God, die Regering en die 10 Gebooie

Baie mense verkeer onder die illusie dat die Bybel absoluut niks te sê het oor enige van die sosiale strukture, konstitusionele modelle of politieke sake nie. Ongeveer 29% van die Bybel handel egter oor geestelike sake en ons persoonlike lewens en 71% handel oor sosiale, politieke en nasionale kwessies.
Ons Here Jesus Christus het baie belangrike geestelike beginsels en konsepte deurgegee wat elke deel van die sosiale en politieke lewe affekteer. Jesus het vir die Romeinse Goewerneur, Pontius Pilatus gesê: “U sou geen absolute mag oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.” Joh 19:11. Siviele gesag is baie duidelik afgewentel deur en verantwoordbaar aan God.
Die Bybel is baie duidelik dat God siviele regerings ingestel het as “ ‘n dienaar van God om jou beste belange te bevorder.” Rom 13:4. Die siviele regering is dus geroep om God se reg toe te pas: “…om die wat kwaad doen, te straf…” 1 Pet 2:14.

BESKERMING IS PRIMÊR
Die primêre taak en verantwoordelikheid van ‘n siviele regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van diegene wat die wette breek. Psalm 101 herinner ons dat die taak van Goderende regeerders is om die boosdoeners te straf, boosheid uit te roei en die wetsgehoorsames te beskerm. Jesus het ons geleer om: “aan die keiser (te gee) wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hom toekom.” Matt 22:21. Die siviele regering het sekere regmatige regte en verantwoordelikhede, maar dit is grootliks beperk. Ons moet ons belastings betaal (maar belasting wat so hoog is as selfs 10%, is eintlik onderdrukkend – 1 Sam 8: 10 -18); militêre diens te verrig indien so vereis; as getuies in die hof te getuig as daar misdaad gepleeg is en om die lewe, die eiendom en reputasie van ons bure te respekteer.
Die aanbidding van God, opvoeding van ons kinders, ons privaateiendom, ons individuele ondernemings en persoonlike menings (aanbiddingsvryheid, onderwysvryheid, vrye markstelsel en vryheid van spraak) is baie duidelik nie geskoei op die lees van die regering nie en val dus buite die jurisdiksie van ‘n Bybelgefundeerde konstitusionele staat.
Ons Here het die gesag van die morele, sosiale, ekonomiese en politieke Wette van God, soos ons dit in die Ou Testament vind, onderhou: “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verse-ker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Ja, dit sal geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in die kleinste besonderhede respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk.” Matt 5:17-19.
In Sy openbare onderrig het Jesus die Ou Testamentiese Wette teen moord, diefstal en egbreuk (Matt 5:21-28) bevestig; asook díé wat handel oor die oneer teen-oor ouers (Matt 15:4) en meineed (Matt 19:18). Jesus het ook die reg op privaatbesit van eiendom en die vryemarkstelsel en winsneming onderskryf (Luk 16:11; 19:12-27; Matt 20:1-15; 25:14-30).

MAGSHEBBERS OOK DIENAARS
Ons Here het ook geleer dat siviele mags-hebbers ook openbare dienaars behoort te wees. Matt 20:25-28: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die magshebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ‘n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees.” Kyk ook in hierdie verband na Luk 22:25-26.
Dit is juis om hierdie rede dat amp-tenare in siviele regerings ‘ministers’ en ‘dienaars’ genoem word. Die hele konsep dat ‘n siviele regering die dienaar van sy inwoners is, is ‘n unieke Christenidee wat uit hierdie verse ontstaan het. Die term ‘Eerste Minister’ het hieruit ontstaan – as die eerste dienaar.
Terwyl die meeste groepe vandag eks-terne oplossings vir ons vele sosiale pro-bleme verkondig – redding deur politiek of deur veranderde sosiale strukture en wette – beklemtoon die leringe van Christus die nodigheid van interne verande-ring, d.w.s. jou hart en verstand moet nuut word. Matt 15:19: “Wat uit die hart kom, is slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, ontrou te wees in die huwelik, onsedelikheid te bedryf, te steel, leuens te vertel en mense te belaster.”

