Die hele land is dus aangegryp toe dit vroeër vanjaar bekend geword het dat hy sy stryd teen die ‘groot –K’ gewonne gegee het.
JUIG! het met Lize, die vrou wat hierdie bitter moeilike pad van hartseer, vreugde, vrees, maar ook oorwinning, tree-vir-tree saam met hom gestap het, gesels. Deur hierdie onderhoud word hulde gebring aan ‘n paartjie wat hierdie pad end-uit as getui¬es vir Jesus gestap het.
LIZE, TOE RUBEN DIE EERSTE KEER GEHOOR HET HY HET KANKER, WAT WAS JULLE ALBEI SE REAKSIE DAAROP?
In 2000 het Ruben tydens ‘n rugbywedstryd op die veld inmekaar gesak en is onmiddellik in die hospitaal opgeneem. Tydens die MRI-aftasting is ‘n gewas op sy brein ontdek. Binne een enkele minuut is ons lewens ver¬ander. Dit het gevoel asof iemand ‘n groot spieël waarop al jou drome neergeskryf is, op die vloer stukkend gooi en jy skielik jou eie sterflikheid in die oë kyk.
Ons wou nog so baie dinge doen – ons wou reis, ons wou kinders hê en ewe skielik moes ons ander keuses maak! By tye het die vrees my verlam, maar Ruben, wat altyd eerste aan my en ander gedink het, het my eendag vasgehou en gesê hy gaan dit ‘fight’ met alles wat hy het en dat ek nie bekommerd moet wees nie. Alles sou reg uitwerk.
WAT HET JULLE GELOOF IN JESUS VIR JULLE GEDURENDE HIERDIE JARE BETEKEN?
Ek sê baie keer dat ek nie weet hoe enigiemand ‘n emosionele trauma sonder Jesus kan oorleef nie! Ek dink dit is wat die Bybel in 2 Kor 1: 3-4 sê, dat God ons in alle omstandighede bemoedig, en daarvan kan ek getuig!
Jesus was vir ons in daardie tye Hoop, maar ook ‘n groot bron van Liefde. By tye het ek gevoel my hart kry letterlik seer, so lief het ek vir Ruben. Ek weet dit was Goddelike liefde. Daar was regtig in 10 jaar geen plek vir baklei in ons lewens nie. Ek het Ruben bewonder en hom geëer – hy was die koning in ons huis.
HOE WAS JULLE GELOOFSLEWE VOORDAT KANKER BY RUBEN GEDIAGNOSEER IS?
Ons was baie gelukkig, want ons altwee het in Christen-huise grootgeword. Christenskap kan dikwels net ‘n blote woord ook wees en ek glo dit was in hierdie tyd dat ons geloof soms tot die uiterste toe getoets is. Ons het altyd kerk toe gegaan, maar ek besef nóú ek het nooit God se hart geken nie.
Hy was goed genoeg vir my gedurende slegte tye, maar as dit goed gegaan het, was Hy nie eintlik deel van alles nie. Ek het ge¬weet Wie Hy is, maar ek het nie ‘n verhou-ding met Hom gehad nie. Ek onthou hoe ek dae omgebid het dat God sommer net die ‘ding’ moes wegvat sodat ons tog net met ons lewens kon aangaan. As Hy dit dalk vinnig weggevat het, sou ek nie wees wat ek vandag is nie. Op 7 Januarie 2001 het Jesus in ‘n droom aan my verskyn. Hy het letterlik langs my bed gestaan en gesê Hy is getrou, ons moet Hom vertrou. Hy het gesê ons moet die wapenrusting van God aantrek (Ef 6:11) en Sy Woord lees. Die droom was so dúídelik. Hy het ook gesê Ruben sal ‘n 7-jaar-genadetyd beleef, maar daarna sal hy teen die siekte moet baklei. Ons moes toe besluit of ons kinders wou hê, of nie. Ons het lewe gekies en besluit om elke dag te leef asof ons ‘n toekoms het en bewustelik nie toegelaat dat klein teleurstellinkies ons aftrek nie.
