
Het jy geweet dat 37% van die wêreld se bevolking oorgewig is1, met twee derdes Suid-Afrikaanse vroue en ’n kwart van ons land se kinders wat tot hierdie statistiek bydra?
Die World Heart Federation het in April verlede jaar daarop gewys dat Suid-Afrikaners se veranderende dieet, wat meer suiker, vet en sout insluit met al hoe minder vrugte en groente, tot ’n toename in kardiovaskulêre siektes lei2. Ons land het ook die hoogste styging ter wêreld van mense bo 50 wat aan hoë bloeddruk ly, sê Jessica Bacon van die South African Heart and Stroke Foundation.
’n Saak van die hart
Teen dié tyd wil jy seker omblaai na die volgende artikel, want soortgelyke inligting oor dieetverwante siektes word voortdurend in ons kele afgedruk.
En tog word ons vetter en bly die statistiek styg. ’n Tekort aan inligting is egter nie die oorsaak nie. Dit is inderdaad ’n saak van die ‘hart’.
Tempel van die Gees
As Christene weet ons dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig…” 1 Kor 3:16.
Ons het dus die verantwoordelikheid om na hierdie ‘tempel’ om te sien.
Die Gees is gewillig, maar…
Myns insiens behels dit dat ons sorg dat ons emosioneel, fisiek, geestelik en in ons denke so gesond moontlik is. En dikwels behels dít daardie heel laaste vruggie van die Gees – selfbeheersing: “Die vrug van die Gees is…selfbeheersing.” Gal 5:22.
Dit verg die selfbeheersing om emosionele kwessies te hanteer en nie bloot onder die mat in te vee nie, om ons geestelike mens te voed deur vroeg op te staan en Bybelstudie te hou, om te beheer waarna ons kyk en luister, en waarmee ons ons gedagtes vul. Dit verg die dissipline om te oefen en reg te eet. Tog is dit dikwels ’n geval van die gees wat gewillig is, maar die vlees is swak.
Leef as verloste mense
Skep moed, daar is hoop vir dié van ons wat met slegte gewoontes worstel! “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.” Fil 2:13. Ons het ’n helper, die Heilige Gees, wat ons hierin bystaan en help om nie volgens die vlees nie, maar die Gees, as verloste mense, te leef – in alle areas van ons lewe.
Nuwe gewoonte binne 21 dae?
Terwyl ons nog aan die begin van ’n nuwe jaar staan, is dit ’n geleë tyd om nuwe gewoontes vas te lê wat so ’n gesonde leefstyl tot gevolg sal hê. Gewoontes word gevorm deur ’n sekere handeling / gedrag herhaaldelik te doen.
Daar word gesê dat ’n gewoonte oor die verloop van 21 dae vasgelê kan word. Dit is ongelukkig nie heeltemal die waarheid nie en het ontstaan uit die werk van dr. Maxwell Maltz (’n plastiese chirurg) wat opgemerk het dat dit sy pasiënte gemiddeld ten minste 21 dae lank neem om aan hulle nuwe gelaatstrekke gewoond te raak. Sy waarnemings is egter nie noodwendig op gewoontevorming van toe passing nie.
Volgehoue toewyding
Hoe lank neem dit dan werklik om ’n gewoonte te vorm? Volgens navorsing van Phillippa Lally, ’n navorser in gesondheidsielkunde aan University College London, het dit gemiddeld meer as twee maande (66 dae) lank geduur voordat nuwe gedrag ’n gewoonte geword het.3 Die feit bly egter staan, goeie gewoontes vereis volgehoue toewyding.
Vorm gesonde gewoontes
Christelike Uitgewers Maatskappy, wat tradisioneel boeke met Christelike inhoud uitgee, het met die toenemende bewustheid van die noodsaaklikheid vir ’n gesonde leefstyl en dieet, besluit om in samewerking met bekende persoonlikheid, Michael Mol, en John Berry, van Kauai, ’n kookboek, ‘Jou beste lewe’, uit te gee wat ons as Christene kan help om goeie gewoontes aan te kweek en gesonde maaltydkeuses te maak.
Michael Mol dra verskillende hoede van verskillende vorms en groottes. Hy is ’n mediese dokter, ’n uitvoerende televisievervaardiger, aanbieder, internasionale spreker, besigheidskonsultant en maatskappydirekteur, maar die belangrikste posisie wat hy beklee, is dié van eggenoot en pa van drie.
Onlesbare dors na adrenalien
Vyftien jaar gelede het hierdie energieke traumadokter sy charisma van die ongevalle-teater na die televisieskerm oorgedra waar hy langer as ’n dekade lank Top Billing se anker-aanbieder was.
Hierna het hy sy passie vir die mediese wetenskap en die media gekombineer in ’n nuwe televisiereeks, Hello Doctor. Afgesien van al die hoede wat Michael dra, ly hy ook aan ’n ongeneesbare verslawing…’n onlesbare dors na adrenalien!
