
VINNIGE FEITE: PROF. PIET STRAUSS
• Waar gebore en grootgeword: In 1951 in Bethlehem in die Vrystaat gebore en in Lydenburg en Reitz grootgeword.
• Getroud: Ria van Rensburg in 1975.
• Kinders: 4 eie kinders (3 seuns, 1 dogter) en 4 pleegkinders. Lg. se ouers is oorlede en hulle het by ons ingewoon. Al 8 is reeds uit die huis.
• Studeer aan: Die Universiteit van die Vrystaat en Universiteit van Pretoria.
• Stokperdjies: Sport (7 silwermedal¬jes in die Comrades) en geskiedenis.
• Ontspanning: Gim.
Hierdie konferensie is onder andere bygewoon deur Prof. Piet Strauss, Dr. Dirk Herman, Dr. Jeanette de Klerk-Luttig, Dr. Danny Titus, Moss Ntlha, Tim du Plessis, Dr. Mario Denton, Buhle Dlamini, Dr. Chris Jones en Dr. Johan Smith, om maar enkeles te noem. Ek het die kans gehad om tydens die konferensie met Prof. Piet Strauss (die moderator van die N.G. Kerk se Algemene Sinode) te gesels en te hoor wat sy gedagtes en oortuigings t.o.v. moraliteit is.
Ons weet dat SA op die oomblik met ‘n ernstige moraliteitskrisis sit – die voor¬beelde is legio. Wat behoort die kerk te dóén om die gebrek aan moraliteit teen te werk?
Ek stem saam dat SA ‘n moraliteitskrisis het. Een kerkleier sê dat ons op die rand van ‘n afgrond staan wat dié saak aanbetref. Die kerk kan, en móét optree deur die Woord en Christelike moraal te verkondig en in eie geledere te handhaaf. Die kerk moet ook konkreet, prakties en reguit praat sonder om fundamenta¬listies te raak. Die kerk kan soms ‘wollerig’ raak wat dit betref – dit is nodig dat die kerk weer op voetsoolvlak betrokke raak en seker moet maak dat die Woord geken en uitgeleef word. Die groot skares wat Angus Buchan trek, illustreer die noodsaak hiervan.
Dit wil voorkom asof die probleem (moraliteit) aangevuur word deur die li-berale teologie van die dag. Ons kry bv. die ‘ou-skool’-teoloë wat sonde by die naam noem en dan is daar diegene wat die saak eers wil ondersoek, of daaroor debateer. In die NGK is daar verskeie li¬berale stemme wat opgaan wat sekere dinge, soos ‘saamleef’ of homoseksualisme, goedpraat. Die Bybel is duidelik daaromtrent: Matt 12:25 sê dat ‘n huis wat teen homself verdeeld is, nie kan staan nie. Wat is u standpunt hieromtrent?
Verdeeldheid oor morele sake kortwiek die kerk. Dis belangrik om te onthou dat nie almal in bv. die NG Kerk namens die kerk praat nie. Die NG Kerk praat deur sy vergaderings, soos die Kerkrade en die si¬nodes – nie eens deur taakspanne en kommissies nie. Laasgenoemde se voorstelle dra eers kerklike gewig as ‘n kerkraad of sinode die saak ‘amptelik’ goedgekeur het. Die kern van die Algemene Sinode se be¬sluite oor die huwelik en homoseksualiteit is Bybels reg naamlik dat die huwelik net vir een man en een vrou is en dat seks nét binne die huwelik tuishoort. Soms word besluite só geformuleer dat dit eenheid te midde van verskille soek, maar dit kan ek verdedig.
Wat is die NGK se standpunt t.o.v. ‘n geskeide predikant?
Die NG Kerk het ‘n artikel in sy kerkorde wat bepaal dat ‘n predikant net by hoë uitsondering na ‘n egskeiding kan terugkom. Die saak moet in sy geheel ondersoek word en nie kasuïsties (as opsigselfstaande gevalle) hanteer word nie.
Kerklike tug – soos enige ander regverdige ondersoek – kyk ook na die omstandighede. Vir die NG Kerk bly die huwelik kosbaar en belangrik. Ons weet dat egskeiding ‘n wolk oor die betrokke predikant se bediening plaas, maar die kerk moet, in die lig van die Bybel, reg én daarom menslik, optree.