WARE VRYHEID
Ware Vryheid kom van binne af. Die fondasie vir ‘n ware vry en vooruitstrewende nasie kan net gevind word in karakters, verstand en die lewens van mense wat deur God se genade verander is. Om suksesvol te wees, moet ‘n gemeenskap bestaan uit eerlike inwoners wat nie sal steel nie, hardwerkend en pligsgetrou is, medelydende gesinne wat omgee vir vir hul bure, verantwoordelike werkers wat hul plig sal nakom en getroue rentmeesters van openbare bronne.
Nasies se krag hang van die krag van die gesinne binne die nasie af. Regerings kan net goed wees indien die inwoners van die land goed is. Die wat hulself nie kan beheer nie, kan beslis nie ‘n stad regeer nie (Spr 16:32). Die wat nie hul eie huishouding kan bestuur nie, is ook nie in staat om ander te lei nie (1 Tim 3:4-5).
God het vier sfere vir regering ingestel:
1. Selfregering: Gesimboliseer deur die gewete.
2. Familieregering: Gesimboliseer deur sterk dissipline.
3. Kerkregering: Gesimboliseer deur die sleutel van Kerkdissipline.
4. Siviele Regering: Gesimboliseer deur die swaard van die reg.
God het ook in die Israelse regering tien sleutelbeginsels van vryheid gevestig:
1. ‘n Geskrewe grondwet (verbond), gebaseer op God se Woord, wat die mag van die regering baie duidelik definieer en beperk.
2. ‘n Skeiding van mag en funksies in die siviele regering in drie verskillende vertakkings:
•         Uitvoerend (die koning of die regter),
•         Wetgewend (die Raad en Sanhedrin),
•         Geregtelik (die ouderlinge of regters in elke gemeenskap).
•         Hierdie drie vertakkings van die regering is gebaseer op hoe die Here Sy Regering openbaar het – Jes 9:6,7. Jes 33:22 sê ook: “Want die Here is jou Regter, die Here is ons Regeerder. Die Here is ons Koning. Hy is die een wat ons sal red.”
3. ‘n Onafhanklike regstelsel en die reg op ‘n regverdige verhoor (2 Kron 19: 5-7). In Deuteronomium 19:15-19 word die beginsels van ‘n regverdige verhoor soos volg uitgespel:
•         jy is onskuldig totdat jy skuldig bevind is,
•         die reg op regsvoorskrifte,
•         getuies moet die beskuldigde persoonlik konfronteer,
•         ‘n saak moet ingestel word deur twee of drie getuies,
•         regters moet onpartydig wees.
4. ‘n Nasionale wetgewer (wetmakende instelling) waar die een huis bestaan uit verteenwoordigende regters of amptenare wat deur die mense ver-kies is (Deut 1:13 – 17). “Maar jy moet uit die volk eerlike en bekwame manne kry wat vir die Here wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Julle moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1000, 100, 50 en 10 mense.” Eks 18:21.
5. ‘n Tweede huis in die wetgewer wat bestaan uit twee oorgeërfde ouderlinge uit elk van die elf stamme (of geo-grafiese gebiede) van Israel saam met die 24 priesters uit die stam van Levi en twee skrifgeleerdes uit elk van die 12 stamme. Dit het dan die Sanhedrin gevorm.
6. ‘n Uitvoerende beampte (regter of ko-ning) wat onder die leiding van God gekies is en wat die goedkeuring van die ouderlinge het (Deut 17:14-20; 1 Kron 11:3).
7. ‘n Gedesentraliseerde staat waar die meeste verantwoordelikhede en mag op die plaaslike regering, die familie en die individu rus. (Sentralisering van mag in ‘n unitêre staat was nog altyd ‘n heidense tendens soos gesien in Nineve, Egipte en Babilon. Omdat mag bederf bring, is dit wys om die mag van die siviele regering in ‘n sisteem van wigte en teenwigte te verdeel. (Eks 24:1; Deut 1:13-17; Hand 17:26).
8. ‘n Weermag wat bestaan uit opgeleide inwoners wat die reg en plig het om die wapen op te neem ter verdediging van hul huise, families, gemeenskap en nasie, (Num 1:2-3; Rig 3:2; Deut 20:1-4,9).
9. ‘n Vryemarkekonomie gebaseer op privaateienaarskap van eiendom en individuele vrye ondernemings. Enige belasting wat hoër as 10% was, is as onderdrukkend beskou en enige eiendomsbelasting of erfenisbelasting is verbied. Instellings en individue wat in voltydse bediening betrokke was, kon nie belas word nie. Bybelse ekonomie het ook onregmatige mate (inflasie) en gewigte (valuta) verbied. (Eks 20:15,17; Deut 19:14; Spr 10: 2-4; 1 Tes 3: 10; 1 Sam 8: 10 – 18; 1 Kon 21:3).
10. ‘n Onderwysprogram wat deur ouers, maar met die hulp van die Kerk, onafhanklik van die staat, ondersteun word. (Deut 6:7; Esra 7:23,24; Matt 28:19; Ef 6:4; Kol 2:8).