Van valskermspring uit ’n lugballon, om in Pamplona saam met die bulle te hardloop, tot om die onstuimige witwaters van die Zambezi op ’n lyfplank aan te durf, is daar niks waarvoor hy al ooit teruggedeins het nie.
Evalueer getuienis
Michael het die volgende te sê oor kos en gesond eet: “My filosofie betreffende kos kan in een sin opgesom word: ‘Jy is wat jy eet; vermy dus vark! Ek is nie ’n sjef nie, ek het geen formele dieetkunde-opleiding nie en wat ons op universiteit omtrent voeding geleer het, kan op ’n ‘post-it’-papiertjie opgesom word. Wat my mediese agtergrond my wel geleer het, is om die getuienis te evalueer en nie alle uitsprake blindelings te aanvaar nie.
Jy is wat jy eet
“Daar is ’n klomp kwaksalwery en hoorsê betreffende gesond eet en as ek die lesers enige raad sou gee, sal dit wees om die bewyse te beoordeel, opinies te bevraagteken en te toets wat te goed lyk om waar te wees.
Daar is ’n regte manier van eet en elkeen van ons moet ons dit ten doel stel om uit te vind wat dit is omdat ons regtig ís wat ons eet. Daar is min dinge wat so ’n groot uitwerking op jou gesondheid het as dít wat jy elke dag in jou mond sit.”
Gesonde eetgewoontes oorkom Epstein-Bar-virus
John Berry is een van die stigterslede van Kauai en het ’n kookkunsdiploma van die Santa Barbara City College in Kalifornië. Voor John se betrokkenheid by Kauai het hy ’n dekade lank as ’n sjef gewerk in ’n aantal restaurante en hotelle dwarsoor Kalifornië, die Amerikaanse Maagde-eilande en Hawaii.
John het deur gesonde eetgewoontes herstel van die Epstein-Barr-virus (chroniesemoegheidsindroom). Hy is ’n lewende voorbeeld van die voordele van voedsame kos en sap.
Maklike maaltye vir ’n besige leefstyl
Sy kosfilosie? “Vandag, meer as ooit, is die versoeking groot om ons gesondheid ter wille van gerief in te boet. Ons lewe almal teen ’n vinnige tempo en wanneer dit by eet kom, is geprosesseerde geriefskos ’n lokval. Daar is ’n desperate behoefte aan leiding oor wat ons moet eet en hoe ons ons lewens moet lei.
Hierdie boek maak voorsiening vir ’n verskeidenheid liggaamstipes en diëte. Daar is resepte wat paleo-vriendelik, glutenvry en vegetaries is, laekoolhidrate-hoëvet-, supernutriënt- en laevet-resepte. Dit is nie ’n een-grootte-pas-almal-dieet wat ons voorskryf nie, maar ’n kreatiewe benadering tot kos wat hoog is in voedingswaarde vir ’n besige leefstyl.
Geniet maaltye saam
“Almal se voedingsbehoeftes verskil, maar daar is iets wat ons almal gemeen het – die behoefte om ons kos saam met die mense vir wie ons lief is te geniet. Tydens maaltye geniet ons nie net die smake nie, maar skep ons ook saam herinneringe.
Om maaltye saam te geniet is kernbelang-rik vir ons welstand, maar ons moderne kultuur bedreig hierdie gewoonte. Baie gesinne eet apart weens oorwerkte ouers, kinders wat te veel buitemuurse aktiwiteite het of die afleiding van televisie en selfone.
Sit saam aan
“ ’n Onlangse studie oor tienergesondheid, het bevind dat tieners uit huishoudings wat gereeld saam eet, minder geneig is tot geweld, selfmoord, verslawing en vroeë seksuele aktiwiteit.
Iets so eenvoudig soos om saam by ’n tafel aan te sit kan ’n groter uitwerking hê as wat jy ooit sou kon droom! Die geleentheid om ons dag met mekaar te deel, versterk die bande wat ons saamsmee. Goeie geselskap en ’n smaaklike, voedsame maaltyd is beslis kos vir die siel. Geniet dit!”
Eer God met jou liggaam
Ons het elkeen ons toegekende aantal dae op hierdie aarde, waartydens ons die mense om ons kan liefhê en ’n lewe met ewigheidswaarde kan leef. ‘n Gesonde liggaam beteken dat jy dit makliker sal kan doen, sonder gesondheids-kwale. Waarom maak jy dit nie jou doelwit om hierdie maand op jou gesondheid te fokus en God in jou geestelike lewe, maar ook in jou liggaam te eer nie? Begin saam met ’n groep vriende stap of oefen, of ’n gesonde dieet te volg – dit kan sommer ook ’n manier wees om na ander uit te reik.
Wees alles vir almal
Selfs kerke kan ’n gesonde leefstylprogram loods as ’n manier om in die gemeenskap uit te reik deur strekklasse, oefenklasse of stapgroepe te fasiliteer. Paulus het ons aangemoedig om “vir almal alles te word” sodat hulle gered kan word 1 Kor 9:22. Deur die gesondheidsbehoefte van die gemeenskap om ons aan te spreek, kan ons hulle ook die ewige welsyn van die Ewige lewe bied.