Galasiërs 5:13-26 “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie (OV: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie).
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (OV: As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel). Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.”
In hierdie gedeelte word die verskil tussen die slegte en die goeie van die menslike gedrag baie duidelik uitgelig. Hy rig ’n uitdaging aan ons om volmaak te wees met die sondige natuur en sy hartstogte gekruisig. Paulus praat met ‘gewone’ mense: mense soos ons. Dit gaan nie hier oor uitstaande “geestelike” mense wat groot veldtogte hou, of mense wat almal ken vir hulle goeie hoedanighede nie.
Hoe kan ons dit doen? Deur te wandel deur die Gees! “Wandel” wys na die normale alledaagse lewe wat elkeen van ons lewe. By die werk, aan die universiteit, op skool, in ons besigheid, waar ons onsself ook al bevind. Ons sweef nie oor die aarde met ons koppe in die hemel nie. Dit beteken elke mens kan “wandel deur die Gees”. Dinge kan so anders wees as ons regtig deur die Gees wandel.
Die rede waarom daar so ’n verskil is, word toegeskryf aan die manier waarop “gewandel”, of soos ons normaalweg sou sê, “geloop” word. Om te loop is eintlik ’n voortdurende proses van val, veral as jy struikel. As jou een voet struikel, is die ander vinnig daar om te keer dat jy op die grond beland. So keer jou voete om die beurt dat jy val terwyl jy loop. Paulus verklaar dat die mens wat aan Christus behoort, anders loop as die ongelowige. Hy loop deur die Heilige Gees. Inderwaarheid beteken dit hy word deur die Heilige Gees regop gehou terwyl hy vorentoe beweeg. Met die ondersteuning van die Heilige Gees kan ons die lewe werklik reg leef. Hy stel my in staat om weg te bly van die verkeerde dinge.
Paulus verklaar in 1 Kor 2:10 “Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God.” Hiervolgens weet die Heilige Gees alles en kan Hy alles wat ons behoort te weet aan ons bekend maak. Hy is soos ’n goeie gids wat die goeie dinge in die lewe aan jou bekend maak. Hy stel jou ook in staat om in die regte rigting te beweeg waar jy in al jou doen en late voldoen aan die vereistes wat God tevrede stel.
Baie van ons geniet dit om in die natuur te wees, die voëls, plante, diere en buitelug waar te neem en te geniet. Indien jy vergesel word deur iemand met die nodige kennis wat jou meer van die omgewing en die dinge wat jy sien, vertel, word die ervaring net meer genotvol en waardeer jy dit wat jy sien, al hoe meer. Jy sien dinge raak waarvan jy voorheen nie bewus was nie, geluide maak skielik meer sin, reuke kry werklik betekenis, jy begin die groter prentjie raaksien en die insig bring waardering.
Ons bekering en voortgesette verhouding met God word deur die Heilige Gees bewerkstellig. Soos ons toelaat dat Hy ons oortuig van die verkeerde en dan ons lewe aan God wy, so moet ons voortdurend toelaat dat Hy ons ook verder lei. Om gelei te word, is om “deur die Gees te wandel”, en dit gebeur nie sommer so vanself nie. Dit is ons persoonlike keuse of ons gaan toelaat hoedanig ons deur die Gees wandel. Ons kan van tyd tot tyd saam met Hom loop, soos byvoorbeeld wanneer ons voor ’n belangrike keuse staan, of wanneer ons siek is, maar dan gaan ons maklik weer op ons eie aan. Ons loop dikwels eerder op ons eie of laat ons lei deur ‘n sigbare aardse metgesel.
Soos wat ’n goeie natuurgids jou in staat stel om die natuur werklik te waardeer, help die Heilige Gees jou om God se begeerte vir jou lewe te begryp en daarin te slaag om aan sy vereistes te voldoen. Baie dinge wat onverstaanbaar is, gebeure wat jou ontstel omdat jy nie kan verstaan waarom dit plaasvind nie, onbeantwoorde gebede, verhoudings wat nie wil vlot nie, word duidelik deur die leiding van die Heilige Gees wanneer ons saam met Hom wandel. Die ideaal is om nooit sonder God se “Gids” te wees nie. Ons kan dit bewerkstellig deur Hom doelbewus te volg. Ons dink soms dat hierdie intieme teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewe net vir ‘heilige’ persone soos predikante en nonne beskore is. Ons ‘gewone’ mense worstel maar op ons eie voort.
Ons kan net Sy stem hoor as ons op die plek is waar Hy met ons kan praat. Hy praat deur sy Woord, in die kerk deur die prediking, in die kleingroepbyeenkomste, tydens bidure, selfs tydens vergaderings, ja, elke keer as die gemeenskap van gelowiges byeenkom, is die potensiaal daar dat die Heilige Gees met ons kan praat. Elke geleentheid wat ons nie bywoon nie, is ’n geleentheid wat misgeloop is! Hy praat ook in ons binnekamer, op die hospitaalbed, wanneer ons stil word voor Hom, selfs in die motor. Deur met Hom te wandel, kry ons ’n geheelbeeld van sy plan met ons lewe, in die gemeente, in die gemeenskap. So word ons uitgedaag om betrokke te raak by Sy wêreld en werk. Ons besef ons is nie te gering om deur Hom gebruik te word nie.
Die vraag is egter: Hoe dikwels beleef ons hierdie leiding en waarom gebeur dit nie meer dikwels nie? Waarom voel dit asof ons maar op ons eie moet voortsukkel? Dikwels jaag ons ons gebedstye af, maak dit so kort as moontlik, bid net die noodsaaklike en ons hou nie regtig gemeenskap met Hom nie. Ons praat soms net met Hom, maar Hy praat nie altyd met ons nie, omdat daar net nie tyd is nie. Ons word onaktief, onbetrokke en krities, terwyl Hy ons wil aanwend en deel maak van sy groot plan.
Dit is moontlik dat ’n mens gered kan wees en tog nie alles verkry wat God vir ons bedoel het nie. Ons is geroep om deel te wees van God se werk hier op aarde. Ons lees daarvan in 2 Kor 6:1 “As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.”