
Ons lees in 2 Kor 12:7 dat God vir Paulus “’n doring in die vlees” gegee het. Daar is baie bespiegelinge oor presies wat Paulus se doring in die vlees was. Die eenvoudige antwoord is dat ons nie weet nie. Dit mag wees dat Paulus hier na iets fisiek verwys, of dit kan iets wees wat geestelik was. Ongeag van wat dit was, dit het ’n geestelike effek op sy lewe gehad.
Dit is uiteindelik egter belangriker om te verstaan wáárom God dit nodig geag het om vir hom ’n doring in die vlees te gee en wat die effek daarvan in sy lewe was.
God gee die doring
In vers 1-6 vertel Paulus hoe God Homself op buitengewone wyse aan hom, Paulus, openbaar het. Dit kon maklik daartoe lei dat Paulus te veel van homself kon dink a.g.v. sy kennis oor God, sy kennis oor die dinge van God, die krag van God in sy lewe en ook die vrug op sy bediening. Hy skryf dat God hom ’n doring in die vlees gegee het “sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie” (v7) en “omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie” (v6).
Dit sou nie verkeerd wees om te sê wanneer daar besliste seën en vrug in
iemand se lewe is, soos bv. in Paulus se geval, God altyd vir so ’n persoon ’n doring in die vlees sal gee nie.
Dit sou ook nie verkeerd wees om te sê dat wanneer God besig is om
iemand vir ’n lewe van krag en geestelike vrug voor te berei, hy daardie persoon ’n doring in die vlees kan gee nie. Wanneer ons na die lewens van manne en vroue kyk op wie se lewens daar vrug was (bekendes en ook minder bekendes), getuig almal van hulle, sonder uitsondering, dat hulle persoonlike ervaring van so ’n doring in die vlees het.
Die doring kom in baie vorme
Hierdie doring in die vlees kan in baie vorme kom: siekte of swakheid, ’n gebroke verhouding, slegte werksomstandighede of slegte lewensomstandighede, ’n voordurende gebrek aan fondse, ’n vernederende situasie, die spesifieke roeping en opdrag wat God vir jou gee wat jy nie verkies nie, ’n beroep waarvan jy nie hou nie, ’n persoonlike vyand
(iemand wat die lewe vir jou moeilik maak), ’n persoonlikheidseienskap (bv. introversie) of ’n innerlike geestelike stryd.
Daar kan emosionele pyn en verbittering oor iets wees wat in die verlede gebeur het en waarmee jy sukkel om oorwinning te kry, of ’n stryd met onvergewensgesindheid oor ’n onreg wat jou aangedoen is. Dit kan moeilike familie- of gesinsverhoudings wees waarvoor daar oënskynlik net geen oplossing is nie.
God se Genade is genoeg
Ons hoor dikwels dat alles deur gebed vermag kan word. Paulus het drie keer oor sy doring in die vlees gebid en tog het God dit nie weggeneem nie. God se doel daarmee was om enige vorm van hoogmoed en elke moontlike vorm van belangrikheid of gevoel van superioriteit by hom te verhinder.
God wou vir Paulus leer dat Sy genade vir hom genoeg is en dat sy hemelse gesigte en buitengewone ervarings hom nie geesteliker maak nie.
Hierdie doring in die vlees het onder meer beteken dat God hom “’n boodskapper van Satan [gegee het om hom] met vuiste te slaan” (v7) en daarmee saam “swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede” (v10).
As ek swak is, is ek sterk
Ons moet egter let op ‘die vrug’ wat die doring in die vlees in hom tot gevolg gehad het. Dit het hom swak gemaak. Paulus skryf dat hy in sy ‘swakheid’ sal roem, want God sê Sy genade is vir hom genoeg en dat God se krag juis tot volle werking kom wanneer Paulus swak is (v9). Paulus se slotsom oor die doring in die vlees is: “want as ek swak is, is ek sterk” (v10).
Verlang jy daarna dat God jou kragtig sal gebruik? Weet verseker dat daar “’n doring in die vlees” na jou toe op pad is. Laat ons nie ‘n “doring in die vlees” vermors nie.
-Bennie Mostert