterk en te dien. In die Bybel word eerbied, agting, respek, sagmoedigheid, beleefdheid, en liefdevolheid by die huweliksliefde ingesluit. Dit moet gekoester, aangemoedig, en beskerm word. Getrouheid aan ons plegtige beloftes beskerm ons op God se pad van seëninge, verhoog ons doeltreffendheid in ons bediening en loop uit op groot vreugde in ons gesinne en God se koninkryk. Ons is geroep om aan die Here, en ons man of vrou met wie ons ’n verbond gemaak het, getrou te wees. Ons moet ook getrou bly aan alle ander verhoudinge waartoe God ons geroep het. Getrouheid moet ’n kenmerk van alle Christene wees.

Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie
Geen uiteensetting van die Sewende Gebod is volledig, sonder om ook die waarskuwing teen ’n huwelik met ’n ongelowige ter sprake te bring nie. Die Moabitiese vroue het baie Israelitiese mans tot seksuele immoraliteit verlei. Een so ’n man, Simri, het die Moabitiese vrou, Kosbi, openlik in sy tent ingebring.
Die Skrif openbaar dat dié voorval die Here se afkeur soos ’n vuur laat ontbrand het en ’n vernietigende plaag het die gemeenskap getref. Maar een Israeliet, Pinehas, het die moed gehad om teenstand te bied teen die afbrekende boosheid wat besig was om sy mense te vernietig (Num 25). Vandag is daar baie mans, Christene ingesluit, wat deur middel van DVD’s, DStv, M-Net, MMS en die Internet, immorele vrouens in hulle huise toelaat. Die epidemie van seksueel-oordraagbare siektes getuig duidelik van die toenemende immoraliteit van vandag.
Ons het meer mense soos Pinehas nodig. Maak skoon jou kas. Skeur jou pornografiese foto’s, tydskrifte, en boeke op. Vernietig die aanstootlike video’s en DVD’s. Kanselleer daardie satelliet-kanaal met die ‘volwasse’ rolprente. Praat met jou plaaslike handelaar wat hedendaagse Moabiete bemark. Mobiliseer ander kerklidmate om julle gemeenskap te help reinig. “Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.” 1 Pet 2:16.
“Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” Kol 3:5-6.
Om in die huwelik te tree, moet met wysheid en gebed benader word. Ek het al te veel as sendeling die rampspoedige en tragiese gevolge gesien van Christene wat met ongelowiges getrou het.

Huwelike sluit families in
Die huwelik het nie net met twee individue te make nie, maar met twee families. Wanneer ons dit oorweeg om te trou, behoort ons ons ouers in die saak te ken en leiding van ons kerkleiers te soek. Diegene wat in dieselfde juk met ’n ongelowige trek, is kortsigtig. Hulle plaas hulle emosies bó God se Woord. Die Bybel sê duidelik God wil hê “dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer.” Mal 2:15. Dit behoort Christene se begeerte te wees om ’n God-gesinde nageslag te vestig. “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond…Jy moet My verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.” Gen 17:7-9. “Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat Sy verbond in stand hou en Sy troue liefde betoon aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en Sy gebooie gehoorsaam.” Deut 7:9.

Beskerming en seën
God se Wet is duidelik: Gehoorsaamheid beskerm ons teen rampe, en lei ons na seën. Om van alle immoraliteit weg te vlug, van alles wat selfs net na boosheid of wellustige verleiding lyk, en om ons na God en Sy Woord te wend, is die enigste wyse waarop ons ’n lewe kan leef wat reg aan ons roeping in Christus laat geskied. “Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame.” Ef 5:28. “Elkeen moet sy vrou so liefhê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.” Ef 5:33.

Dr. Peter Hammond is ’n sendeling en konferensie-spreker. Hy is die skrywer van ‘The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty’. Skakel 021 689 4480 of besoek www.frontline.org.za