
In een episode van ’n ouer Amerikaanse sepie, ‘The King of Queens’, besoek Doug en sy vrou sy ouers. Hulle vier dan sy hond, Rocky, se 28ste verjaarsdag. As Doug wonder hoe Rocky dit reggekry het om so oud te word, erken Doug se ouers dat hy eintlik al ’n paar keer vervang is met ’n hond wat presies soos die eerste Rocky lyk.
Om die waarheid te sê, hulle trek nou al by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.” Hierop vra sy vrou verbaas: “What do you do with the truth, then?”
“We sweep it under the rug, where it belongs!” antwoord sy. Toe besluit hulle almal daar is net een Rocky en hy is 28 jaar oud.
Godsdienstige matte
Deesdae word party Bybelse waarhede ook sonder omhaal onder die mat ingevee. Party mense hou nie van ‘ongemaklike waarhede’ of ‘lastige waarhede’ nie. Die Evangelie moet vir hulle sag op die oor val. Niemand moet aanstoot neem nie. Daarom dat daar tans soveel godsdienstige matte in die omtrek is waaronder die waarheid weggesteek word.
Geestelike brandblusser
’n Rukkie gelede moes ek iewers ’n reeks dienste hou. Ná afloop daarvan het een van die leiers my laat weet dat hy ’n klompie vure in die kerk moes doodslaan. Party mense het gevoel die Evangelie is darem net te reguit en dit het hulle ongemaklik gemaak. Ek was verstom. Ek het gewonder of ek nie dalk ’n brandweerbalkie vir hom moes koop as die ‘geestelike brandblusser van die jaar’ of so iets nie.
Bedagsaam teenoor ander
Irrelevansie wen wanneer die Bybel ‘sagter’ word as wat die Here dit bedoel het om te wees. Nog erger, in so ’n konteks gaan mense ongestoord verlore! Wag, voordat jy my verkeerd verstaan, ek bepleit nie ’n ongeskikte, liefdelose uitleef van die Evangelie nie. Paulus roep ons juis ’n paar keer op om bedagsaam teenoor ander mense te wees.
Ons mag nie taktloos met sogenaamde ‘reguit’ woorde bo-oor ander mense stoomroller nie. Maar, aan die ander kant mag ons ook nie ‘people pleasers’ word met ’n ‘askies-dat-ek-vir-Jesus-leef-houding nie.
Heilige drang
Ek het agtergekom die verskil tussen mense wat die waarheid liefdevol uitleef en diegene wat meen hulle is voltyds in die Here se geheime diens, kan in een woord opgesom word: dringendheid! Duideliker gestel, mense wat begryp dat hulle voltydse navolgers van Jesus is, het ’n heilige drang in hulle harte. Dit veroorsaak dat hulle daag-liks kortpad kies agter hulle Meester aan. Hulle loop aanhoudend saam met Hom in die rigting van nuwe verhoudings en ge-nesende dade!
’n Diep rusteloosheid
Deur Sy Gees plaas God ’n diep rusteloosheid in elkeen wat Hom ken. Dit word óf aangewakker óf deur onsself onderdruk. Wanneer ons toelaat dat die Gees ons rusteloos maak oor al die onreg, goddeloosheid en verlorenheid rondom ons, kan ons eenvoudig nie stilsit of dit aan ander oorlaat om iets te doen nie.
Nee, dan moet ons elke aand voor sla-penstyd iets in Jesus se Naam aanpak om die wêreld andersom te laat draai; moet daar vandag nog vir mense in nood gebid word en moet daar voor sonsaktyd ’n stukkie brood vir hongeriges uitgedeel word. Dan moet daardie matte waaronder ‘ongemaklike waarhede’ ingevee word, uitgeskud word voordat die son dalk vanaand oor die waarheid sak.
‘Bo-op-die-mat’-liefde
Ons het net een dag tot ons beskikking om aktief én aktueel vir die Here te leef. Daardie dag se naam is vandag! Die regte dringendheid vir vandag is daardie soort wat tegelyk rus en rusteloosheid in ons eie harte bring. Dringendheid dryf ons vandag na God toe o