Morne En Christelle Steyn – Leef Jesusgerig!

Morne Steyn sou 2012 waarskynlik so gou as moontlik wou vergeet as hy kon. Van Suid-Afrika se gunsteling rugbyspeler in 2009, die held van die dag met ’n skopskoen wat net niks verkeerd kon doen nie, tot 2012 toe hy deur sy eie bewonderaars uitgejou is.
Niks wou vir hom reg loop nie. Hy het belangrike skoppe gemis en is vir die Springbokke se nederlaag teen die All Blacks in Dunedin geblameer. Mense, soos vorige bokafrigters en aanbieders van sportprogramme, het Morné se seleksie vir die Springbokspan bevraagteken. In September 2012 is hy uit die Springbokspan weggelaat. Aanmerkings in die pers was snedig en venynig.

Komkommerkoel onder druk
Morné Steyn se sterloopbaan het afgeskop toe hy Ruaan Pienaar tydens die 2009 Britse Leeus-toer vervang het. Een van sy skoppe was ’n reusagtige 53 m ver, oorgeklits in die laaste paar minute van die wedstryd en het die toetsreeks op dramatiese wyse beklink. Die Springbokke het ook die All Blacks in 2009 tydens die Drienasies-reeks met ’n telling van 31-19 gewen, waarvan Steyn al Suid-Afrika se punte aangeteken het met agt strafskoppe en ’n verdoelde drie. Dit is steeds die rekord vir die meeste punte deur ’n individu aangeteken gedurende ’n Drienasies-wedstryd.
Dit blyk dat 2013 ’n baie beter jaar vir Morné is en weer eens verdoel hy komkommerkoel kritieke skoppe onder groot druk. Hierdie bewonderenswaardige en Christelike eienskap is kenmerkend van hom. Vroeër die jaar is daar aangekondig dat hy ’n aanbod van Stade Francais aanvaar het om in Frankryk rugby te speel. Ons het by Morne en sy vrou gaan inloer voordat hy in Oktober na Frankryk vertrek.

Druk en verwagtinge van die publiek
Suid-Afrikaners is passievol oor hulle rugby en vergeet soms onder watter druk hierdie sportmanne verkeer. Ondersteuners vergeet soms dat hulle helde mense is wat faal en foute kan maak. Die druk kan ontsaglik wees en dit is waarom sportmanne werklik nodig het om op Christus te vertrou.
“God het my die kans gegun om my drome te bewaarheid. Wanneer ek op die veld uitdraf, maak ek seker dat ek 100% gee. Ek doen dit in erkenning aan God en dat ek vir Hom lewe.
Ek en Christelle wil doen wat God behaag; ons is nie eerstens hier om mense te ‘please’ nie. Ons maak seker ons groei in God deur persoonlike stiltetyd te hou, gereeld kerk toe te gaan en aan ’n selgroep te behoort. By die ‘Bulls’ het ons ook ’n sterk ondersteuningstruktuur tussen die spelers. Ons kom gereeld vir Bybelstudie bymekaar en bid saam. Of dit nou deur ’n kerk of Bybelstudie is, is dit belangrik dat mens nie die lewe alleen probeer aandurf nie.”

God se perspektief
“Ek glo absoluut in hierdie teksvers: “Vertrou op die Here met jou hele hart, dan sal Hy jou paaie gelyk maak” – veral in my sport en werk waarby ek betrokke is. Omdat ek ’n verhouding met die Here het, plaas dit die talent waarmee ek geseën is in perspektief. Ek het dit ontvang om al die glorie aan Hom terug te gee. Dit is wat my motiveer om elke keer 100% te gee.
Mense het die persepsie dat professionele sportmanne oor alles beskik wat hulle nodig het. Die realiteit is dat ons niks kan saamneem wanneer ons hierdie aarde verlaat nie. Dit maak my hartseer om te sien hoe mense afgode najaag en hoe onbelangrik God in hulle lewens word.”
Impak op Christelle
“Met Morne wat baie weg van die huis af is, is daar lang tye wat ons nie bymekaar is nie. Wanneer hy terug is, bestee ons soveel tyd moontlik saam. Die oorsese toere beteken dat Morne vir tot vier weke op ’n slag weg is en dit is ’n bietjie rof, want ek verlang baie na hom. Dan maak ek die beste van die situasie en gaan kuier vir ons ouers in Bloemfontein. Dit kan alleen word, maar Jovan, ons seuntjie wat op Morné se verjaardag gebore is, hou my aan die hardloop!Die ander uitdaging is die media. Wanneer Morné goed speel, is daar nie probleme nie, maar laat hom nou net een ‘af’ wedstryd hê, dan is daardie mense wat ’n week gelede sy lof besing het, dieselfde ouens wat teen hom draai. Ten spyte van al hierdie uitdagings kan ek altyd positief bly en Morné ondersteun, solank ek in die Here gewortel is.”

Morné se mentors
“My huidige mentors is my afrigter by die ‘Bulls’, Frans Ludeke, en Heyneke Meyer by die Bokke. Ek respekteer ook my skopafrigter, Vlok Cilliers, wat ’n toegewyde Christen is en met wie ek ’n hegte verhouding van die rugbyveld af het. Ons is saam by ’n organisasie, ‘Water4Good’ betrokke, waar ons klinieke vir skopafrigting hou en gholfdae reël om geld vir liefdadigheid in te samel. As ’n kind van God glo ek dat Hy ons seën om ’n seën vir ander te wees. Daar is geen verskoning vir ons nie. Jesus het gesê: “Wie dit aan die minste van hierdie gedoen het, het dit aan My gedoen.”

Sy inspirasie
“Christelle inspireer my met alles wat sy doen. Bo en behalwe haar hulp met ‘Water4good’ het sy haar eie besigheid, sy sorg vir Jovan, en dan staan sy my nog in my veeleisende beroep by. Ek het haar lief vir die wonderlike vrou en ma wat sy is en omdat sy altyd dieselfde mens is. Wat jy sien, is wie sy is, daar is geen vals fronte nie.”

Advies vir jong rugbyspelers
Morné sê: “Geniet elke oomblik en gee altyd 100% in alle aspekte van jou lewe. Om soos ’n kampioen te kan speel, moet jy soos een oefen. Jy moet gefokus en gedissiplineerd wees in alle fasette van jou lewe. Glo my, daar is geen kortpaadjies om dit as ’n professionele sportman te maak nie. Ek hou van wat die ’n Amerikaanse basketbalafrigter, John Wooden, gesê het: “Talent sal jou tot op die kruin bring, maar dit verg innerlike karakter om jou daar bo te hou!” Die lewe op die kruin is nooit maklik nie; jy vind dit baie gou uit wanneer jy ’n slegte wedstryd gespeel het.”
Leef met jou oog op Jesus gerig
Vir my is my geloof in God en die liefde en ondersteuning van my familie en vriende wat my anker. Dit, en die wete dat God se liefde vir my nooit verander nie, staan vas. Is dit nie goed om te weet dat niks ons van die liefde van God kan skei nie! Mense mag my teleurstel, hulle mag my selfs afskryf, maar God, nooit nie.
Die lewe en jou rugbyloopbaan is maar baie kort! Bou op wat altyd sal bly staan.”
-Myan Subrayan