FONDASIE VIR AL ONS REGTE
Die Tien Gebooie verskaf nie net die fondasie vir sosiale orde nie, maar dit is ook die fondasie vir al ons ander regte. Elke gebod handel oor ‘n spesifieke area: God, aanbidding, spraak, tyd, gesag, lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete.
Die Tien Gebooie dek ons verantwoordelikheid teenoor God, teenoor ons ouers en ook teenoor ander mense. Gehoorsaamheid aan hierdie Gebooie het ‘n respek vir God, mense en eiendom tot gevolg.
Elke Gebod bevat ‘n verbod, bv. “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie…” verbied veelgodery en ateïsme. Elke Gebod impliseer egter ook ‘n reg. Die Eerste Gebod impliseer tog vryheid van aanbidding.
Wanneer die Derde Gebod godslastering, vals profesieë en goddeloosheid verbied en wanneer die Negende Gebod meineed, skinder of lastering verbied, is dit die enigste beperkings wat daar op spraak gelê word. Buite hierdie beperkings is daar vryheid van spraak. Behalwe om afgode-diens in die Tweede Gebod te verbied en gierigheid en selfsug in die Tiende Gebod, het ons vryheid van gewete.
Die Sesde Gebod verbied moord, selfmoord, aborsie en genadedood; dus verskans dit die reg op lewe. Die Sewende Gebod verbied ontug en perversie – dit verskans dus die heiligheid van die huwelik. Net so ook die Agtste Gebod wat be-drog en diefstal verbied – dit verskans die reg op privaateiendomsbesit.
Die Tien Gebooie is die fondasie van al die volgende regte:
1. vryheid van aanbidding;
2. die reg om God se Wil te ken en dit te doen;
3. vryheid van spraak;
4. die reg om te werk en te rus;
5. respek vir gesag;
6. die reg op lewe;
7. die heiligheid van die huwelik;
8. privaat eiendomsbesit;
9. die reg om teen laster beskerm te word;
10. vryheid van gewete.
Die Bybel definieer sonde as “wetteloosheid”. 1 Joh 3:4. Jesus het gesê: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” Joh 14:15
Amos 5:15, 24: “Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat die regverdigheid in die howe seëvier. … Ek wil liewer ‘n vloed van regverdigheid sien, ‘n eerlike leefwyse soos ‘n stroom water wat nie ophou vloei nie.”
George Washington het gesê: “Godsdiens en moraliteit is onmisbaar vir enige goeie regering.”