n Paar jaar gelede het ons by my man se familie gaan kuier en hy het die band met sy jonger broer versterk deur saam videospeletjies te speel, wat hulle ure lank gedoen het. Daarna het hulle vir aandete kom aansit. Ek en die kinders was bly om Greg weer terug te hê uit die speletjiebeswyming waarin hy was, maar ook dat hy spesiale tyd saam met sy broer kon deurbring.
Ná aandete het Greg aangekondig: “Ons gaan net gou die speletjie klaarmaak. Ons staan op die punt om die wêreld te verower.” My sinisme het die oorhand gekry; terwyl hy by die trappe afstap, het ek agter hom aangeroep: “Moenie vergeet dat wanneer jy die hele dag lank voor ’n televisieskerm sit, jy steeds niks gedoen om die wêreld te verower nie. Jy mag voel dat jy die wêreld verower het, maar jy het eintlik niks vír die wêreld gedoen nie.”
Lewe in ’n vals wêreld
My man het gelag, wetend dat ek ’n grap gemaak het, maar ook dat daar tog waarheid in my opmerking steek. Hierdie videospeletjie-, sosiale-media-verslaafde-kultuur is tevrede met namaaksels sonder dat hulle selfs daarvan bewus is. Seuns sit tuis voor hul rekenaarskerm en voel asof hulle oorwinnaars, beskermers, kampioene, vegters, beroemde sportmanne en selfs musikante is sonder om eens ’n druppeltjie te sweet of om aan ’n ware rugbybal of musiekinstrument te raak.
Mans sit voor die rekenaarskerm terwyl vroue met wie hulle nog nooit gepraat, uitgegaan het of mee getroud is nie, hulle seksueel prikkel. Meisies sit voor skerms waar hulle boodskappe en twiets skryf, of foto’s van hulleself oplaai vir sogenaamde vriende wat hulle nog nooit in lewende lywe ontmoet het nie.
Word ons kultuur ’n nabootsing van die werklikheid?
Om die wêreld te verower beteken dat jy van die rusbank af opstaan, by die deur uitloop, die son op jou gesig voel terwyl jy letterlik iets doen om die wêreld te verower. Jy kan ook nie die wêreld verower sonder om met ander mense in die wêreld in kontak te kom en betrokke te raak nie.
Om ’n vrou naak te sien, behoort te vereis dat jy haar in lewende lywe ontmoet het, dat jy haar leer ken, haar uitneem, ’n roomys vir haar koop, haar familie ontmoet, opofferings vir haar maak, jouself kwesbaar maak vir haar, haar vra om met jou te trou en om in die huwelik te tree. Julle gedeelde naaktheid behoort sonder skaamte, geheimhouding of bedrog te wees omdat jy jouself tot hierdie vrou, en haar alleen, verbind het om haar ten volle getrou lief te hê.
Ware vriendskap
Eweneens behoort om vriende te hê ’n werklike ontmoeting van aangesig tot aangesig in te sluit, of ten minste ’n stem-tot-stem-gesprek wat meer inspanning verg as om slegs 140 letters te tik of ’n kort boodskappie te stuur. Vriendskap moet die toets van die tyd kan deurstaan wat betroubaarheid en eerlikheid vereis.
Vriendskap vereis die toewyding om verontrief te word: soos wanneer ’n vriend in die middel van die nag die behoefte het om met jou te praat en jou uit die slaap waarna jy smag, wakker maak en jy die oproep steeds neem; of wanneer ’n vriend iets verkeerds doen en jy ’n ongemaklike waarheid aan hom/haar moet tuisbring, in die hoop dat dit in die regte lig aanvaar sal word en die vriendskap sal versterk. Vriendskap is nie kort, niksseggende sinnetjies en om net te sê wat iemand wil hoor nie. Vriendskap behels intimiteit.
Ons hartsbegeerte is om met ander te kommunikeer en in verbintenis te wees – maar hoe meer ‘vooruitgang’ ons maak, hoe minder ken ons mekaar.
Vals verhoudings, vals gevoelens
Die jeug wat op hierdie manier grootword, is mislei. Hulle ervaar nie ware verhoudings en ware emosies nie. Ek sien deurentyd die uitwerking van hierdie gebrokenheid wanneer ek met hulle praat.
Die beste plek om verandering teweeg te bring, is in jou eie huis. ’n Sesjarige maatjie van my seun het my onlangs aan die mou gepluk en gevra: “ Tannie, het Michael ’n ADSL of ’n Wii? Watter rekenaarspeletjies het hy? Brady weet nie watter speletjies julle in julle huis het nie.”
