Rigters 3:12-30
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry…Eglon het die Ammoniete en ook vir Amalek by hom laat aansluit, en hulle het die Israeliete gaan verslaan en die Palmstad verower.
Die Israeliete was agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab. Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder vir hulle na vore laat kom, Ehud seun van Gera, ’n Benjaminiet. Ehud was links, en die Israeliete het hom met die belasting gestuur na koning Eglon van Moab toe. Ehud het vir hom ’n swaard gemaak, ’n halwe meter lank en aan albei kante geslyp. Hy het dit aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak.
Hy het die belasting oorhandig aan koning Eglon van Moab, ’n baie vet man. Nadat Ehud die belasting oorhandig het, het die koning die mense wat dit gebring het, laat vertrek, maar Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “Koning Eglon, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.” Toe sê die koning: “Laat ons alleen,” en al sy amptenare het van hom af weggegaan.
Ehud het nader gekom na die
koning toe waar hy gesit het in sy koel bovertrek wat net vir hom bedoel was, en vir hom gesê: “Ek het ’n boodskap van God vir u.” Hy het toe opgestaan van sy troon af en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek. Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie.
Hy het toe deur ’n geheime uitgang en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het. Nadat hy uit is, het Eglon se amptenare gekom en toe hulle sien dat die deure van die bovertrek gegrendel is, het hulle gedink die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koelvertrek. Hulle het tot vervelens toe gewag, maar die koning het nie die deure van sy bovertrek oopgemaak nie, en toe hulle ’n sleutel vat en oopsluit, lê hulle die koning daar dood op die vloer.
En omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap.
Hy het by Die Beelde verby gegaan en na Seïra toe gevlug. Toe hy daar kom, het hy die ramshoring op die Efraimsberge laat blaas. Die Israeliete het van daar af na hom toe gekom. Hy het hulle leier geword en vir hulle gesê: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.” Hulle is toe saam met hom en hulle het die Jordaandriwwe na Moab toe beset en niemand daar laat deurgaan nie. By daardie geleentheid het hulle die Moabiete verslaan: omtrent tienduisend man, almal sterk en goeie soldate.
Niemand het ontsnap nie. Moab is daardie dag deur Israel onderwerp, en daar was tagtig jaar lank vrede in die land.
Israel het gesondig en as gevolg daarvan moes hulle vir agtien jaar lank onderdanig wees aan die koning van Moab en hom te midde van gewelddadige onderdrukking dien. Deur hulle eie toedoen, was die volk weereens aan ’n man onderwerp wat hulle nie slegs onderdruk het nie, maar ook mishandel het. Dit was in hierdie uur, waar hulle tot op hulle knieë gedwing is, dat hulle hul koppe gelig het, hul stemme verhef en om hulp uitgeroep het. Die dringende gebed het die Hemel bereik en in ’n oogwink het God besluit om iemand op te rig.
Deur God aangevuur
God het op die stam van Benjamin gefokus en Ehud, die seun van Gera, gekies. Dit is interessant dat die Bybel noem dat Ehud links was en, alhoewel dit aanvanklik nie belangrik blyk te wees nie, speel dit later ’n rol in die uitvoe-ring van God se opdrag. [Dit sou vir die wagte lyk asof hy ongewapen is omdat ’n swaard normaalweg aan die linkerkant vasgegord sou wees.] Daar word nêrens in die Bybel na gesprekke tussen Ehud en God verwys nie, maar ek vermoed dat Ehud se aksies moontlik van binne deur God aangevuur is.
Volgens die Bybel het Ehud, erg gefrustreerd en kwaad, in die geheim ’n spesiale swaard gemaak wat hy onder sy regterheup vasgemaak het vir sy besoek aan die koning. Sy volgende belangrike aksie was om koning Eglon van Moab te betaal en sodoende voor te gee dat hy daardeur ’n huldeblyk aan die koning bring. Die koning het egter die jong man onderskat. Ehud wou nie langer aan die koning se wreedheid uitgelewer wees nie en het moed bymekaar geskraap omdat hy besef het dat God hom wil gebruik om die Israeliete te bevry.
God maak dit moontlik
Wanneer Ehud die geskenk aan die koning oorhandig, noem hy dat hy ’n geheime boodskap vir die koning het. In opdrag van die koning, verlaat almal die vertrek. Ek kan nie help om opgewonde te raak oor God se vermoë om ’n weg te skep as ’n mens in gehoorsaamheid optree nie. Ehud steek die oorgewig koning met sy swaard in die maag en ontsnap deur ’n geheime uitgang.
Gesindheid van nederigheid
Daar kan nog baie gesê word oor die diensknegte wat gedink het dat die koning besig was terwyl hy eintlik dood is, maar laat ek ten slotte fokus op die ongelooflike gesindheid wat Ehud openbaar toe hy weer by die Israeliete kom. Ander sou die lof vir hulleself toegeëien het, maar hy het op sy ramshoring geblaas en met ’n harde stem uitbasuin: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.”
Gee God die eer
Vriende, hierdie storie inspireer my om verskeie redes. Eerstens: God gee gehoor aan die hulpgeroep van Sy mense en kan ook jou hulpgeroep hoor. Tweedens: God is gewillig om saam met ons te gaan wanneer ons ons onderdrukkers dapper tegemoetgaan. Derdens, en vir my die belangrikste: Ehud stel ’n goeie voorbeeld van hoe ons behoort te reageer en getuig wanneer ons oorwinning smaak. Ons moet, net soos Ehud, nie nalaat om God die eer en erkenning te gee nie.