Dit wil voorkom asof daar ‘n besliste leemte is t.o.v. Christene wat hulle teen sake soos prostitusie, aborsie, ens. uitspreek. Dit wil voorkom asof slegs Dr. Peter Hammond en Errol Naidoo bereid is om iets daadwerkliks te doen. Is daar werklik geen sterk Afrikaner Christenleier wat bereid is om standpunt in te neem nie? Wat is u siening hieromtrent?
Ek dink die NG Kerk praat gedurig en so hard as moontlik oor samelewings¬kwessies, maar mense wat nie gereeld koe¬rante lees of radio luister nie, hoor dit nie. Soms het die NG Kerk ook ‘n stem op TV. Ons het ook al baie duidelik gepraat saam met die ander Afrikaanse gereformeerde kerke en kerkleierforums in SA. Intussen is ons standpunte oor ouer kwessies, soos aborsie en prostitusie, wyd bekend. ‘n Mens praat egter uit die aard van die saak, nie elke dag oor alles nie.
Ons vind dit moeilik om met kerkleiers kontak te maak wat bereid is om antwoorde en leiding te gee aan mense wat werklik leiding nodig het. Sommige prominente kerkleiers het ons al duidelik laat verstaan dat hulle nie kontroversieel wíl wees nie, dat hulle nie bereid is om standpunt in te neem nie. Wie kan ons skakel oor sekere kontroversiële kwessies?
Daar is al gesê dat grootpraat en oorgee of skiet en hensop maats is. Ek wil julle nooi om ons te kontak. Ek is bereid om op vrae te antwoord as die waarhede gebou op die Bybel as die Woord van God, op die spel is.
Wie beheer die Teologiese Fakulteite?
Die instansie wat namens die NG Kerk oor ‘n Teologiese fakulteit toesig hou, is die kuratorium. ‘n Kuratorium is ‘n kerklike kommissie wat deur die betrokke sinodes aange¬wys is en bestaan uit predikante wat deur die onderskeie ringe aangewys word om op die ‘Raad van Toesig’ te dien.
Wat is die amptelike standpunt van die NG Kerk t.o.v. evolusie? Word die Bybel nog onvoorwaardelik as die Woord van God aanvaar?
Ek dink nie die NG Kerk het al ooit ‘n standpunt hieroor geformuleer nie. Die gesag van die Bybel is breed aanvaar. Met die huidige omstredenheid kan daar moontlik nog iets van kom. Ek persoonlik glo aan die Bybelse Skeppingsleer met God-Drieënig as Skepper van die hemel en aarde. Ek dink egter dat daar binne die soorte van plant, dier en mens sekere evolusionêre veranderinge kan plaasvind. Daar is egter geen bewese sprake van die ‘spontane’ oorgange tussen die soorte soos die konsekwente evolusio¬niste beweer nie.
Dooie fossiele kan dit nie bewys nie. Konsekwente evolusie is uiteindelik ‘n (by-) geloof met bewerings wat nie behoorlik gestaaf kan word nie. Om te beweer dat God die ‘big bang’ gebruik het om alles op mekaar te laat volg, impliseer dat die skepping binne die tyd plaasgevind het waarin dinge op mekaar volg, en dit terwyl God tyd geskep het. Die minute het eers na voltooiing van alles begin tik. Daar mag mense wees wat anders dink, maar my voorouers was nie ape nie!
Laastens – watter boodskap het u vir die Kerk van Jesus Christus in Suid-Afri¬ka van¬dag?
Die Kerk sal alleen sy roeping uitvoer – ook in Suid-Afrika – as hy die Woord verwoord en prakties uitleef in sy eie geledere. Die Kerk eerbiedig die gesag van sy enigste Hoof, Jesus Christus, as hy die Woord met sy Boodskap en die volle im-plikasie daarvan eerbiedig. Die Kerk bestaan egter nie uit volmaakte mense nie, maar – hoogstens – geredde sondaars. Dit blý ons tot die dag dat ons sterf.
Ons moet dus ons foute bely en weet dat ons uit God se Genade leef. Mense wat God se Genade ken, het empatie met mekaar en verstaan iets van die tra¬giek van ‘n wêreld sonder God. Genademense kan God se lied van die liefde in 1 Kor 13 sing. God is ons énigste hoop vir die 21ste eeu – ook hier in
Suid-Afrika.