Ilse Kleyn: Kuns met n Geestelike Diepte

Ilse Kleyn is ‘n bekende Christen-kunstenaar en woon in Kaapstad saam met haar man, Drikus en hulle twee dogters, Lene en Danielle en klein Johannes. By hulle huis groet die warboel worshonde uitbundig toe ons binnestap. Die huislike geur van die kolwyntjies wat Lene vir ons bak (en later in al hulle heuningkleurige glorie op die skinkbord opdaag), verwelkom ons. Die geblaf laat Johannes, die driejarige krullebol, wakkerskrik. Ilse maak die huilende kleuter op haar skoot bymekaar en vertel dat hulle hom amper verloor het, maar “dit is ’n ander lang storie”, waarby ons later uitkom.

Die keuse: kuns of ’n bestendige inkomste?
Ilse is met ’n goeie skoot kunstalent gebore, en is reeds die derde geslag in die familie wat kunstenaars opgelewer het. Op skool het sy kuns as vak geneem en het selfs ’n draai by die nasionale kunsskool, destyds nog in Hillbrow, gemaak: “…maar die koshuislewe in die stad was nie vir my nie. My droom was om ná skool kuns te studeer, maar omdat kunstenaars ’n onbestendige inkomste het, het ek na vele oorweging besluit om eerder ’n veiliger opsie met ’n bestendige inkomste te kies.”

’n Soeke na meer
Ná skool het Ilse dus haar beroep van 16 jaar in die polisie afgeskop, waar sy onder meer as polisiekunstenaar polisie-identikits geskets het. Daar was egter ’n leemte, ’n soeke na meer. Sy vertel: “Ek het twee jaar lank in Pretoria gewerk. Dit het my nie vervul nie, daar was vir my geen lewe in nie. Toe kom ek Kaap toe. By hierdie tak ek ook na meer gesoek en so het ek van die een eenheid na die ander gehop in die hoop dat ek dáár gaan kry waarna ek soek.”

Goeie bedoelings
Intussen is Ilse met Drikus, ook ’n polisieman, getroud en het haar polisiediploma verwerf (sy is later tot kaptein bevorder). Sy het in verskeie departemente gewerk, onder meer ook die okkult-verwante misdaadeenheid waar dinge skeef geloop het: “Ek het by die okkulte-eenheid betrokke geraak en my fokus heeltemal te veel op die ander kant eerder as op Jesus geplaas – met goeie bedoelings – maar in die proses het ek my eerste liefde vir Hom verloor. Die oomblik as hoogmoed instap, val jy. Jy laat sonde mos so stadig-stadig toe en as jy jou oë uitvee dan kook die padda in die warm water.”

Die genadige liefde van Jesus
Haar huwelik was op die rotse en sy was die verste wat sy ooit van God af was; tog is dit hier waar sy genade in oorvloed ontdek het: “Ek was op my laagste laagtepunt toe die Here vir my die deur oopgemaak het. Op die plek waar ek die verste van Hom gevoel het, dáár waar ek gedink het Hy my behoort af te skryf, met ’n groot skeur tussen my en Hom, het Hy my teruggevat en my die belofte gegee dat Hy my gaan herstel .” (Ilse sluk
die trane weg en vee die trane van haar wange af.) “Soms is dit ’n groter ding om jouself te vergewe as wat ander mense jou vergewe…”
Dit is dan ook Ilse se skildery met die vrou aan Jesus se voete wat hierdie ervaring van genade en liefde aan Jesus se voete uitbeeld.

Rhema-woord van God
Ilse se droom om ’n kunstenaar te wees, het onmoontlik ver gelyk. Die rentekoers was 24%, en Drikus het dag en nag ekstra werk gedoen, dakke afgespuit en droëwors verkoop om kop bo water te hou. Die droom was diep weggepak…tot ’n keerpuntnaweek. “Ons het vir ’n naweek weggegaan en Drikus en die kinders is die oggend swembad toe. Ek het my stiltetyd gehou en voor die Here gehuil. Daar was ’n diep hartseer in my. Was daar ooit ’n kans dat ek net kan verf? Daar was finansiële verpligtinge, ’n huis om af te betaal, twee kindertjies. Ek kry toe ’n woord uit Esra 7:27-28: “Jy gaan die mure in Jerusalem versier…en saam met groot manne optrek na Israel toe.” Dit was ‘n ‘rhema’-woord van God af. Ek het dit in my dagboek geskryf. Vir my het, “jy gaan die mure versier”, beteken dat ek gaan teken; ek weet net nie wanneer nie. Letterlik agt jaar nadat ek daardie woord gekry het, staan ek toe ín Jerusalem om namens Mandate Africa een van my skildery te oorhandig.” Die gebeurtenis waarna Ilse verwys, het drie jaar gelede plaasgevind toe sy as deel van Mandate Africa na Israel is. “Lindie Gouws het ’n opdrag van die Here gekry dat Afrika ’n geskenk vir Israel moet neem. In die vergadering waartydens hierdie opdrag bespreek is, sit ’n ou toevallig met van my kaartjies met my kunsafdrukke daarop in sy hand en skuif dit oor die tafel: ‘Dít is dalk ’n moontlikheid.’ Lindie het my gebel en gevra of hulle ’n afdruk kon kry om saam te neem. Ek het die oorspronklike skildery nog gehad en het dit vir hulle aangebied. Sy het my op die daad saamgenooi!”