Hierdie oulike seuntjie het dronkgeslaan na my opgekyk en gewonder hoekom my seuntjie nie weet wat die name van sy rekenaarspeletjies is nie.
“Ons het ’n Wii,” het ek geantwoord, “maar ons speel rekenaarspeletjies net as ’n gesin saam, net soos ons bordspeletjies speel, en die enigste een wat ons tans het, is ’n sportspeletjie en ’n avontuurspeletjie.” Toe kyk hierdie seuntjie my nog meer verbysterd aan en sê: “Ek het die hele naweek lank op my eie rekenaarspeletjies in my kamer gespeel.”
Kinders bestee te veel tyd alleen
Is ek besorgd oor daardie kind, wat op sesjarige ouderdom alleen in sy kamer voor ’n skerm sit en ’n speletjie speel wat nie die werklikheid is nie? Nie noodwendig nie. Ek bedoel, die meeste kinderspel behels nie die werklikheid nie. Wat my wel bekommer is die tiener of die volwassene waarin hy kan ontaard as hy toegelaat word om tydens sy ontwikkelingsjare maar tevrede te wees met die namaaksel. Ek is bekommerd daaroor dat hy leer dat dit aanvaarbaar is om geïsoleerd van jou gesin, in jou eie kamer voor ’n rekenaarskerm te sit, waar niemand kan sien wat aangaan nie. Ek is bekommerd dat hy soveel bevrediging uit die emosies sal put wat hy ervaar wanneer hy hierdie speletjies speel, dat hy nie die nodige energie sal aanwend om ware ontmoetings en verhoudings te bou nie.
Ek is bekommerd (gegewe dat die gemiddelde ouderdom wanneer kinders vir die eerste keer pornografie sien, ongeveer 8-9 jaar oud is) dat hy eendag hierdie gedrag, om opwinding voor ’n rekenaarskerm op te soek, sal verplaas na die kyk van pornografie op daardie selfde skerm – in die geheimhouding en privaatheid van sy eie slaapkamer terwyl sy ouers aanneem dat hy maar net rekenaarspeletjies speel.
Bestee tyd saam
Daar is ’n paar dinge wat ons kan doen om ons kinders te help om volwassenes te word wat die ware Jakob wil ervaar en wat ware verhou-dings bou. Ons speel selde rekenaarspeletjies in ons huis. Wanneer ons dit egter wel doen, speel ons as ’n gesin saam.
Ons speel, praat, bemoedig, kompe-teer, leer goeie sportmanskap en groei in verhoudings terwyl ons rekenaarspeletjies speel, net soos wanneer ons bordspeletjies speel. Ons het een televisiestel waarna ons almal saam kyk.
Bestee tyd saam as ’n gesin
Ons het nie draagbare toestelle wat die kinders na hulle kamers mag neem en hulleself mee kan isoleer nie. Soms, as ’n spesiale vergunning, laat ek die kinders toe om ’n speletjie te speel of iets op die IPad te kyk terwyl ek in dieselfde vertrek doenig is.
Ons nooi dikwels ons kinders se vriende oor, om hulle ruim geleentheid te gun om te speel en met ander in ’n ware verhouding te kommunikeer; waar hulle moet leer hoe om met ander oor die weg te kom en waar hulle die voordeel van verbeelding en kreatiwiteit kan geniet.
Ek glo nie dat die ouer se rol is om gedurig hulle kinders te probeer vermaak en te verseker dat die kinders se dag volgepak is sodat hulle nie verveeld raak nie. Ek wil hê dat my kinders verveeld wees – want dit is wanneer hulle hulle eie tyd moet verwyl. Waarmee hulle vorendag kom om te doen, is beter as enige rolprent of rekenaarspeletjie.
Hulle word skeppers van kreatiewe en verbeeldingryke kunswerke, musiek en spel, in plaas van blote verbruikers van iets wat iemand anders uitgedink het in ’n rekenaarspeletjie of rolprent.
Kom in verbinding met die skoonheid van die lewe
Eenvoudig gestel, ons maak ’n doelbewuste keuse om toestelle af te skakel sodat ons met die werklikheid, liefde en mense in verbinding kan wees. Die opoffering is uitdagend wanneer ’n mens in hierdie tegnologiese ‘vooruitstrewende’ tye leef.
Ja, dit is vir ons die moeite werd, met die wete dat wat ons poog om te vermag, ons kinders sal help om ware verhoudinge met mense te vorm, dat hulle die lewe voluit sal leef deur werklik aan sport deel te neem en musiek te maak – en self die wonder van hierdie wêreld ontdek.