WAT WAS JUL PERSOONLIKE ON¬DERVINDING VAN JULLE BESOEK AAN NIGERIË, VERAL GE¬SIEN IN DIE LIG VAN DIE VER¬SKIL¬LEN¬DE UITSPRAKE OOR T.B. JOSHUA EN DIE SEKULÊRE MEDIA WAT DINGE TOTAAL UIT VERBAND KAN RUK EN ‘N BESPOTTING VAN GOD EN SY WONDERWERKE MAAK?
Ruben het baie vir mense gesê hy is in Nigerië genees. As hy van genesing gepraat het, het hy nooit van fisieke genesing gepraat nie, maar geestelike genesing. Sy lewe het dramaties verander na dié besoek.
HET JY ENIGE TROOSWOORDE VIR MENSE WAT AAN KANKER LY OF OOK IEMAND KEN WAT DAARAAN LY?
Die persepsie dat jy in sulke tye Godverlate voel, is so algemeen, maar so onwaar. Een van die grootste lesse wat ek geleer het, is dat God jou nooit verlaat nie; al gaan dit ook hoe sleg. God is altyd daar vir jou. Ek kan egter onomwonde sê dat die liefde die dood oorwin en dat God alléén die Een is wat in die betrokke omstandighede vrede en berusting kan gee wat alle verstand te bowe gaan.
SOVEEL PROMINENTE SPORTSTERRE BELY JESUS DEESDAE OPENLIK. WAS DAAR ENIGE VAN HULLE WAT JULLE IN DIE MOEILIKE TYE BYGESTAAN HET?
Ek het werklik ervaar dat mense God se hande en voete op aarde is. Ons vriende was só goed vir ons – hulle was nie net betrokke gedurende die laaste maand van Ruben se lewe nie. Hulle was altyd daar! Kos aangedra, selfs vir my kinders skoolklere gekoop. Een persoon wat ek kan uitsonder, is André Venter. Hy het deurentyd onder¬steun, vanaf Bloemfontein gery om te kom kuier en te bemoedig. Hy en sy vrou, Lizelle, was soos twee engele!
SOMMIGE MENSE HET RUBEN KWALIK GENEEM DAT HY NIE VIR OPVOLGBEHANDELING WOU GAAN NIE. HOEKOM WOU HY NIE GAAN NIE?
Ruben het altyd gesê hy sal vir opvolgbehandeling gaan as die Here dit vir hom wys. Die gemiddelde persoon, gediagnoseer met ‘n gewas so groot soos Ruben s’n, leef net vir twee jaar. Ruben het tien jaar geleef! Ek persoonlik glo aggressiewe behandeling sou niks aan die situasie verander het nie – God het dan ‘n 7-jaar-genadetyd beloof!
NOUDAT RUBEN BY DIE VADER IS, WORD JY DEUR FAMILIE, VRIENDE EN DIE KERK ONDERSTEUN? HOE BELANGRIK IS STEUN VIR DIE WAT AGTER BLY?
Die kerk, Past. At Boshoff en sy vrou, Nyeretta, is wonderlik. Hulle het my al twee keer weggestuur met vakansie sodat ek net alleen saam met die kinders kon wees. Dit het wondere vir ons gedoen. My broer is baie betrokke by Zoë en Isabella. Hy is hulle tennisafrigter en hulle sien hom elke dag.
My ma is soos ‘n rots – sy is 79 en soos ‘n tweede ma vir my kinders. My vennoot, Arette en my buurvrou, Berna, ag, daar is net te veel om te noem! Dit is die mense wat ek 24/7 kan bel en, al bly ek stil, nog steeds verstaan! Hulle is my engele op aarde!
HOE HET ISABELLA EN ZOË RUBEN SE SIEKTE EN AFSTERWE HANTEER?
Ons het vir ses maande voor Ruben se dood ‘n Bybelstudie oor die Hemel met hulle gedoen. Ek het alle Skrifverwysings oor die Hemel gevat en hulle probeer leer hóé die Hemel lyk. Hulle was ook baie bewus daarvan dat Ruben baie siek was en dat hy dalk mag doodgaan. Toe ek hulle die oggend na Ruben se dood roep en vertel dat Pappa huis toe is, was Zoë se eerste reaksie dat dit die wonderlikste nuus is wat sy nog ooit gehoor het! Sy het dadelik haar skoolklere aangetrek en gesê sy wil haar juffrou gaan vertel. Isabella wou net weet of Pappa nou sy huis in die Hemel gekry het en of ‘n Engel hom weggedra het. Dood en Hemel is vir hulle ‘n werklikheid!