Ek kyk nie een dag terug nie
Dit was Ilse se skoonma wat haar aan die skilder gekry het. Sy het prentjies na Ilse gebring en haar gevra om dit vir haar te skilder. Daarna het Ilse iets vir ’n vriendin geskilder en daaruit het die reeks van vroue in rooi voortgevloei. Drikus het haar potensiaal gesien en haar werk na galerye geneem waarop aanvraag na haar werk begin groei het. Dit was ook Drikus wat uiteindelik die stap in die geloof geneem het en Ilse aangemoedig het om voltyds te begin skilder: “Hy het gesê: ‘Kom ons vertrou die Here.’ Ek het uit die polisie bedank om my voltyds aan my kuns te wy; ek kyk nie een dag terug nie!”

Profetiese beelde
Ilse se kuns het ’n sterk profetiese inslag; sommige van die werke is haar eie getuienis, ander onderwerpe is deur die Heilige Gees geïnspireer. ‘Die Sewe Geeste’ wat sy vir die Aardklop-fees geskilder het, was ’n baie uitdagende projek. “Ek het geweet ek moet die sewevoudige Gees van God skilder, maar dit was moeilik, ek sou liewer die vrugte van die Gees wou skilder! Ek het die Here vir inspirasie gevra; die eerste beeld wat in my opgekom het, was die wit duif. Vir die ander het ek Bybelstudie oor die aspekte van die Gees van God gedoen en wanneer ’n beeld opkom, dit neergeskryf en daarna het ek almal probeer inkorporeer. Die reeks oor die bruid van Christus was anders. Ek het ’n swaard geneem, ‘n klomp foto’s van my dogters geneem, tien skilderye geskilder en toe bypassende Skrif vir die skilderye gaan soek.

Moenie wag nie
Ilse het die idee vir die Psalm 139-skildery gekry drie maande voordat Johannes aangeneem is. Ilse se ma werk by Shiloh, wat in arm gemeenskappe werksaam is. Toe sy in Januarie vinnig by die kantoor gaan inloer, vertel die skoonmaker dat daar oorkant haar ’n tikverslaafde ma met twee kindertjies woon: ’n seuntjie (Johannes) drie weke oud en sy sussie agtien maande oud. Die dogtertjie leef van suikerwater. Wil hulle nie iemand stuur om te gaan kyk nie, die kindertjies lyk sleg. Ilse en haar ma is na ’n vroutjie met ’n ‘safe house’ omdat sy sou weet wat om te doen. Omdat dit naweek was, het hulle besluit om die welsynsdienste die Maandag te nader, maar Ilse se ma was onrustig en het gevoel die Heilige Gees sê hulle moet nou gaan; hulle kan nie wag nie.
“ ‘n Paartjie wat saam met my ma werk, het gaan ondersoek instel en toe hulle Johannes optel, val sy kop agteroor en rol sy oë om, só gedehidreer was hy. Die dokter het gesê Johannes sou twee uur later dood gewees het. Hy sou nie die nag nie oorleef het nie.

Julle sal ’n seuntjie hê
“Charlotte Cronk het 15 jaar gelede oor ons geprofeteer dat ons ’n seuntjie ook sal hê, maar Drikus wou niks hiervan weet nie, toe ek destyds gesê het ek wil ’n seuntjie aanneem, het Drikus net gelag. Toe ek Johannes daardie aand sien, het ek geweet hierdie seuntjie is myne, maar God sou in Drikus se hart moes werk.
“Ek het ’n Woord gekry dat God “die koning“ se hart sal sag maak. Ons hele gesin het op die vyfde dag vir Johannes in die hospitaal gaan kuier om kleertjies vir hom te vat. Toe ek hom optel, raak dit stil. Ek, my dogters en my ma begin huil, Drikus is doodstil. My man het sy eie unieke sin vir humor. Toe ons gaan koffie drink, sê hy: ‘Jy moet nou kies; óf die honde óf die seuntjie.’ Natuurlik het ons Johannes én die honde en Drikus is Johannes se held.” Ilse se lewe, gesin en kuns spreek van die ryk genade en liefde van Jesus wat oorvloedig en onvoorwaardelik oor elkeen van Sy kinders uitgegiet word.

Ilse se werk is aanlyn te sien en te koop by www.artofkleyn.co.za Kontak haar by 021 981 4630 of ilse@artofkleyn.co.za