
As Christene word ons gereeld opgeroep om ons broers en susters in Christus by te staan en vir hulle te bid. As een lid van die familie ly, ly die ander ook. “As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam.” 1 Kor 12:26. Een lid van die Christelike familie wat die afgelope paar jaar moeilike tye beleef het en gebede baie nodig gehad het, was Fred van der Vyver – juis omdat hy in ’n opspraakwekkende hofstryd gewikkel was. ’n Sug van verligting is geslaak toe die strafsaak ten einde laaste afgehandel is en Fred sonder dié swaard oor sy kop kan voortgaan. Ons het sy getuienis, wat voor sy gemeente gelewer is en waarin hy aan God al die eer gegee het, gehoor en met hom gesels.
Fred getuig dat die Here vir hom nog altyd baie goed was en in graad 12 is hy gedoop. Hierna het sy verhouding met God net sterker geword en hy is tot die Universiteit van Stellenbosch toegelaat. ’n Heel normale studentelewe het gevolg. En toe bars die bom…
Liefde deur Sy kinders
Hy moes tydens die moeilike tyd waarin die strafsaak aan die gang was, sy studie onderbreek om voltyds op die saak te kon fokus. Eers nadat die strafsaak afgehandel is, kon hy weer sy studie hervat en in Junie 2010 het hy as aktuaris gekwalifiseer. Hy het kontak met baie van sy ou vriende verloor juis omdat hy in dié tyd minder met hulle in aanraking kon kom. Tydens hierdie tyd het hy besluit om by Shofar-gemeente in Gardens, Kaapstad te aanbid en juis daar het hy ervaar hoe God se liefde tasbaar deur Sy kinders werk.
Hy is nie net deur die pastoor onder¬steun nie, maar het ook nuwe vriende gemaak en het baie onderskraging van die selgroep, waarvan hy deel was, ervaar.
Bemoedig uit Sy Woord
God het hom deurentyd deur Sy Woord bemoedig en veral Jesaja 54 het vir hom nuwe betekenis gekry. Fred het ook baie duidelik besef dat hy die pad, hoe moeilik dit ook al vir hom was, in vergifnis moes stap.
Hy het besef dat indien hy sou toelaat dat bitterheid en onvergifnis die oorhand kry, dit hom sy verlossing in Jesus kon kos en dit was vir hom ’n groter gevaar as om moontlik in die tronk te kon beland. Die Genade van die Here is groot en hy kan getuig dat God se Genade hom deurgedra het. Dit bly vir hom ’n doelbewuste keuse wat op daaglikse basis gemaak moet word omdat dit is wat die Here van elkeen van Sy kinders vra.
Lê onvergifnis af
Hy het almal aangemoedig om ‘n pad van onvoorwaardelike vergifnis te stap en ook diegene wat nog met een of ander stuk onvergifnis in hul harte sit, aangemoedig om na God te gaan en dit aan Sy voete neer te lê. Agterna wou ons by Fred weet hoe hy sekere dinge tydens die hele strafsaak hanteer het.
Jy moes seker soms intense wanhoop ervaar het. Hoe het jy dit hanteer?
Hoop is ʼn gawe van die Here. Hy gee ons hoop en sonder Hom is daar min hoop in die lewe. Met die Here se Genade, glo ek, het ek deurentyd steeds hoop gehad. Ek het bly hoop op ʼn oplossing en dat ek vrygespreek sou word van die moordklag teen my. God se Woord is vol beloftes dat Hy vir ons goed en liefdevol is en ons sal beskerm en ek moes basies net dáárin bly hoop. Hierdie hoop was van Hom; as dit nie daarvoor was nie, weet ek nie hoe ek deur die moeilike tye sou kon kom nie.
Het jy ooit daaraan gedink dat jy moontlik agter tralies kon beland? En hoe het jy die gedagtes hanteer?
Dit was uit die aard van die saak ʼn moontlikheid. Alhoewel ek bevoorreg was om ʼn baie goeie en bekwame regspan om my te hê wat my ondersteun het, het daar soveel dinge tot op daardie stadium skeef geloop dat die moontlikheid dat dinge verder skeef kon loop, wel bestaan het.
Ek skat die manier hoe ek dit hanteer het, was om maar bloot net op die Here te vertrou om my te beskerm en Hom te vertrou dat ek in Sy Wil sal stap. As Hy sou toelaat dat ek tronk toe gaan, sou Hy ook met my gewees het in daardie omstandighede. Die groot gevaar in my lewe was egter nie om lewenslank tronk toe te gaan nie. Die grootste gevaar in my lewe was om in bitterheid en onvergifnis te verval. Dit kon my my verlossing in Jesus gekos het.
Het hierdie hele saak jou verhou¬ding met God beïnvloed? Het jy ooit gevoel asof jy van God en mens verlate is?
Ek het baie ondersteuning van medegelowiges gehad en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek hoor nog steeds van mense wat in hul harte gevoel het om vir my te bid van wie ek nie eers geweet het nie. Ek is baie dankbaar daarvoor. Dit wys vir my daardie mense het ook ’n lewende verhouding met die Here en dat die Heilige Gees dit op hulle harte gelê het om vir my te bid. Dit is ook net vir my nóg ’n bewys van die Here se liefde vir my deurdat Hy dit op ander se harte gelê het om my te ondersteun. Ek is dankbaar vir al die mense se gehoorsaamheid, liefde en ondersteuning en ek vertrou dat die Here hulle vir hulle opofferings en gehoorsaamheid sal seën.
Sekere figure in die Bybel moes deur bitter moeilike tye gaan voordat hulle deur God vereer en verheerlik is. Dink maar aan Josef, Job, Dawid, om maar net ’n paar te noem. Voel dit nou ook asof jy jou vuurdoop vir God deurloop het?
Ek is versigtig om myself met karakters soos die genoemdes te vergelyk. Ek dink hulle het darem veel meer as ek deurgemaak. Maar daar is tóg iets wat ek uit hulle ervarings kan leer: om nooit die Here te blameer as dinge sleg gaan nie, en om jou oë altyd op Hom te hou en Hom met jou hele lewe te vertrou en te volg. Ek glo die Here se Woord vir my lewe is vol hoop, liefde, beskerming en vrede. Wanneer dinge moeilik gaan, is dit nie omdat die Here minder lief vir my is nie.
Dit is ook nie ‘n geval dat Sy Woord min¬der waar is nie. Selfs in die moeilikste tye was daar een ding wat die vyand nooit van enige van hierdie mense kon steel nie en dit is hulle verhouding met die Here. Trouens, as die Here jou saak beveg ten spyte van die skade wat die vyand probeer aanrig, kan ‘n mens se verhouding met Hom net nóg sterker word. Ek kon die realiteit van God se beloftes en beskerming in my lewe fisies ervaar en Sy liefde vir my is elke dag ‘n werklikheid.