
Ons leef in ’n tyd waarin baie mense daarop ingestel is om vooruit te gaan en die hoogspringdwarslat al hoёr op te skuif. Die vraag is egter of ons net so toegewyd is om geestelik te groei, nader aan die Here te kom en meer bruikbaar in Sy diens te wees.
Mense lees boeke, woon kursusse by en kry berading om hulle huwelik te verbeter. Ouers doen moeite en offer alles op om ’n beter opvoeding vir hulle kinders te verkry. Mense studeer en bekwaam hulle om bevordering te kry en meer geld te maak.
Staan jy geestelik stil?
Die Bybel moedig ons aan om nie geestelike babas te bly nie en volwasse te word. Die Bybel waarsku ons om nie geestelik te stagneer nie. Ons moet ons beywer om meer gehoorsaam te wees en Jesus te volg omdat daar groter en heerliker dinge op ons wag. Ons mag nooit by ’n punt van selftevredenheid kom asof ons volmaaktheid bereik het nie. Daar wag vir ons nuwe skatte in God se Woord en geestelike ervarings wat ons tot nou toe nog nie geken het nie.
Meet jou geestelike groei
In Amerika is ’n ondersoek met 11 000 vraelyste aan sewe verskillende gemeentes geloods om te bepaal hoe ver gemeentelede geestelik gegroei het. Hierdie ondersoek het baie interessante bevindings opgelewer. Daar is bepaal dat daar vier groepe mense in die Kerk is:
• Soekend na God Eerstens, mense wat ge-reeld kerk toe gaan, maar nie ’n verhouding met God het nie. Hulle lees soms Bybel en bid af en toe, maar is soekend. Alhoewel godsdienstig, het hulle nog nie ’n lewende verhouding met God nie.
• Pasgebore kinders van God Die volgende groep is die soekendes wat by Christus uitgekom het en hulle lewe aan Hom oorgegee het. Hulle het sekerheid van sondevergifnis en hulle kindskap van God. Hulle skakel in by kerklike aktiwiteite en begin stiltetyd hou. As pasgebore kinders van God is hulle grootste begeerte om geestelik te groei.
• Afhanklik van Christus ’n Derde groep is diegene wat al ’n geruime tyd Christene is en alles doen om naby aan Christus te lewe. Hulle is van Christus afhanklik vir elke dag se lewe en besluite. Hulle wil nie ’n oomblik van Christus verwyderd wees nie en vra Sy hulp en leiding in alles. As hulle by geestelike aktiwiteite en kleingroepe inskakel, is hulle grootste begeerte om steeds nader aan die Here te kom.
• Volwasse Christene Die ideaal van Christenskap word deur die vierde groep nagevolg deur daarna te strewe om Christus-gesentreerd te lewe. Hulle verhouding met Christus is vir hulle die prioriteit in hulle lewe. Hulle is volkome aan Christus oorgegee en is bereid om alles op te offer en te doen wat Christus van hulle vra. Hulle hele lewe, hulle agenda en geldsake is onder die beheer van die Heilige Gees. Hulle getuig elke dag en praat spontaan met ander oor Christus. Hulle fokus is om ander te dien en te help. Hierdie groep is die geestelike volwassenes in die gemeente. Dit is hulle wat ’n impak maak en die gemeente help groei en uitbrei.
Leef jy selfgesentreerd?
God se begeerte en plan is vir elke gelowige om in gehoorsaamheid na die volgende stap van geestelike groei te beweeg. Ons mag nie passief, lui of selftevrede raak en geestelik stagneer nie. Ons moet God se skeppingsdoel en rede vir ons verlossing uitlewe. God se plan vir ons elkeen is om ’n kanaal van seën te wees en ’n bediening te hê wat mense aanraak en help.
Ons moet onsself afvra of ons ander mense beïnvloed. Is ons ’n mentor vir iemand anders, of dalk iemand wat tydens ’n uitreik die leiding neem? Waaroor bid ons? Waarmee is ons elke dag besig? Waarop fokus ons elke dag?
Mag die Here ons inspireer om steeds te groei en al hoe meer mense geestelik te beïnvloed. As ons gehoorsaam is aan die stem van die Heilige Gees en luister na dit wat die Gees op ons hart lê, sal ons geestelik groei en ’n groter bydrae tot die Koninkryk van God maak. Gehoorsaamheid is die sleutel tot geestelike groei!
DIRKIE VAN DER SPUY, leier van Moreletapark Assosiasie – die nasionale
en internasionale uitreikfokus van die NGK Moreletapark. 021 997 8066 of www.moreletapark.com