WATTER MOOI DINGE ONTHOU ZOË EN ISABELLA VAN HUL PA?
Zoë: Pappa het altyd ‘gesmile’ vir ons en hy was altyd daar – dag en nag. Ek kon in sy groot arms spring en het geweet hy sal my teen die hele wêreld help! Hy het orals in sy bakkie rondgery en ek kon elke aand in sy arms aan die slaap raak. Ek is bly hy is in die Hemel, want ek weet nou het hy nie meer seer nie. Ons gaan hom weer eendag sien, ons moet net eers ons werkies hier op aarde klaarmaak!
Isabella: Pappa het my altyd opgetel en soos ‘n prinses op sy nek gedra. Hy was baie lief vir my en hy’t my getroos as ek seergekry het. Hy kon al my speletjies speel en ek het hom altyd gewen! Hy was baie sterk en ek dink Pappa lyk soos Jesus!
HOE SIEN JY DIE DOOD? EN HOE SIEN GOD DIT?
In menslike terme is ons grootste vrees die dood. Dit is onbekend en so finaal. Ek het egter deur hierdie hele proses my vrees vir alles in die lewe verloor. Tog sê die Bybel dat die dood van Sy kinders vir Hom geen ge¬ringe saak is nie, maar God weet dat die heerlikheid wat op ons wag as ons deur die Hemelpoorte gaan, alle verwagtinge gaan oortref. Ek dink ook God wil hê ons moet léwe terwyl ons op aarde is om ons skeppingsdoel te vervul.
HOE HELP JY DIE KINDERS OM RUBEN SE DOOD MAKLIKER TE VERWERK?
Ons praat baie oor Ruben. Ek herinner hulle daagliks aan wat hy in sekere situasies sou doen – in ‘n mate is hy nog altyd deel van ons lewens en hy sal altyd hier wees.
Een aand sê Zoë vir my sy verstaan hoekom Pappa by Jesus is, want sy werkie op aarde was klaar, maar ons drie het nog werkies oor om vir Jesus op aarde te doen.
WAT IN JOU HET ALLES VERAN¬DER NA RUBEN SE DOOD? HOE ERVAAR JY NOU DIE LEWE?
Alles het verander! Eers het ek na musiek geluister, nou hóór ek musiek. Ek het ook besluit om gelukkig te wees terwyl God my nog spaar. Dit voel vir my of daar regtig nie genoeg ure in die dag is nie.
Ek wil nooit in my lewe weer oor onbenullighede stry of baklei nie en ek waardeer so baie dinge in die lewe. Ek wil die wêreld vertel van God se goedheid en liefde en, soos daar in Jesaja staan, my man geword het en letterlik vir en my kinders sorg – elke dag! Vir die eerste keer kon ek nou onlangs vir iemand sê, nadat ek gevra is of die lewe sonder Ruben ondraaglik is, dat ek hom nooit, selfs as ek die keuse moet hê, sal wil terugbring nie.
Al moet ek en my kinders nog ‘n harde pad stap, gun ek hom die vrede met die wete dat hy nou in God se teenwoordigheid lewe.
WATTER MOOI GEDAGTES KOESTER JY OOR RUBEN?
Ek en Ruben was baie gelukkig. Hy het in die 23 jaar wat ek hom geken het, nooit één lelike woord oor, of vir, my gesê nie. Dit het my vlerke gegee. Hy het sy identiteit in Christus geken, was stil en sterk, maar baie sag teenoor my en die kinders.
Hy sou sy lewe vir ons gee. Ongeveer twee weke voor sy dood het ons vyfuur die oggend sit en cuppacino drink, hy het my hand gevat en in ‘n hees stem gesê hy besef hoe lief ek hom het. Dié woorde is genoeg om my vir ‘n leeftyd te dra.
WATTER BOODSKAP, DINK JY, SOU RUBEN GRAAG AAN AL SY VRIENDE EN AANHANGERS WOU GEE AS HY ‘N LANGER TYD OP AARDE GEGUN WAS?
Lewe voluit en wees lief vir mekaar – die liefde is die enigste iets wat jy saam met jou kan neem die dood in, want God is liefde. Dan het die dood geen angel meer nie!